Identiteitsbedrog ʼn kopseer vir regering

Foto ter illustrasie. (Foto: Eunice Stoltz.)

Die departement van binnelandse sake doen omvattende stappe om identiteitsbedrog te bekamp, maar dit gebeur tog dat mense se identiteit – en dus eintlik hul lewe – deur gewetenlose bedrieërs en bedrogsindikate oorgeneem word.

Dit blyk uit ʼn antwoord van die minister van binnelandse sake, dr. Aaron Motsoaledi, op ʼn parlementêre vraag deur die EFF-LP Laetitia Arries, wat wou weet wat die omvang van identiteitsbedrog is, en wat gedoen word om dit te bekamp.

Volgens Motsoaledi is ʼn eenheid vir teenkorrupsie en sekuriteit in die departement geskep om voortdurend navorsing, analise, implementering en monitering te doen sodat korrupsie voorkom en bewustheid van bedrog en korrupsie kan toeneem.

Een van die belangrikste stappe teen vroeë identiteitsbedrog is dat die departement van binnelandse sake tans saamwerk met die departement van gesondheid sodat geboortes by hospitale geregistreer word.

“Dit verminder bedrog en verseker dat ʼn identiteitsnommer vroeg al aan die kind toegeken word, en die kind s’n bly vir die res van sy of haar lewe. Die hoofdoel is om ʼn betroubare bevolkingsregister te verseker wat minder kwesbaar en vatbaar is vir korrupsie en bedrog,” het Motsoaledi gesê.

Voorts gebruik die departement van binnelandse sake biometriese toetse om met die Hanis-stelsel te verseker dat diegene wat om identiteitsdokumente aansoek doen, wel is wie hulle sê hulle is.

Nie alleen word verskeie verifiëringstoetse aangelê wanneer Suid-Afrikaners hul slimkaarte afhaal nie, maar die minister het gesê die sekuriteitskenmerke van die identiteitsdokument is opgeskerp en die departement is besig om na ʼn papierlose omgewing te beweeg.

Departementele personeel wat registrasie van geboortes en identiteitsdokument-verwante registrasies hanteer, word deur hul vingerafdrukke geïdentifiseer om bedrog te voorkom.

Voortdurende evaluering deur die eenheid vir teenkorrupsie en sekuriteit om skuiwergate, kriminaliteit en kwesbaarhede te identifiseer word opgestel en na die relevante afdelings en werknemers van die departement gestuur om sekuriteit te verbeter.

“Die probleem is dat die misdadigers telkens hul planne en gedrag aanpas wanneer ʼn skuiwergat vir bedrog toegemaak word. Daarom soek die teenkorrupsie-eenheid ook deurgaans vir nuwe skuiwergate, ten einde misdaad te beëindig,” het Motsoaledi gesê.

Navorsing toon die meeste identiteitsbedrog vind plaas in die proses van geboorteregistrasie en veral laat registrasies van geboortes (meer as 30 dae nadat die beweerde geboorte plaasgevind het).

Die departement van binnelandse sake het in elke provinsie ʼn komitee op die been gebring om persoonlike onderhoude te voer met diegene wat aansoek doen om die laat registrasie van geboortes, ten einde presies vas te stel waar en wanneer die geboorte plaasgevind het.

Dit is om te probeer voorkom dat buitelanders plaaslike inwoners omkoop om verkeerdelik te beweer die kind is hulle (die plaaslike ouers) s’n.

Van 1 April 2020 tot 31 Maart 2021 is 33 ondersoeke na identiteitsbedrog afgehandel, het Motsoaledi gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

As dit die geval is, hoe weet ons stemme is reg? Moet ons nie dus ALLES bevraagteken nie…

Jakes ·

Ook nie moeilik om te bepaal watter groepering hiervan gepraat word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.