IEB: Matriekslaagsyfer effens hoër

(Argieffoto: Facebook)

Selfs meer matrieks het verlede jaar die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeindeksamen geslaag in vergelyking met die vorige twee jaar.

Dié groep het ʼn slaagsyfer van 98,39% behaal, ʼn rapsie hoër as 2020 se slaagsyfer van 98,06% en 2019 se slaagsyfer van 98,20%.

Die IEB het die uitslae Woensdag bekend gemaak.

Volgens die raad het die meeste van verlede jaar se matrieks universiteitsvrystelling gekry. Altesame 89,2% van die groep het universiteitsvrystelling gekry in vergelyking met die 88,41% van leerders wat dit in 2020 behaal het.

Hiermee saam het 7,82% van matrieks toelating tot diplomastudie verkry en 1,37% toelating tot studie op Hoër Sertifikaat-vlak.

Altesame 12 857 voltydse en 968 deeltydse kandidate het by 237 eksamensentrums die raad se Nasionale Senior Sertifikaat- (NSS)-eksamen afgelê. Dit is meer as in 2020 toe daar 12 024 voltydse en 1 139 deeltydse kandidate was, en meer as in 2019 toe daar 11 818 voltydse en 779 deeltydse kandidate was.

Anne Oberholzer, uitvoerende hoof van die IEB, het die klas van 2021 se resultate met Alex Altman se bekende beskrywing van ʼn ysberg vergelyk – “sukses is soos ʼn ysberg – wat mense sien, is slegs op die oppervlak”.

Sy sê die prestasies wys nie hoe moeilik die stryd was waarop die sukses berus nie.

“Hierdie gr. 12-leerders is die ware slagoffers van Covid-19.

“Die klas van 2021 moes geestelik en emosioneel alles in die stryd werp om die krag te vind om die reuse-uitdagings van die radikaal veranderde onderrig- en leeromgewing van die afgelope twee jaar die hoof te bied. Hulle verdien werklik die lof wat hulle ontvang.”

Oberholzer erken dat verlede jaar se matrieks ontwrigtende veranderings op ʼn ongekende skaal ondervind het.

In 2020, as gr. 11’s, het hulle min tyd by die skool deurgebring weens die sporadiese sluiting van skole en in matriek moes dié groep verskeie mylpaalgeleenthede prysgee.

Desnieteenstaande glo Oberholzer dat die leerders besondere veerkragtigheid opgebou het.

“Dié klas moes nuwe maniere vind om uitdagings te hanteer, en lewenskragtigheid, moed en volharding aanleer om uitdagings te bowe te kom.”

  • Die sluitingsdatum vir aansoeke vir die hermerk van vraestelle is 28 Januarie en die uitslae sal dan op 15 Maart bekend gemaak word.
  • Die sluitingsdatum vir leerders wat kwalifiseer vir die Mei/Junie-eksamen is 30 Maart.

Gevorderde programme vaar goed

Die IEB bied ook uitbreidingskursusse aan vir studente in spesialisvakke naamlik wiskunde, Engels en Afrikaans, en verlede jaar vir die eerste keer fisika. Die matrieks wat aan dié gevorderde program (GP) deelgeneem het, het ook goed gevaar.

Altesame 1 324 leerders van IEB-skole en 852 leerders van openbare skole het verlede jaar GP-wiskunde geskryf. Van hulle het 76,47% ʼn punt van 40% en hoër behaal.

Uit die 609 leerders wat GP-Engels geskryf het, het 93,6% geslaag met ʼn punt bo 40%, terwyl al die leerders wat GP-Afrikaans geskryf het, ʼn punt van 40% of hoër gekry het.

GP-fisika is verlede jaar as loodsprojek geassesseer en 71 kandidate het aan die program deelgeneem. Soveel as 90% van dié skoliere het ʼn slaagpunt bo 40% gekry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eiervrug ·

Nee, dis bietjie beter aangepas as 2020 sn. Angie het mos reeds gesê hulle moes aangepas word agv Covid. Sal maar sien hoe vaar hulle op Universiteit…

Anoniem ·

‘n Allemintige 48% van matrikulante in staatskole se punte is opwaarts aangepas volgens ‘n ander dagblad, maw hulle is deurgesit.

Marius ·

Slaag met 30% vir wiskunde, wetenskap en talle ander vakke. Hoe gaan hulle dan deur die universiteite kom of word die se slaag syfers ook verlaag ?

Kiwi ·

Wel gedaan aan alle matrieks wat IEB geskryf het.Veels geluk. Harde werk word beloon met A’s
2020 graad 11 en 2021 was nie maklik nie.
Dankie aan die onnies, wat by ons kinders gestaan het

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.