Die RSG-aanbieder Ian Wessels is in die ouderdom van 60 oorlede.
Wessels, aanbieder van Regsake op RSG, is oorlede na ’n lang stryd teen kanker. Hy was veral bekend as aanbieder van die inbelprogram Loslip.
Wessels was ook ʼn skrywer en sy eerste boek, Loslippig, het in 2010 verskyn. Hy het ook as komediant en motiveringspreker opgetree.
Wessels het aan die Hoërskool Gimnasium in die Paarl gematrikuleer waarna hy BA LLB aan die Universiteit Stellenbosch studeer het. Hy het daarna as staatsaanklaer gewerk voor hy die hofsaal vir die mikrofoon verruil het.
Tydens sy loopbaan in die uitsaaiwese was hy ook op die bestuurspanne van Radio Helderberg en OFM. Hy het radio-advertensies geskryf en kon ook gereeld as stemkunstenaar gehoor word.
Wessels word oorleef deur sy vrou Liesl.
Huldeblyke stroom intussen in vir Wessels. “Jou lag uit die maag, jou warmte, omgee en natuurlik jou mooi, ryk stem gaan ek mis. Jy was ‘bigger than life’ op ’n goeie manier. Jy was bang vir niks en alles was ’n uitdaging en ’n avontuur,” het die aktrise Margit Meyer-Rödenbeck in ’n huldeblyk aan haar vriend geskryf.
Talle van Wessels se kollegas by RSG het ook hulde aan hom gebring.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
11 Kommentare
Vreeslik hartseer, hy het ‘n pragtige stem gehad. Ek was altyd so bly as hy ‘n ekstra skof gewerk het! Rus in vrede
Ons gaan jou mis!
So hartseer – daardie giggel lag van hom sal ek altyd onthou – sterkte aan sy vrou
Sy dood is ‘n groot skok.
Chris Noordkus, Rus in vrede, Saterdag aande nie meer dieselfde,sterkte Liesl