IMF-lening: ‘Belastingbetaler gaan vir gelag moet betaal’

Minister Tito Mboweni. (Foto: Nokuthula Mbatha/ANA)

Kommer heers dat die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) se bykomende noodlening van miljarde rand aan Suid-Afrika bloot in korrupte hande gaan beland en dat die mees kwesbares in die land nie ʼn sent van dié geld gaan sien nie.

Dié kommer spruit uit bewerings oor tenderbedrog en korrupsie te midde van die Covid-19-pandemie wat net verlede week die lig gesien het.

Daarom vra politieke partye en vakbonde nou dat daar deursigtig met die IMF se lening omgegaan word om te verhoed dat korrupte staatsamptenare bloot die geld misbruik terwyl die belastingbetaler “vir die gelag moet betaal”.

“Daar moet boek gehou word van elke sent,” meen die vakbond United Association of South Africa (Uasa).

Maroela Media het Dinsdag berig die IMF se uitvoerende raad het Suid-Afrika se aansoek om ’n bykomende noodlening ten bedrae van $4,2 miljard (sowat R71 miljard) goedgekeur. Volgens die regering gaan dié geld aangewend word om die maatskaplike en ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie op die land teen te werk.

“Terwyl Uasa verstaan dat Suid-Afrikaners hulp nodig het in hierdie moeilike tye, is die werklike moontlikheid dat ʼn deel van hierdie geld nie die beoogde ontvangers of dienste gaan bereik nie, ‘n netelige kwessie wat vooraf aangespreek moet word,” het Stanford Mazhindu, woordvoerder van Uasa, in ʼn verklaring gesê.

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, het op sy beurt gesê die Beweging dring nou daarop aan dat presiese inligting rakende die aanwending van die geld bekend gemaak moet word om sodoende deursigtigheid te verseker. “Met ’n verwagte staatskuld van oor die 80% van die bruto binnelandse produk (BBP) vir die jaar, kan ons nie bekostig dat fondse wat ten duurste bekom word om Suid-Afrika tydens die krisis te help, deur korrupte kaders gekaap word, terwyl belastingbetalers vir die gelag moet betaal nie.”

Die DA het intussen ook daarop gewys dat dit die eerste keer sedert 1994 is dat Suid-Afrika van IMF-lenings gebruik moet maak. Volgens die opposisieparty is dit ‘n duidelike teken van die broosheid van die land se ekonomie ná jare van wanbestuur, swak beleid en korrupsie.

Die party dring daarop aan dat Tito Mboweni, minister van finansies, maandeliks ʼn verslag publiseer waarin uiteengesit word hoe die IMF-fondse bestee is, watter maatskappy begunstigdes is en wie die direkteure van dié maatskappye is.

“Die DA is daartoe verbind om toe te sien dat die ANC aanspreeklik gehou word vir die wanbestuur en diefstal van openbare fondse,” het Geordin Hill-Lewis, die DA se skaduminister van finansies, in ʼn verklaring gesê.

Volgens Buys gaan die Solidariteit Beweging boonop binnekort met die IMF in verbinding tree om te verseker dat daar strenger vereistes en maatreëls in plek gesit word vir toekomstige lenings met betrekking tot korrupsie en reddingsboeie.

“Hierdie vereistes is nie alleenlik daar om die IMF te beskerm nie, maar om Suid-Afrikaanse belastingbetalers en die land as ’n geheel teen verkwisting te beskerm. Ongeag die vereistes, indien daar voorts nie hervormings plaasvind wat pro-besigheid en ekonomiese groei is nie, sal Suid-Afrika in ’n strik van skuld vasgevang word waaruit hy moeilik sal kan herstel,” het Buys gesê.

Volgens Mazhindu is Uasa ook bekommerd daaroor dat Suid-Afrika nie die skuld sal kan afbetaal nie, aangesien die regering nie eers in staat is om sommige van die land se staatsondernemings se skuld te vereffen nie.

“Uasa wil ook die regering daaraan herinner dat die IMF nie net geld onvoorwaardelik uitleen nie. Suid-Afrika sal aan alle IMF-voorwaardes moet voldoen om van die fondse gebruik te maak. Suid-Afrikaners is egter glad nie ingelig oor die voorwaardes van hierdie lening nie.

“As belastingbetalers het ons die reg om hieroor ingelig te word, want dit is met die belastingbetaler se geld dat die lening in die komende jare vereffen sal word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

Werner ·

Glo nie die belastingbetaler kan meer al die skuld betaal nie maak maar n ander plan

Anoniem ·

Korrupsie en wanorde is al soveel jare aan die gang dat die ANC hulle glad nie steur aan wat enigiemand te sê het nie. Hulle neem hoeveel hulle wil en wanneer hulle wil. En terwyl hulle al die pad bank toe lag, weet hulle wie gaan die gevolge dra en wie gaan die geld terugbetaal. Maar hulle dag kom ….

Rentia ·

Ons gaan nie enigeiets sien van daardie geld nie. Geen hulp hoegenaamd vir wit besighede nie. Ironies is ons geld goed genoeg… Ons gaan nog die R500 miljard moet uitkrap ook vir die sogenaamde covid fonds, ‘n bankrot SAL finansier en nou nog miljarde?

Dit word amper te duur om aan die lewe te probeer bly…

Kobus ·

Daar word beslis boek gehou….. Die Duk Tjekboeke word deur die ANC en hulle makkers in hulle huise gehou.

Adam Adriaan ·

Hulle sal maar ‘n fabriek moet koop en mense aanstel om die geld wat terug betaal moet word; te maak.; want die volk kan nie meer by hou om die diefstal te bevonds nie!!!!

Alleen Wolf ·

Hulle print die geld, so dis nie vir hulle ‘n probleem nie, weet net nie of die IMF hulle “fake” note gaan aanvaar nie

Genis ·

Wie gaan boekou? Die ANC met hulle korrupte, met hulle Chinese Book Keeping?

Mariana ·

Ja nee die belastingbetaler is al so voos betaal.aan al die regering se korrupsie. Belastingbetalers moet naniere vind om hierdie ewige betaal te stop.

Anel ·

Ek het ‘n baie beter plan. Hulke miet sê hoeveel hulke benodig vir wat en bewyse gee. Dan moet die IMF die geld gee soos uit een gesit. Nie’ n sent moet na die regering gaan dan. Dalk kan dit bietjie help.

Kokerboom ·

Dis nogal ironies. Al die lenings word ge-oormerk vir COVID behoeftes(sosialisme op sy beste). Lekker rookskerm. Nerens word gepraat van ekonomiese ontwikkeling/opheffing/ bevordering, ‘n generator vir inkomsteverkryging om verpligtine na te kom. Die rawe is obsessief om te kry korttermyn maar GEEN planne vir langtermynverpligtinge. Nerens dwing Mboweni drastiese staatsbesnoeiing af…gelde wat leningsbedrae kan verklein!!!Ministers maak soos hul wil!!

Fedup ·

Wellll, if someone with a bit of common sense can keep track of this money, and prove that it is either being used for what it was supposed to or that is was stolen by the mushroom society, we cannot be held responsible for that small little payback.
Only in my little world, i guess.

Johan ·

Dit is n roekeloose lening, ons behoort nie n sent terug te gee nie. As die IMF so simpel wil wees om dit vir die ANC te gee moet hul dit maar by die ANC gaan soek….wat n gemors! Wie gaan dit kan terugbetaal….niemand..

PH ·

“Daar moet boek gehou word van elke sent,”

Kry eers ‘n boek en ten minste een sakrekenaar. Stel dan iemand aan wat ten minste 70% in matriek behaal het.
As dit moontlik is.

Gerhard ·

Weereens moet die minderheid die meerderheid onderhou. As mens so daarna kyk, is die land eintlik n bitter ryk land, want as ons dit kan reg kry dat n handjie vol die meerderheid moet onderhou en betaal vir hul eie dienste deur middel van belasting……

Danie ·

1 Miljard vir die land en 70 miljard vir die ANC se korrupte leiers. Hoe belaglik dat die IMF nie eens kan sien wat in die land aangaan nie.

Pieter ·

Ons betaal reeds vir anc se gelag (net jammer dis glad nie snaaks nie) vanaf 1994. Ek is sooo moeg om deur anc msibruik te word, ek het net geen meer krag om enigsins jammer te voel vir die regte armes nie, of om hulle te help nie. Dis ek vir myself en my gesin, te hel met die res.

Leon ·

Suid Afrika het nie nodig gehad om ‘n lening aan te gaan nie. Hulle het net nodig gehad om ‘n paar veranderings aan hulle beleid te doen.
Skraap SEB, stop plaas en grond grype, stop rassisme en swart rassistiese uitsprake, en doen iets aan plaasmoorde. Dan sal die industrie vertroue in die regering kry en dan sal daar oor die duisend miljard rand beskikbaar wees om die land op te bou.
Baie maklik. Ongelukkig sal die ANC nie van hulle oogklappe ontslae wil raak nie, want dit is lekker om net te skep en alles net binne die ANC binnekring te hou.

JohanEtz ·

Dit kom vir my voor die ANC dink geld lê vrylik rond, soos in ‘n kar se asbak. Steek net ‘n hand daarin ek gryp ‘n vuisvol soos en wanneer hulle wil….

Josh ·

Ons skuld al so baie geld dat die land se bynaam “Little China” is..

Alleen Wolf ·

En nou praat hy met sy kader om anti korrupsie maatreels op te skerp, half laat sou ek se.

Persheks Adri ·

Waar dink hulle moet ons geld uit bollie huh? Ons verloor ook al die pad, maar moet betaal! Laat die taxi organisasies bietjie betaal en sommer die hele kabinet comrades ook ons is moeg betaal vir hulle swak besluite en magsmisbruik om nie eers te praat van korrupsie nie! Oe ee ee aikona ne!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.