Iemand ‘mislei’ publiek oor drankverbod – Salba

Salba eis wetenskaplike bewyse vir die regering se verbod op drankverkope. (Foto: pixabay)

Die Suid-Afrikaanse drankhandelsnaamvereniging (Salba) hou vol ʼn beperking op mense se bewegings – eerder as die verbod op drankverkope – het tot ʼn afname in sterftes tydens die Covid-19-pandemie gelei.

Die vereniging sê die ministeriële advieskomitee oor Covid-19 wou boonop nie bevestig of die vierde verbod op drankverkope op enige wetenskaplike aanbeveling gedoen is nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 27 Junie, toe die jongste verbod aangekondig is, gesê die komitee het aanbeveel dat die beperkings wat vantevore ingestel is nie doeltreffend was nie en dat ʼn verbod op drankverkope die druk op hospitale wat alkoholverwante noodgevalle veroorsaak sal verlig.

Salba het daarna aan prof. Koleka Mlisana, voorsitter van die komitee, geskryf en gevra vir die wetenskaplike data waarop die komitee se aanbeveling aan die nasionale koronavirusbevelsraad – om alle drankverkope te verbied – berus het.

Salba sê Mlisana bevestig nie die president se stelling dat die komitee die aanvanklike algehele verbod op drankverbod vir 14 dae aanbeveel het nie en ook nie die verdere verlenging wat hy op 11 Julie aangekondig het nie.

In haar antwoord aan Salba skryf Mlisana dat die raad wat die komitee oor Covid-19 gee “nie-bindend” is en dat dit, tesame met ander tersaaklike inligting, oorweeg word voor enige finale besluite geneem word.

Sibani Mngadi, voorsitter van Salba, sê dit is kommerwekkend, gegewe die ekonomiese verliese wat die bedryf die afgelope paar weke gely het.

Salba se vergelyking tussen oortollige sterftes en die beskikbaarheid van drank.

“Óf ons regering óf die gerekende kenners in die ministeriële advieskomitee mislei die publiek oor die wetenskaplike grondslag oor die besluit om drankverkope te verbied, ʼn besluit wat verreikende ekonomiese gevolge vir die land het,” sê Mngadi.

Salba sê hy het in sy korrespondensie met die komitee gedetailleerde inligting verskaf wat sy argument staaf dat die “beperking op mense se beweging, aangedryf deur die aandklokreëls” gelei het tot ʼn “afname in traumagevalle en onnatuurlike sterftes” en nié net die verbod op drankverkope soos die Mediese Navorsingsraad (MNR) aanvoer nie.

Mlisana het kommer oor die MNR se ondersoek na die skrywers daarvan of die South African Medical Journal, wat die verslag gepubliseer het, verwys.

Salba sê hy het die vaktydskrif reeds oor die kwessie genader.

“Met nog ʼn hersiening van die huidige alkoholverbod wat op 25 Julie verwag word, verdien sakeondernemings, werkers en die publiek om te weet op watter wetenskaplike grondslag die regering se besluit om drank te verbied, berus,” sê Mngadi.

Salba sê ʼn vorige navraag het reeds getoon dat die ministeriële advieskomitee nie ʼn algehele verbod op drankverkope wat van 28 Desember verlede jaar tot 31 Januarie gegeld het, aanbeveel nie.

Drankwinkels het in die eerste 14 dae van die hernieude verbod kwaai deurgeloop onder wat Salba aanvalle deur georganiseerde misdaad noem.

“Nadat die verlenging op 11 Julie aangekondig is, het ons ʼn enorme toename in aanvalle gesien, met minstens 230 drankpersele in KwaZulu-Natal en Gauteng wat geplunder, beskadig of aan die brand gesteek is,” sê Mngadi.

Die plundering het aanvanklik by kleinhandelaars begin en later na pakhuise en verspreidingsentrums uitgebrei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Samuel ·

Misleiding is die aard van die spel wat huidige regering speel.

My Mening ·

Ek dink baie van hierdie besluite word nie goed deurdink nie en wie ookal die final besluite neem se eie agendas speel ‘n groot rol.

Tiptol ·

Die hoed het mos gesê as hy sy sin kan kry sal drank permanent verbied wees.

Gert ·

As ek my sin kan kry moet al die mense in die parlement ‘n IK toets doen voordat hulle besluite kan neem.

Elizabeth ·

An act of spite? Doelbewus sonder enige grondige rede? Vertrou hulle glad nie.

Pieter ·

Ek sal seker nooit kan vestaan hoe regeer en best jy n land met n graad een sertifikaat nie.

DIABLO ·

Die regering en “gerekende kenner” is een en dieselfde entiteit.Die een is so onnosel soos die ander. Maak oop die deure. People are the creators of their own destiny. Geen regering kan met enige verbod, onnoselheid voorkom nie. Die plunder en betogings sonder n masker n myl ver, is bewys genoeg!

KAIROS ·

Ek dink n land met minder drank en siggarette sal wonderlik wees. Volgende kan hulle sommer die drank advertensies ook stop soos hul met siggarette gedoen het. Dan mag ons mense dalk minder wegkruip en verligting soek op verkeerde plekke. Hulle mag dalk begin hul man en vrou staan… Kan jy net dink hoe wonderlik dit sal wees.

Karina ·

Die drankhandelaars, van verwaardigers tot verkopers, het al biljoene verloor deur die drank verbod omdat hulle nie kon verkoop nie. Praat nie eers van die honderde drankwinkels wat geplunder en vernietig is nie. Die regering is besig om kos uit die monde van werkers te neem. Moet my nie vertel hulle geniet nie hul ingevoerde whiskey elke aand, wyn saam met ete nie. Dan vertel jy my daar is nie sand in die woestyn nie. Grrrrr, kommunistiese land wat sy inwoners wil beheer asof hulle kinders is.

Jack ·

Die feite is dat die sapd onbevoeg is om wetstoepassing effektief te doen. Daarom word die aanklokreel ingestel drankverkope beperk wapenlisensies vertraag reaksie op noodgevalle pateties hanteer indien ooit. So verander dus die wet sodat hulle maklike en rustiger kan werk. Vir ons as publiek is dit eenvoudig net beter om ons eie sekuriteits mpy te bel vir reaksie in nood. Dus ons eie privaat polisiediens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.