Ikey-student verlig ná aanvaller aangekeer is

Rebecca Liv Shain (18). Foto via ANA

Rebecca Liv Shain (18). Foto via ANA

ʼn Eerstejaarstudent aan die Universiteit van Kaapstad het Maandag gesê sy is verlig nadat die twee mans, wat haar vroeër vandeesmaand aangeval het, in hegtenis geneem is.

Rebecca Shain (18) het aan African News Agency gesê speurders van Rondebosch-polisiestasie het haar gekontak en versoek dat sy Saterdag na die stasie toe sou kom, waar sy haar twee aanvallers op polisie-foto’s uitgeken het.

Maroela Media het vroeër berig Shain het in Lover’s Lane, naby die hoofstraat in Rondebosch, gestap toe ʼn man haar begin agtervolg het. “Hy het verby my geloop, maar het omgedraai en my begin agtervolg. Daar was egter geen mense of voertuie nie. Hy het my ingehaal en ʼn vuurwapen uitgeruk en my gedreig om stil te bly en nie te beweeg nie,” het sy gesê. “Ek het begin om my longe uit te skreeu. Hy het my aan my regterarm gegryp en ek dink hy het my handsak gegryp. Ek het gekoes en toe slaan hy my herhaaldelik met die vuurwapenkolf agter my kop.”

Shain het gesê sy het haar bewussyn verloor, maar inwoners het op haar hulpkrete reageer. Teen die tyd wat hulp opgedaag het, het die aanvaller en sy medepligtige reeds in ʼn blou motor weggejaag.

Sy is na Kingsbury-hospitaal gehaas waar sy agt steke moes ontvang.

“Ek voel nou baie veiliger, nou dat hy agter tralies is,” het sy Maandag aan ANA gesê.

Die mans is verlede week Donderdagaand in hegtenis geneem.

Volgens Shain ondersoek die polisie of die mans ook met ander aanvalle in die gebied verbind kan word. “Hulle was definitief bedrywig in die gebied, maar nou is hulle in hegtenis geneem. Ek voel baie beter. Ek dink dit gaan goed met my, dit help om daaroor te praat.”

Die polisie ondersoek ook ʼn vermeende reeksverkragter in die gebied nadat minstens drie vroue die afgelope paar weke naby die Rhodes-gedenkteken aangeval en verkrag is.

Die universiteit het ʼn waarskuwing uitgereik aan alle studente en gesê die bestuur is besorg oor die toename in misdaad.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

DPJ ·

Rebecca ek is baie bly vir jou onhalwe. Gereg moet sy loop nou neem. DNA toetse sal kan uitwys of die aanvalle ook sy werk was.

Tammy ·

Hoop hulle word swaar gestraf vir die trauma, skok en lyding wat die jong dame moes ervaar. Daar is hopeloos teveel van die gemors wat in die strate rondloop. Sluit hulle toe waar hulle elke dag gestraf sal word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.