Identiteit van Limpopo-ongeluk slagoffers binnekort bepaal

Argieffoto Foto: memyselfaneye (Pixabay)

Argieffoto Foto: memyselfaneye (Pixabay)

Die Limpopo-polisie het Dinsdag gesê DNS-toetse sal gedoen om die identiteit van die agt mense te bepaal wat Maandag onherkenbaar in ʼn gru-ongeluk verkool het.

Die agt mense is dood en talle ander beseer toe ʼn minibustaxi en Ford Fiesta op die D4100 naby Groblersdal gebots het.

Kol. Ronel Otto, woordvoerder van die polisie, het gesê die liggame is tans by die staatslykshuis in Groblersdal en reëlings vir die DNS-toetse is aan die gang. “Dit sal waarskynlik teen Donderdag afgehandel wees,” het sy gesê.

Die polisie wou nog nie die vermoedelike identiteit van die slagoffers bekendmaak voordat dit nie deur die DNS-toetse bevestig is nie. Die bestuurder en ʼn passasier in die motor is onder die oorledenes, terwyl die ander ses oorledenes passasiers in die taxi was. Agt ander is gehospitaliseer nadat hulle brandwonde opgedoen het.

Altesaam 25 mense het oor die Paasnaweek op Limpopo se paaie gesterf, minder as die 35 sterftes wat oor die 2015-Paasnaweek aangeteken is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.