IEB-matrieks behaal slaagsyfer van 98,92%

Argieffoto

Matrikulante van die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) het ʼn slaagsyfer van 98,92% in die 2018-eksamen behaal.

Dit is selfs beter as die 2017-slaagsyfer van 98,76%.

Altesaam 11 514 heeltydse en 858 deeltydse kandidate het in Oktober en November verlede jaar by 249-eksamensentrums reg oor Suid-Afrika die IEB se matriekeksamen geskryf.

Van die studente wat die eksamen geslaag het, het 90,65% uitslae behaal wat hulle toegang gee om vir ʼn graad te studeer, terwyl nog 7,33% vir ʼn diploma kan studeer. Volgens die IEB sal 0,95% van die matrikulante wat geslaag het vir ʼn hoër sertifikaat-kwalifikasie kan aansoek doen.

Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die IEB, sê in ʼn verklaring Umalusi het alle aspekte van die 2018-eksamenproses gemonitor en het die uitslae as billik en geldig verklaar. “Daar is ʼn duidelike besef onder IEB-leerders, hul ouers en onderwysers dat die besit van kennis en begrip of insig, wat die rede vir die uitslae op die sertifikaat is, veel belangriker en betekenisvoller vir sukses ná afloop van ʼn mens se skoolloopbaan is,” sê Oberholzer.

Sy meen die persentasietoename in die slaagsyfer vir toegang tot baccalaureusgraadstudie toegeskryf kan word aan die verwydering van die aangewese lys van vakke.

Voorheen, tesame met die normale slaagvereistes vir die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS), was die behaling van 50% of meer in ʼn minimum van vier aangewese vakke ʼn vereiste vir toegang tot graadstudie. In 2018 is die lys van aangewese vakke verwyder. Leerders moet steeds 50% in ʼn minimum van vier vakke behaal, maar die 50% vereiste kan op enige vak van toepassing wees, met uitsondering van lewensoriëntering.

Die sluitingsdatum vir die aansoek vir hernasiening van IEB-eksamenvraestelle is 10 Januarie en die uitslae van hernasiening sal op 6 Februarie 2019 bekendgemaak word. Die sluitingsdatum vir leerders wat vir inskrywing vir die IEB-aanvullingseksamen kwalifiseer en daarvoor aansoek wil doen, is 15 Februarie 2019.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal vanaand om 18:00 die uitslae van die nasionale matriekeksamen in Midrand bekendmaak. Die top-presteerders sal ook by dié geleentheid aangekondig word.

Leerders van al die provinsies, behalwe die Wes-Kaap, kan Vrydag van 08:00 hul matriekuitslae by hul skole ontvang. Die Wes-Kaap se uitslae sal van 11:00 beskikbaar wees.

Matrieks kan steeds Maroela Media se “Maroela Matrieks”-app aflaai waar jy jou punte sal kan sien sodra die uitslae bekend gemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.