Ideesentrum Opinor bekend gestel

Barend Uys

Opinor, ’n ideesentrum met werksaamhede wat daarop gerig is om gemeenskappe in Afrika te bemagtig sodat hulle volhoubaar kan voortbestaan, is in Centurion bekend gestel.

“Opinor is opgerig om gemeenskapsgerigte planne, strategieë en beleid te ontwikkel en te bevorder deur geloofwaardige navorsing en innoverende kommunikasie wat aangewend kan word om gemeenskapselfstandigheid in Afrika te bevorder,” sê Barend Uys, uitvoerende hoof van Opinor.

“Ons wil deur waardetoevoeging gemeenskappe in staat stel om ’n beduidende verskil op voetsoolvlak te maak.”

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, is aangewys as die voorsitter van Opinor se direksie. “Wat Opinor van ander ideesentrums sal onderskei, is dat ons nie bloot bestaan om die stryd om idees te beïnvloed nie.

Ernst Roets

“Opinor se kernfunksie sal wees om navorsing te doen wat toegepas kan word deur instellings wat gemeenskappe se belange bevorder en wat hulle met die nodige kennis en insig toerus om tot aksie oor te gaan wat tot daadwerklike resultate lei. Opinor beoog dus nie om bloot met sy argumente te wen nie, maar om te wen met die dade wat uit sy argumente spruit,” sê Roets.

Opinor is verbind tot die subsidiariteitsbeginsel wat erken dat mense van nature sosiale wesens is en klem lê op die belangrikheid van gemeenskapsinstellings soos die gesin, die kerk en vrywilligerorganisasies as strukture wat die individu in staat stel om die gemeenskap te dien. Dit verbind die individu en die gemeenskap as ’n geheel aan mekaar.

“Opinor se vertrekpunt is dat mense nie vryswewende individue is nie, maar tot gemeenskappe behoort. ’n Mens se vertrekpunt en onderliggende aannames bepaal die oplossings wat ’n mens kan bedink, en hierdie vertrekpunt gaan ons in staat stel om oplossings te ontwikkel wat binne die werklikhede van Afrika en Suid-Afrika toegepas kan word,” sê Uys.

Opinor vul die leemte van ’n ideesentrum wat daarop fokus om gemeenskappe in staat te stel om self hul lewensomstandighede te verbeter, in teenstelling met die benadering van ander ideesentrums wat hoofsaaklik deur die beïnvloeding van regeringsbeleid ’n verskil probeer maak.

Besoek www.opinor.org.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frik ·

Goed en wel, maar gaan dit lei tot afstigting van hierdie bankkrot rioolplaas?

Petrus ·

Te veel fancy planne. Werk eerder vir afstigting. Dis al wat tel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.