Il Divo-sanger in SA toe huis afbrand

Die Il Divo-sanger Sébastien Izambard se gesin is ongedeerd nadat hul huis in die verwoestende Kaliforniese bosbrande in puin gelê is terwyl hy in Pretoria was vir ’n optrede. Foto: Facebook

“Ek het nie woorde nie, net trane wat oor my wange loop. Hoe traumaties is dit nie vir my gesin en almal anders daar buite nie.”

Só het die Il Divo-sanger Sébastien Izambard (45) sy hartseer op Instagram verwoord nadat sy gesinswoning in Malibu in die vernietigende Kaliforniese bosbrande in puin gelê is kort voordat hy Vrydagaand in Pretoria se Sun Arena opgetree het.

Ná die konsert, waartydens die gehoor van sowat 4 000 hom toegejuig het nadat hy ʼn sololiedjie aan die meer as 30 slagoffers van die brand opgedra het, het hy geskryf: “Vandag was die moeilikste konsert van my loopbaan. Om dit alles te sien en so magteloos te voel …”

Terwyl hy aan die ander kant van die wêreld op Il Divo se Pretoriase konsert voorberei het, het sy gesin “in enorme trauma geleef en was hulle in groot gevaar”. Hy sê hy het “nutteloos” gevoel om sy gesin te help en vriende wat hul woonplek, hul troeteldiere en soveel meer verloor het.

Die Fransman het intussen teruggekeer na Amerika om sy gesin, wat nie beseer is nie, by te staan. Sy aanhangersklub het gister op Facebook geskryf hy sal voorlopig nie op sosiale media van hom laat hoor nie “om op die situasie te fokus”.

Die administrateurs van die blad sê almal se boodskappe met hul gedagtes en gebede sal steeds gelees word, maar geen inskrywings sal intussen gedeel word nie.

“Ons het [Saterdag] vir hom gesê ons wil hê hy moet voel die liefde wat ons elke dag ervaar, word duisendvoudig aan hom en sy gesin terugbewys,” skryf die administrateurs. “En kyk ʼn mens na al die honderde e-posse, is dit presies wat julle almal doen.”

Izambard sal volgens die inskrywing weer van hom laat hoor sodra hy herstel het ná dié “ontstellende tyd”.

Il Divo het intussen aangekondig hul konsert Dinsdagaand in Kaapstad gaan voort sonder Izambard. “In dié moeilike tyd het sy vrou haar man en kinders hul pa nodig aan hul sy,” sê die mannegroep op Facebook.

Hy het op 1 Junie 2007 aan die Australiër Renée Murphy verloof geraak en is op 17 Augustus 2008 in sy geboorteland met haar getroud. Sy was ʼn publisiteitsbeampte vir die musiekreus Sony BMG toe sy die aantreklike Parysenaar in 2005 in Australië ontmoet het terwyl Il Divo daar getoer het.

Hul tweeling, Rose en Luca, is op 20 Maart 2008 gebore en hul derde kind op 20 Mei 2011.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ander Annie ·

Ai Seb, ek is so jammer vir julle skade, maar ook so dankbaar dat Rennee en julle kinders ongedeerd is. My gedagtes en gebede is met julle en almal in Kalifornië. Baie sterkte.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.