Ikeys se mediese fakulteit skort klasse en eksamens op

Universiteit van Kaapstad

Universiteit van Kaapstad

Bongani Mayosi, dekaan van die fakulteit gesondheidswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, het Donderdag in ʼn verklaring uitsluitsel gegee oor die lesings en eksamens by dié fakulteit vir die res van die jaar.

Mayosi het verduidelik die universiteit het Maandag sy deure oopgemaak te midde van studentebetogings wat met universiteitskwessies en die nasionale eis vir gratis gedekoloniseerde onderrig verband hou. “Alle voorgraadse klasse, van aangesig tot aangesig, is gevolglik opgeskort in ander fakulteite by die universiteit. Die fakulteit gesondheidswetenskappe het egter sy klasse voortgesit, wat noodsaaklik is vir onderrig en leer, met die doel om alle opleidingsaktiwiteite in 2016 af te handel,” het hy gesê.

“Die fakulteit het egter die afgelope drie dae grootskaalse ontwrigting beleef in die eerste-, tweede- en derdejaarstudente van ons voorgraadse akademiese programme en dit het dit onmoontlik gemaak om die leerprogram voort te sit. Talle studente kon óf nie die klasse bywoon nie weens hul betrokkenheid by die betogings, óf gegewe die gespanne toestande wat hulle tydens meeste lesings ervaar het,” het Mayosi verduidelik.

“Die situasie het tot verdeeldheid en konflik tussen studente gelei en ons personeel het hoë stresvlakke beleef. Die toestand het só vererger, dat dit nie meer voordelig is vir onderrig en leer nie. Die dekaan en die dekaan se raadgewende komitee het besluit om alle leer- en onderrigaktiwiteite vir jaar 1 tot 3 van alle voorgraadse programme op te skort, en beplan om dit tydens ʼn mini-semester in Januarie 2017 te voltooi.” Mayosi het verduidelik die mini-semester sal ʼn periode wees waar die 2016 akademiese werk aan die begin van 2017 afgehandel sal word, gevolg deur die finale eksamen wat in November 2016 moes plaasvind.

“Ons verwag dus dat die eerste akademiese aktiwiteit van die 2017 akademiese jaar later as gewoonlik sal begin.”

“Aangesien alle akademiese aktiwiteite vir eerste-, tweede-, en derdejaars opgeskort is, mag dié studente onmiddellik terugkeer huis toe,” het Mayosi bevestig.

Hy het gesê die fakulteit gesondheidswetenskappe is verbind daartoe om met die provinsiale en nasionale departemente saam te werk om gesondheid- en maatskaplike ontwikkelingsondersteuning te bied deur dienslewering en kliniese opleiding en onderrig.

“Die finalejaarstudente in die departement van gesondheid en rehabilitasiestudies en die vierde-, vyfde-, en sesdejaarstudente in die MBChB-program wat kliniese opleiding ontvang op die gesondheidsdiensplatform, sal steeds hul studies in 2016 afhandel.”

Mayosi het studente aangemoedig om enige vrae aan hul klasverteenwoordigers te rig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Kan iemand verduidelik wat gedekoloniseerde wetenskap beteken? Moet ons alles wat uit die Weste kom, weggooi en voor begin, of moet ons dit meer op bv Afrika toepas, of moet ons net Afrika-denkers se werk gebruik? Dan moet ons seker ophou om van universiteite te praat waar ons poog om deur universele wetenskap die wêreld waarin ons lewe beter te verstaan? Ek bevind myself in die sosiale wetenskappe. Dit sal jammer wees as ons onsself issoleer van die res van die wêreld. Ons sal onsself oneindig intellektueel verarm.

Amanda ·

Kyk op you tube.
‘What is decolonised education?’
Die wits studente leier is daar met n geel toppie en sal mooi verduidelik.
En drink eers hartpilletjie en kyk
‘Science must fall?’
(Meisie met geel truitjie en pienk toppie agter n lessenaar)

Duiwels Advokaat ·

Daardie fakulteit het nou nie net toegegee nie maar ook onherroeplik gevou. Sal nooit weer dieselfde wees hierna nie.

SNEL ·

Het daai studente ooit iets die jaar kon leer of moet hulle almal volgende jaar weer hierdie jaar oordoen? Ek kan nie dink dat met alles wat op daai universiteite aangemaak het, daar enige tyd vir leer en eksamens deur die jaar was nie.

zahn ·

Sluit die universiteite totaal. Laat daai spul dansende gepeupel sonder werk sit, dis mos wat hulle belowe is. Zuma en sy regering sal mos kan sorg. Dis mos die beloftes wat gemaak is. Kort voor lank is die arbeidsprobleem in die landbou opgelos, die spulletjie sal moet gaan werk iewers, en sonder onderrig is daar eenvoudig nie werk nie. Ons met die kwalifikasies sal net weer die poste terugkry. Bose kringloop.

Sê maar net ·

Duidelik verstaan julle nie die prentjie mooi nie. Daardie department het nie gefaal nie, hulle het ‘n werkbare oplossing. Dis slegs die laaste werk plus eksamens wat vroeg in Januarie gedoen gaan word. Hulle het nie ‘n keuse nie.
Dekolonisering beteken regstellende aksie, minder blank (of nee, geen blank) en meer swart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.