Impakstudie oor onteiening bloot ‘politieke regverdiging’

Sakeliga sê die regering se impakstudie is bloot ‘politieke regverdiging’.(Argieffoto: pixabay)

“Die departement van openbare werke en infrastruktuur se sosio-ekonomiese impakstudie lyk meer na ’n politieke regverdiging vir onteiening sonder vergoeding as ’n billike ontleding van die werklike koste-implikasies.”

Só het Gerhard van Onselen, senior analis by Sakeliga, Maandag gesê oor die 28-blad-verslag wat dié organisasie met ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) bekom het.

Die verslag wat aan Sakeliga gestuur is, sit die regering se assessering van die koste en voordele van die omstrede onteieningswetsontwerp uiteen, maar bevat geen berekeninge, bedrae, ontledings of data om die argumente wat in die verslag gemaak word, te staaf nie. Verreikende ekonomiese gevolge is ook nêrens ter sprake nie.

Van Onselen sê sosio-ekonomiese studies is verpligtend om te verseker dat die kostes van enige veranderings aan wetgewing en beleide nie groter is as die voordele nie.

“Die impakstudie beweer dat die Onteieningswet van 1975 eienaars onregverdig behandel en dat die onteieningstelsel van Suid-Afrika met die Grondwet moet ooreenstem. Die studie beskou die voorgestelde wetsontwerp op onteiening as die antwoord op hierdie uitdagings.”

Van Onselen sê dit is egter ’n ongeordende studie wat gebruik word om die ontneming van eiendomsreg te steun.

“Dit blyk ook dat dié sogenaamde studie al ’n geruime tyd afgehandel is, maar van die publiek weerhou is.”

Boonop sê Van Onselen dat dié studie nie aan internasionale standaarde vir die vereistes van ’n impakstudie voldoen nie.

“Die huidige beoordeling, volgens ons oorweging, voldoen nie aan die maatstawwe van ’n noukeurige regulatoriese impakstudie nie. Dit kom eerder oor as ‘n politieke regverdiging vir die onteieningsbeleid en hou nie werklik rekening met die koste van die voorstel nie.”

In die dokument word onder meer beweer dat banke voordeel sal trek uit ‘n toename in hul verbandboeke weens onteiening en staatsbeleid. Sakeliga beskou hierdie bewering as feitelik ongegrond.

“Die dokument dui ook nie die impak aan van die onteieningsbeleid op byvoorbeeld BBP-tendensgroei, werkloosheid, belegging en armoede nie. Inteendeel, dit gaan net oor direkte koste vir die staat – byvoorbeeld om teen litigasie te verdedig – en nie ekonomiese gevolge nie.”

In terme van die ontleding van die vraag of die wetsontwerp belegging sal afskrik, word die beleggers se kommer bloot van die hand gewys deur te beweer dat sulke beweringe “swak ondersteun word” en word daarop gewys dat daar “geen empiriese bewyse” is om die waarneming van die afskrik van belegging te ondersteun nie, voeg Van Onselen by.

Benewens al die staatsdepartemente word instansies soos Agri SA, die Bankvereniging van Suid-Afrika (BVSA), die Amerikaanse kamer vir koophandel, Eskom en Nedbank in die verslag genoem.

“Teenstrydige stemme soos dié van Sakeliga, die Instituut van Rasseverhoudings en die Vryemarkstigting word uit die verslag weggelaat.”

Besware soos dié van beleggers word kortliks genoem, maar dan vinnig weer afgemaak.

Sakeliga sê hy doen ’n beroep op die instansies wat in die verslag genoem word om die inligting wat hierin vervat is, te verifieer.

Martin van Staden, regsgenoot by Sakeliga, sê dat Sakeliga se kommentaar nie as teenstrydig met die bevindings van ‘n regeringsverslag beskou moet word nie.

“Daar is niks van wesenlike aard om mee saam te stem nie, want die dokument kom neer op ‘n uitgebreide opinieartikel. Ons stem miskien nie saam met die uitgesproke mening nie, maar daar is geen werklike feite, data of ontledings om in ag te neem nie.

“Dit is nie heeltemal onverwags nie, want daar is in werklikheid geen voordele aan ‘n regstelsel wat regte ontneem soos die beoogde Wetsontwerp op Onteiening sou doen nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Richardt ·

My generasie en sover ek weet ons volk, is groot gemaak om anti-kommunisties en anti-sosialisme te wees. Hier is ‘n direkte ‘rooi’ aanslag op en teen ons volk en die ‘akademici’ besig pragtige woordjies en argumente oor redes waarom dit nie koste-effektief sou wees en elke ander ‘gematigde’ argument teen onteiening of teen die intensiteit en omvang van die beplande ‘onteiening’…
Dis van poog om met kommuniste te ‘redeneer’ waarom ons sit waar ons is. Hulle beplan om die roof van ons eiendom, bates en oorlewingsmiddele ‘wettig’ te maak. Hule beplan ‘n grootskaalse aanslag en gewapende roof teen ons volk, maar ons wil redeneer…
Om redelikheid van onredelikes te verwag is ‘n vorm van kranksinnigheid!
Die antwoord is NEE!
As hulle wil onteien, laat hulle by die ander 92% van die bevolking begin en kyk hoe dit gaan.
Onteiening is teen my en my volk se kultuur!!!
Gee die pinkie en verloor die arm en dan die hele lyf!

Hennie ·

Niks nuut nie… Hierdie is kenmerkend van die swaap wat die land regeer!

Pieter ·

Dis mos vanselfsprekend dat anc hul nie steur aan opinies wat hul nie pas nie, al plek wat huidiglik nog werk is die howe.

Pietertjie ·

Pleks hulle doen ‘n impakstudie oor bedrog, diefstal en kader-ontplooiing.

Richardt ·

PROGRESSIE:
Eers wou hulle 30% van plaasgrond uitkoop met gewillige koper en verkoper.
Toe wou hul 50% vennootskappe tussen eienaars en werkers afdwing.
Toe wil hul al die grond vat en nie daarvoor betaal nie…
Dit terwyl hul dit regverdig deur ons en ons voorouers as diewe en dus kriminele uit te wys!

Ek ken geen volksgenoot wat eiendom, ‘n plaas of ‘n besigheid, of nywerheid uit apartheid gekry het nie. Elkeen moes geld leen, inisiatief, deursettingsvermoë, harde werk en swaarkry deurgaan, voordat sukses begin voorspoed bring het.

Die gemiddelde volksgenoot het soveel gebaat by apartheid as wat die gemiddelde swarte tot nou toe gebaat het uit swart regering. In beide gevalle het die regeerders en hul binnekringe voordeel getrek en was die res net kanonvoer wat op hulself aangewese was.
Maar nou ja, as die ANC ‘n miljoen se bates verdeel tussen 50 miljoen, sal almal mos ryk wees?

Maar miskien het ek net die verkeerde mense geken, né ?

Pieter ·

Die anc kommuniste kan my plaas vat hulle moet net die skuld ook saam vat. Ek sal nie my verband betaal nie. Die bank kan net maak wat hulle wil. Wat gaan die bank doen my plaas vat wat die anc klaar gevat het.

DIABLO ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die buiteland nie kan sien hoe ons op alle vlakke afgemaai word nie. Alles wat ons opgebou het, word afgevat en afgebreek. Hierdie “impakstudie” help net soveel soos krap jou kop as jou alie jeuk!

Anoniem ·

Hoe vinniger ons nasie/landsburgers besef dat die Regering absoluut besig is om ‘n Kommunistiese beheerde land te skep hoe beter. Hul wil absoluut alles in hul mag hê en almal sal krepeer van ellende.

ES ·

Die regering en enige staatsinstansie, is oneerlik op al hul verslae en impakstudies. Met die wysiging van die vuurwapenwet het hul klomp instansies en organisies genoem wat hul “geraadpleeg” het.

Daardie instansies het bevestig dat hul nie geraadpleeg was nie. Enige verslag wat nie onafhanklik gedoen word nie, is nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.

Boon ·

Die grondwet bevat reeds alles in art 25 wat nodig is om grond te onteien as die rede billik is. Vir 27 jr het die regering hulle verantwoordelikheid versuim om dit te doen. Al wat gedoen moet word is om wetgewing op te stel wat die voorwaardes en prysvasstelling duidelik omskryf. Sakeliga en AgriSA en politieke partye moet die sg. Voogdyskap teenstaan, want dis dekmantel vir nasionalisering

Dirk Mostert ·

Navorsing is nie meer wat dit was nie. Dit geld alle terreine.

Steffen ·

Maroela ,
Kry asb AgriSA en Nedbank se formele standpunt rondom grond / bate onteiening.

Ek vermoed vuilspel in die agtergrond en in geslote raadsale, terwyl die wapenwet as afleier gebruik word.

Piet ·

As onteiening sonder vergoeding ‘n oplossing vir Afrika is, hoekom dan soveel Zimbabwiers en Zambiers in SA? Dis dan in hulle lande toegepas.

Althes ·

Waar laat dit ons indien daar nie behoorlike impakstudie met gestaafde syfers is nie?
Ons eiendom behoort aan die bank tot ons dit afbetaal.
Watter regsaspekte en organisasies kan hierdie beveg vir ons jan alleman op straat?
Gaan die ANC lede dan nou goedsmoeds hul eiendomme en plase aan die Staat gee?
Ek twyfel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.