IMF gee voorstelle vir SA se ekonomiese herstel

IMF

Die Internasionale Monitere Fonds. (Foto: Bnr.bg)

Die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) het ʼn reeks aanbevelings gemaak waaraan Suid-Afrika moet voldoen indien die regering die ekonomie weer op dreef wil kry. Dit sluit in dat staatsdienssalarisse besnoei moet word en minder geld aan sukkelende staatsondernemings betaal word.

Die IMF het die afgelope tien dae sleutelpersoneel in Suid-Afrika ontplooi wat virtuele vergaderings met verskeie leidende rolspelers in die Suid-Afrikaanse ekonomie gevoer het oor die land se ekonomiese penarie.

Ná afloop van die proses het die IMF, aan wie Suid-Afrika sedert verlede jaar skuldpligtig is en van wie se mening die land dus nou versigtig kennis moet neem, ʼn verklaring uitgereik waarin hy sy standpunt oor die land se ekonomiese posisie uiteensit. Die fonds stel dit ook duidelik wat gedoen moet word om die situasie reg te stel.

Volgens die IMF het die koronavirus-pandemie Suid-Afrika se groei benadeel en die land se fiskale kwesbaarheid vererger.

Daarom moet die regering dringend fiskale begrotingstekorte en soewereine skuldvlakke verminder deur staatsdienssalarisse in te kort en minder geld oor te betaal aan ondoeltreffende staatsbeheerde ondernemings.

Voorts bevind die IMF dat strukturele veranderings aan die Suid-Afrikaanse ekonomie die enigste manier is om op lang termyn te groei.

Vantevore het die IMF hiermee bedoel die relatiewe deregulering van die arbeidsmark, en ʼn oorskuif van beleidsklem vanaf die ideaal van ʼn ontwikkelingstaat en staatsgeleide ekonomiese groei na ʼn ideaal van vryemarkbeginsel en private, entrepreneurgeleide ekonomiese groei.

In sy amptelike reaksie het die Suid-Afrikaanse tesourie gesê die land se regering sal voortgaan om die hokslaan van die pandemie te prioritiseer en entstowwe sal op ʼn korrekte en deursigtige manier bekom word.

Voorts voer die nasionale tesourie aan dat Suid-Afrika daartoe verbind is om sy skuldvlakke oor die volgende vyf jaar te stabiliseer en oor dieselfde tydperk te begin om die begrotingstekort gaandeweg te verminder.

Wat die inkorting van staatsdienssalarisse betref, sê die nasionale tesourie dat die afskaal van sulke salarisse regeringsbeleid is, maar die inwerkingstelling daarvan word vertraag deur vakbonde se hofsaak om verhogings te probeer afdwing.

In dié betrokke hofgeding het die arbeidshof onlangs ten gunste van die staat en teen die vakbonde bevind, maar die vakbonde appelleer tans.

Laastens het die nasionale tesourie gesê Suid-Afrika is verbind tot strukturele hervorming van die ekonomie, maar glad nie uitgespel wat daarmee bedoel word nie.

Wat die nasionale tesourie uitgelaat het, is dat die IMF se voorstelle, en die mate waartoe dit met die voornemens van die nasionale tesourie oorvleuel, die presiese teenoorgestelde is van wat die ANC deurgaans in die parlement verkondig en prakties deur wetgewing, regulering en oorsigdruk afdwing.

Daar is tans ook absoluut geen aanduiding hoegenaamd van ʼn koersverandering nie – en uitsprake van ʼn verskeidenheid kabinetsministers in sleutelportefeuljes druis direk in teen die IMF en die nasionale tesourie se beleidsvoorkeure.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Andrew ·

Presies die rede hoekom die ANC so lank gevat het om die IMF se geld te vat.

Adam Adriaan ·

Die IMF amptenare sal nog agterkom dat om met die spul te praat is net so goed as om met ‘n klomp grafstene in die kerkhof te praat. Horende doof sienende blind. Daar gaan dadels van kom.

Madz ·

Lekker giggel ek nou…. maar natuurlik gaan daar NIKS van kom nie!!

PH ·

Deregulasie, vryemarkbeginsels en private besighede? Presies wat die kommunistiese ANC probeer omvergooi.

Wilhelm ·

Wel IMF, as jy nie hou van wat hulle doen nie, moenie vir hulle geld leen nie.

Pieter ·

My aanbeveling is: verwyder die ANC regime en vervang met ‘n Christelike regering.

Ek glo nie dat die ANC regime ooit enige skuld wil afbetaal nie, hulle sal eenvoudig nie betaal nie of versoek dat skuld afgeskryf word en die blaam op Apartheid plaas.

Hennie ·

Bwah hahaha haaaa hahahaha… Ernstig!? Hierdie klomp ANC paloekas gaan toiletpapier maak van die IMF! Hoe leen jy geld aan ‘n regering wat korrup is?

Die Wolf ·

IMF julle moet nog baie leer van Afrika kultuur. Salarisse snoei van regerings amptenare! Dit sal nie maklik gebeur nie . Julle leef in n droom wereld. Die enigste manier is om fondse te weerhou totdat julle tevrede is dat dit gedoen is.

Grassie ·

Die IMF praat nie van diefstal, bedrog en plundering nie, wat waarskynlik een van die groot redes vir ons land se finansiële penarie is.
Die IMF sal nog leer dat niemand enige gesonde verstand in ons regering se klapperdoppe kan inmoker nie.

Sarel ·

Ons weet tog hulle gazn nie na die Westerse Instellng luister nie. Kyk eerder na China

Pieter ·

Julle het n beter kans om n krokedil te borsvoed as om die korrupte ANC te kry om te luister

Francois Le Cochon ·

Skaf BEE, minimum loon, en te oorbeskermde arbeids wetgewing af. Laat die beginsel van ‘n vryemark stelsel die ekonomie herstel. Te veel wil ‘n werk he^, maar wil nie werk nie.

Chris ·

Die diewe gee aan die ander diewe raad. Jakkals nooi vir gansie kom eet vanaand by my. Watter uiterste klugspul. Dit is om van katte te skiet “komrate”.

Snowball ·

Die IMF kan eerder probeer om botter met ‘n warm naald in ‘n ystervark se agterent te stop, dit sal veel makliker wees as om deur te dring tot die verwaande ANC.

Stephen ·

The deaf dumb and blind Liberals in the IMF should stop walking on eggs and face the No 1 problem in SA head on. No need to send so called “Key personnel” to SA. It is not the economy, nor Corona, or apartheid. but CORRUPTION. Trillions of Dollars are being stolen and the problem is ongoing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.