Die hospitaalkamer word lugverkoel – tot dit nes die binnekant van sy gat voel. Die pasiënt is Lumbi, ʼn ietermagog wat ʼn proteïen-gepakte mengeldrankie met ʼn spuitjie inkry, dan sy daaglikse dosis medikasie, terwyl sy toestand fyn dopgehou word.
Lumbi ontvang behandeling vir ʼn bloedparasiet, nadat die polisie hom tydens ʼn klopjag uit die kloue van stropers in die noorde van Limpopo gered het. Hy en verskeie ander ietermagogs is pasiënte by die Johannesburgse wildlewe-veeartshospitaal wat in 2016 op die been gebring is om inheemse wild te behandel en te rehabiliteer.
Die ietermagogs hier is almal gered van smokkelaars in Suid-Afrika en buurlande soos Namibië, Mosambiek en Zimbabwe.
Die meeste ietermagogs is in ʼn aaklige toestand wanneer hulle gered word. Hulle benodig gewoonlik mediese hulp nadat hulle in sakke toegebind en aangehou is – dikwels nadat hulle weke lank sonder kos of water in iemand se kattebak aangehou is.
“Dit is soos ʼn intensiewe sorgeenheid vir ietermagogs,” sê Nicci Wright, die wildlewe-rehabilitasiespesialis wat na Lumbi omsien.
Die ietermagogs se tydelike tuiste is ʼn goed bewaarde geheim. Hulle rehabilitasie kan enigiets van weke tot maande duur, voor hulle weer in die natuur vrygelaat kan word.
Hoewel ietermagogs al sowat 80 miljoen jaar lank die aarde bewoon, is daar medies gesproke weinig oor hulle bekend.
Ietermagogs ‘soos mense’
“Hulle is werklik so anders as ander diere,” sê Wright wat al sedert 2008 met ietermagogs werk.
Soms moet die veeartse verskillende behandelings probeer sodat die regte doepa uiteindelik vir ʼn ietermagog gegee kan word.
“Die veearts-medisyne en rehabilitasieproses is nie baie goed gedokumenteer nie en bitter min is bekend oor die Afrika-spesie,” sê Wright.
Veeartse gebruik gewoonlik die standaardbehandeling wat op diere soos honde en katte ook gebruik word. Dikwels is dit in die kol.
“Soms moet jy net ʼn kans waag en tot dusver was ons baie suksesvol en het hulle goed gereageer,” sê Kelsey Skinner, een van die veeartse.
“Elke keer wat jy iets probeer, is dit eintlik maar ʼn geloofsprong.”
Skinner versorg al jare lank siek en beseerde ietermagogs en sê, nes mense, het hulle verskillende persoonlikhede. Die skubbedekte, insekvretende soogdiere is alleenlopers wat snags uitkom.
“Hulle is nes mense. Hulle het die mees eiesoortige klein persoonlikhede.
“Sommige is skaam en wil nie aangeraak word nie. Ander is weer heel uitbundig en speel graag in die modder. Hulle is komediante,” sê sy.
“Die vlak van hul persoonlikhede is soos interaksie met ʼn hele klomp verskillende mense. Elkeen is uniek.”
Mees gesmokkelde soogdiere
Ietermagogs is waarskynlik die mees gesmokkelde soogdiere ter wêreld. Hulle is gesog vir hul skubbe – gemaak van keratien, nes mense se naels – en dit word in veral Asië gebruik vir hul kwansuise medisinale eienskappe.
In die wildernis word ietermagogs net in Afrika en Asië gevind en hul getalle duik weens die druk wat stropery daarop plaas. Sommige spesies word deur wildlewegroepe as kritiek bedreig bestempel.
Dit is boonop onbekend presies hoeveel ietermagogs wêreldwyd oor is.
Die saal waar Lumbi nou versorg word, was tot onlangs ook die tuiste van ʼn ietermagog genaamd Steve. Verlede maand is Steve weer in die natuur vrygelaat – presies waar hy hoort – nadat hy ten volle herstel het.
Gareth Thomas is ʼn vrywilliger wat Steve elke week tydens sy sewe maande lange rehabilitasieproses ter voorbereiding van sy vrylating, vir ʼn stappie geneem het. “Ek was sedert die eerste dag saam met hom. Ek was daar toe hy uit die stropers se boks gehaal is,” het hy gesê kort voor Steve vrygelaat is.
Na ʼn ses uur lange reis is Steve vroeër in die 230 000 hektaar Manyoni-wildreservaat in KwaZulu-Natal vrygelaat.
Ietermagog-monitor Donald Davies van die Zululand-bewaringstrust het ʼn spesiaal ontwerpe krat van die bakkie afgelaai, met Steve binne-in, en dit oopgemaak. Met twee afstandmeters aan sy skubbe vasgeheg, het die ietermagog versigtig uitgeklouter, rondgesnuffel en toe ongeërg weggestap om ʼn paar miere vir middagete op te spoor.
“Hy het al die vaardighede wat hy nodig het om nou in die wildernis te oorleef,” sê Davies.
Om die ietermagogs weer in die natuur vry te laat, is ʼn belangrike proses om te verseker die bedreigde soogdiere oorleef na die reusebelegging wat in hul behandeling en rehabilitasie gemaak is.
“Die vrylatingsproses is een van die belangrikste, want dit moet reg gedoen word,” sê Wright.
Die saggeaarde diere kan net in ʼn betreklik veilige gebied vrygelaat word, soos ʼn goed gepatrolleerde wildreservaat, om te keer dat hulle weer in die hande van stropers beland.
Die omgewing moet ook net reg wees. “Ons moet heeltemal seker wees dat hulle die regte kos en die regte lêplek kry. Andersins sal hulle bloot sterf.”