‘Idols’-beoordelaar wil regstappe doen oor k-woord

Somizi Mhlongo (Foto: Facebook)

Die televisiepersoonlikheid en Idols-beoordelaar Somizi Mhlongo sê hy beoog regstappe teen ʼn vrou wat hom vroeër dié week die k-woord op sosiale media toegesnou het.

Mhlongo het Dinsdag aan Maroela Media gesê ʼn vriend het die rassistiese opmerking Dinsdag onder sy aandag gebring.

Die gebruiker, wat intussen haar Twitter-profiel gesluit het, het geskryf: “Is Somizi nie ʼn homoseksuele k*****tjie nie?”

Mhlongo sê hy was geskok dat iemand in “vandag se tyd” nog só ʼn aanmerking op sosiale media maak én boonop “die vermetelheid het” om hom in die inskrywing te tag.

“Ek gaan beslis ʼn klag teen haar aanhangig maak,” sê hy. “Ek wag in dié stadium nog vir my regspan om my van raad te bedien. Maar ek gaan beslis nie hierdie opmerking laat vaar nie.”

Die televisiester sê die Twitter-gebruiker se ma het intussen sy agentskap gebel en gesê haar dogter is “erg ontsteld” oor die voorval en verkeer glo onder geweldige druk die afgelope paar weke. Die ma het volgens Mhlongo aangevoer dat ʼn kuberkraker toegang tot haar dogter se Twitter-rekening verkry het.

Mhlongo sê nóg hy nóg sy regspan is oortuig dat iemand wel onwettig toegang tot haar rekening verkry het. “As dit wel waar is, hoekom het sy nie die inskrywing verwyder nadat sy die reaksie daarop begin sien het nie? Sy het bloot haar rekening gesluit toe aanhangers en ander sosialemediagebruikers haar oor die kole begin haal het.”

ʼn Inskrywing wat Mhlongo Dinsdag op sosiale media gemaak het, is al deur meer as 5 000 Twitter-gebruikers gedeel. In die inskrywing het die televisiepersoonlikheid aanhangers gevra om die vrou te help opspoor aangesien “die tronk op haar wag”.

Hy sê hy beoog nie regstappe vir homself nie, maar vir “minderheidsgroepe” wat deur sulke plasings op sosiale media verneder word. “Sulke mense hoort nie in ʼn demokratiese land nie. Ek gaan nie regstappe doen ter wille van myself nie, maar vir elke mens wat hom- of haarself as deel van dié minderheidsgroep bevind wat sy oor dieselfde kam skeer.”

Mhlongo was in 2015 self midde-in hewige kruisvuur nadat hy gesê het “rassistiese wit Suid-Afrikaners” wat hoop dat “Zuma se val apartheid of ʼn wit president” weer sal “terugbring”, is mense wat die werklikheid in die land ontken. Hy het ook talle beskuldig dat hulle die #ZumaMustFall-veldtog gebruik as ʼn skild om hul rassistiese gedrag weg te steek. Hy het later om verskoning gevra vir dié uitlating.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Peet ·

Nee kyk, mense leer ook nie. Nou gaan hier n paar mense wees wat “false profile” gaan kerm.

Kaufman ·

Kalmeer. Haar profiel was waarskeinlik oorgevat. Ons gaan almal versigtig moet wees want dit is die nuutste modus operandi.

JSG ·

#Kaufman. Die kanse is goed. Gebeur gereeld deesde. My vrou se profiel is ook gebruik om pornografiese materiaal te versprei. Nie sy of ek in dit belang. Het nogal ‘n stryd gehad om die skade te herstel. Hoop maar dit was die geval met haar, anders sal sy mooi moet verduidelik. Indien dit dalk net uit furstrasie kwytgeraak was, reken ek ‘ opregte verskoning moet deur hom aanvaar word. Hy het egter iets soortgelyk gedoen en het met slegs ‘n verskoning weggekom.

Ore is min ·

Ore is min , wel dan moet jy maar kry wat jou kant toe kom

Han ·

Toe Mhlongo in 2015 sy rassistiese aanvalle op wittes (oor Zuma) gemaak het, het hy om verskoning gevra en geen haan het weer daarna gekraai nie. Nou dat hy aan die ontvangkant is, moet die skuldige tronk toe! Wat sy gesê het was verkeerd, MAAR, oordeel net regverdig. Die rasbeheptheid in dié land is om van siek te word!!

Alida 2 ·

Han, ek stem saam!
Ek vra onverskoning en alles is reg maar die ander een moet tronk toe.
Wie ook al die Twiet geplaas het was verkeerd. Soooo vra nou net onverskoning asb. dan is dit ook op ‘n einde.
Die regslui en howe kan dan hulle aandag aan belangriker sake soos moord en verkragting wei.

VisaVersa ·

Ek praat dit verseker nie goed nie.Mense leer ook maarnet nie!!! Net jammer geen omgekeerde geval van rasisme word so ernstig aangespreek of veroordeel nie.

So onnodig ·

Dit is absoluut soooo onnodig, hoekom sal jy iemand so iets wil noem. Verder jong man, dit is die goed wat jou sterker maak in die lewe, laat haar maar bietjie sweet as sy sulke swak uitkyke in die lewe het, maar moenie dat die ding jou pootjie en druk in ‘n haatdraende persoon nie.

Se net ·

Jy kan rasistiese stellings maak en dan vinnig jammer sê maar kan dit nie “handle” as dit na jou kant toe kom nie.

cor ·

Dit help nie om die man te kruisig en uitlatings oor hom te maak nie. Sy was verkeerd finnish en klaardit help nie dit word ontken nie. As jy nie jou verstand, tong en vingers in toom kan hou nie dra die gevolge, maak nie saak watter deel van die reenboog jy is nie. Die hof gaan weer van haar nog n voorbeeld maak.

Johan ·

Ek stem saam dat simpel, ondeurdagte beledigings nie in vandag se samelewing geduld moet word nie. Maar dit moet vir almal geld, nie net vir een groep nie. Ons is veronderstel om almal gelyk voor die reg te wees.

Piet Pompies ·

Lesers moet verstaan dat daar ‘n wet in SA is wat die K woord verbied en die klagte gaan op gronde daarvan. Dit kan nie vergelyk word met enige ander stellings waar die K woord nie gebruik is. Sosiale media is toeganklik vir oud en jonk, ken jou perke, anders gaan jy ‘n duur prys betaal. Daar is niks so lekker soos ‘n “tong in die kies” storie….

jean ·

Martie…..wie moet leer…ons, hulle of ons almal? Moet ons kamtig altyd sidder in ons skoene?….Altyd eensydig en eenogig

Nettie ·

A.g.v. Maroela se dubbelsinnige taalspeling, het ek nou HEELTEMAL die kat aan die kwas beet. ‘Skuus mense, ek sien nou: dié “Idols”-aanbieder is inderdaad manlik en dit is van die Twitter-gebruiker van wie MM in paragraaf 6 as “haar” praat.

Hacker ·

Hoe is almal so seker dat haar profiel nie ge”hack” is nie. Dit kan so maklik gebeur, wees versigtig dat dit nie vir jou ook oorkom nie. Wat gaan jy dan sê?

oomjan ·

Ongelukkig is alles eensydig….jy mag nie rassisties wees nie maar maar op sosiale media word blankes aangeval sonder dat iets gebeur

MK ·

Ai, ai, ai…..wanneer gaan Suid Afrika se verskillende nasie, volk en taal ophou om na kleur te kyk? Almal van ons ….wit, swart, bruin of watter kleur ook al, het almal rooi bloed. Dis ‘n kleur wat nie verander kan word nie, al sê en doen mense wat. Hou asseblief op om God se skepping seer te maak, dan sal ons waarlik in Harmonie kan saam leef. Almal is mense!!!!

Soos bloed ·

Behalwe as dit by BEE en AA en EE kom dan is almal nie dieselfde kleur nie, dan mag net EEN kleur mense die werk kry. Al probeer jy hoe hard, daar sal altyd ‘n skeiding wees, en nie deur een FB gebruiker nie, maar deur die regering. HARMONIE? O jinne nog een wat op ‘n reenbogie gly!

Cherokee ·

Maroela, wat presies word gedefinieer deur die woord ‘televisiester’? Beteken dit enigeen wie se gesig op televisie verskyn het sy bekend of nie, of wat beteken die woord regtig? Ag, anders gedink, ek kyk buitendien nie televisie nie, so ek sal nie die tv se ‘sterre’ ken nie. Wat my aanbetref het tv sy stêrre gesien.

kobus ·

Die ANC en EFF en DA.speel almal teen mekaar af.dis hoekom wit en swart mekaar haat.alle swart mense is nie sleg nie.al die wit mense is ook nie goed nie.Politiek is die probleem in ons land

Katerina ·

Wel..as sy haar rekening nie “hacked” was nie,en sy wel dit self op Twitter gepos het,sal sy maar die gevolge moet dra.Mense moet mos nou al regtig van beter weet,nie waar nie? Veral as jy n witmens is. Ek wens net die rassehaat en aansporing tot geweld en moord van mense soos Malema, kan ook so ernstig beskou word!!!! As witmense vir die k-woord moet tronk toe,moet anderskleuriges wat haatspraak en rassistiese terme teenoor wit mense gebruik, ook gaan.

Anoniem ·

Snaaks die die anderkant van die storie nie hoef te leer nie en hulle ALMAL wegkom met rassistiese uitlatings… Ek dink die fyngevoelige klein drama queen moet dalk net eers die balk uit sy eie oog haal.

Annette Groenewald ·

As die twitter skuldige tronk toe moet gaan, kan die klaer self toegesluit word, jeens sy uitlatings destyds! What is good for the goose, is good for the gander!

Foxi ·

En so gaan ons almal soos stout kindertjies in n hoekie moet gaan sit en n lollypop suig om jou mond te hou. Maar ons moet dit net aanvaar as jy in die verkeer of in die straat toegesnou word met rassistiese taal en aanvalle dat die see jou nie kan afwas nie. Jy is alleen op daardie tydstip dat jy nie ook jou selfoon byderhand het, om die aanval op te neem nie. Doen jy dit in elk geval, sal jyself aangeval word. Hierdie neigings van wat nou gebeur het so hand uitgeruk, dat jy nie weet watter kant jy moet beweeg nie. Op straat, winkels, speelparke, restaurante, noem dit net, moet jy net jou mond hou, jou blind hou en jou doof hou. Anders is die TRONKE VOL EN DIE KERKE LEEG! N siek bombastiese samelewing in die wêreld om in te lewe……..n bittere stryd vir almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.