IEB-slaagsyfer ‘die gevolg van gehalte onderrig’

skool klaskamer skoolhoof

Argieffoto

“Die uitstekende uitslae van leerlinge wat verlede jaar die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se matriekeksamen geskryf het, is weer eens ’n bewys dat kleiner klaskamers, goeie onderwysers en deurlopende streng gehaltebeheer vrugte afwerp.”

Só sê Melanie Buys, onderwysspesialis van die Skoleondersteuningsentrum (SOS). Buys het gereageer op die IEB se aankondiging vroeër vandag dat 98,92% van die 11 514 heeltydse en 858 deeltydse kandidate wat die IEB-matriekeksamen verlede jaar geskryf het, geslaag het.

Van dié leerlinge het 90,65% uitslae behaal wat hulle toegang gee om vir ʼn graad te studeer, terwyl nog 7,33% vir ʼn diploma kan studeer.

Buys skryf dié uitslae gedeeltelik toe aan die streng gehaltebeheer van onderrig en eksaminering waaraan onafhanklike skole onderwerp word. “Private skole moet aan ontsettende streng registrasievereistes voldoen en word gedurig gekontroleer om te verseker die skole verskaf gehalte onderrig. Disfunksionele openbare skole behoort aan dieselfde streng vereistes onderwerp te word,” sê sy.

“Onafhanklike skole kan seker maak dat leerlinge oor die nodige akademiese onderbou beskik voordat hulle na ’n volgende graad bevorder word. Meeste leerders in onafhanklike skole ontvang van vroeg in hul skoolloopbaan reeds die aandag en kundige ondersteuning wat hulle nodig het om optimaal te presteer. Goeie skole maak seker dat leerders deurlopend goeie onderrig ontvang en dat leemtes tydig aandag kry, sodat dit nie nodig is om graad 12-leerders toe te gooi met ekstra klasse in ’n poging om sukkelende matrieks te help slaag nie.”

Buys meen die finansiële vermoë van onafhanklike skole om genoeg onderwysers van goeie gehalte aan te stel het ook ’n invloed op uitstekende prestasies tydens die matriekeksamen. “Dit verseker dat leerlinge in kleiner klasse onderrig kan ontvang, anders as in openbare skole waar onderwysers soms tot soveel as 60 leerlinge op een slag moet onderrig.”

Sy sê dit is daarom kommerwekkend vir die SOS dat provinsiale onderwysdepartemente vanjaar weer onderwysposte vir openbare skole gesny het.

Buys noem ook dat onderwysers in die private sektor op meriete beoordeel word en dat daar opgetree word teen onderwysers wat nie werk van goeie gehalte lewer nie. “Swak of lui onderwysers in openbare skole word dikwels deur militante vakbonde beskerm, ten koste van leerders.”

Sy wys daarop dat om druipelinge na matriek te bevorder en dan inderhaas noodmaatreëls soos ekstra klasse toe te pas, nie die leerders of die onderwysstelsel help nie. “Matriekuitslae in openbare skole kan slegs met dié van onafhanklike skole meeding as verseker word dat gehalte onderrig deur goeie onderwysers deurlopend plaasvind.”

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, sal vandag om 18:00 die uitslae van die nasionale matriekeksamen in Midrand bekendmaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.