Impala-myn: Vakbonde bevraagteken veiligheid by myn

Skag 11 by Impala Platinum se myn by Rustenburg. (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

Vakbonde het Dinsdag die veiligheidsmaatreëls by Impala-myn bevraagteken ná ʼn hysbak geval en die lewens van 11 mynwerkers geëis het.

Daarbenewens is 75 werkers beseer toe die hysbak Maandag laatmiddag in skag 11 van Impala Platinum (Implats) se myn by Rustenburg skielik na onder in die skag getuimel het. Die hysbak het mynwerkers aan die einde van hul skof na die oppervlakte geneem.

“Die voorval laat baie vrae ontstaan oor beroepsgesondheid en veiligheid,” het Geoffrey Moatshe van die mynwerkersvakbond NUM in ʼn verklaring gesê. Volgens hom moet die hysbakke gereeld nagesien word.

“As dit nagesien en in stand gehou is, kon hierdie voorval verhoed word,” het Moatshe aan AFP gesê.

Johan Theron, woordvoerder van Implats, het Dinsdagmiddag bevestig dat al 75 beseerde persone steeds in die hospitaal bly. Veertien van dié persone is in ʼn kritieke toestand.

Nico Muller, uitvoerende hoof van Implats, het bevestig alle mynboubedrywighede by die myn bly opgeskort. “Ons eerste verantwoordelikheid en prioriteit bly die veiligheid en welstand van ons werknemers. Bedrywighede by skag 11 en skag 11C bly gesluit totdat alle interne prosesse afgehandel is.”

Theron voeg by indien enige menslike fout of nalatigheid die oorsaak was van die tragedie, sal Implats ferm en beslissend optree.

Theron verduidelik skag 11 is 1 000 meter diep met bedrywighede oor 20 vlakke. Ná die werknemers na vlak 17 gehys is, soos geskeduleer, het die voerband skielik van rigting verander en afwaarts beweeg. “Die noodprotokol vir só voorval is onmiddellik en outomaties geaktiveer. Alhoewel die opwentou in plek was, het die noodprotokol ongelukkig versuim om dadelik die hysbak se skielike val na onder te voorkom.”

Die hysbak het op vlak 20 skielik tot stilstand gekom, sowat 180 meter onder vlak 17, naby aan die onderkant van skag 11. Dit het ʼn ernstige impak gehad op die 86 werknemers wat regop in die hysbak gestaan het. Aangesien die hysbak nie gevryval het nie, is die presiese remkrag nie bekend nie.

Volgens die Mineraleraad van Suid-Afrika (MCSA) is 41 mynwerkers dood sedert die begin van die jaar. Implats het in Augustus gesê vyf werkers is die afgelope 12 maande dood by verskeie myne.

“Dit is ʼn tragiese ongeluk,” het Japie Fullard, voorsitter van ʼn veiligheidsinisiatief van die MCSA, gesê. “Dit dien as ʼn sterk herinnering dat daar nooit ʼn gebrek aan fokus of waaksaamheid kan wees wat betref veiligheid by myne nie.”

James Lorimer, die DA se skaduminister oor minerale hulpbronne, sê die uitslag van die ondersoek na die oorsaak van die tragedie moet openbaar gemaak word. “Indien daar nalatigheid was, moet die verantwoordelike persone aanspreeklik gehou word. Stappe moet ook gedoen word om seker te maak só iets gebeur nooit weer nie.”

Lorimer het ook sy innige meegevoel betuig met die families, vriende en kollegas van die betrokke mynwerkers.

Abigail Moyo, woordvoerder van die vakbond Uasa, wens die beseerdes spoedige herstel toe. Sy sê Uasa is ook bekommerd oor die welstand van alle werkers in die mynboubedryf. “Uasa ondersteun Impala Platinum en sy werkers ten volle tydens hierdie uitdagende tydperk. Ons bly verbind tot die zero-skade-veiligheidsinisiatief in die bedryf. Een besering of sterfte is een te veel.”

Alfred ‘Bigboy’ Moagi, Noordwes-sameroeper vir Rise Mzansi, sê die voorval dien as herinnering vir mynbestuur aan die behoefte vir gereelde en deeglike veiligheidsondersoeke. “Dit dien ook as herinnering vir die departement van minerale hulpbronne om die Wet op Gesondheid en Veiligheid in Myne af te dwing vir die veiligheid van die mans en vroue wat daagliks hul lewens waag om ons land se minerale rykdom uit te haal.”

Rise Mzansi versoek dat die ondersoek na die voorval bespoedig moet word. “Die families van die oorledenes verdien antwoorde en ʼn verduideliking.”

Die ondersoek na die voorval duur voort in samewerking met die departement van minerale hulpbronne en energie. Klik hier om te lees hoe dié hysbakke werk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.