Implats-hoë in hof oor afsonderingsregulasies

Mark Munroe, uitvoerende hoof van Impala Platinum se bedrywighede in Rustenburg. (Foto: Implats)

Die uitvoerende hoof van Impala Platinum (Implats) se bedrywighede in Rustenburg het Vrydag in die hof verskyn nadat hy beskuldig is van oortreding van die afsonderingsregulasies.

Die polisie in Noordwes het Mark Munroe beveel om Donderdag by die polisiestasie aan te meld nadat hy in onder meer ʼn SMS gevra het dat sekere werkers na die myn begin terugkeer.

Brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het gesê Munroe het Vrydag in die Tlhabane-landdroshof verskyn nadat hy vroeër in hegtenis geneem is. Die oortreding is volgens Naidoo Dinsdag begaan.

“Hy is op borgtog van R60 000 vrygelaat en die saak teen hom is tot 4 Augustus uitgestel,” het Naidoo gesê.

Johan Theron, ʼn woordvoerder van Implats, het gesê Munroe – as operasionele hoof van die myn – se naam verskyn op kommunikasie wat na mynwerkers uitgestuur is om vanaf 14 April terug te keer werk toe. ʼn SMS is onder meer uitgestuur om spesifieke werkers daaroor in te lig.

Volgens Theron het werkers wat gaan terugkeer ook ʼn permit nodig om dit te doen en dat dié permit deur Munroe onderteken word.

Theron het ook gesê daar was die afgelope ruk omvattende gesprekke oor hoe die mynboubedryf sy bedrywighede gaan begin hervat. Daar is op ʼn proses ooreengekom en maatreëls daarvoor is saam met die departement van minerale hulpbronne getref.

“Daar is egter ʼn duidelik interpretasieverskil van die afsonderingsregulasies tussen die polisie, die departement van minerale hulpbronne en die mynboubedryf,” het Theron gesê.

Volgens hom het die polisie die afgelope naweek padblokkades by die myn gehou en mense voorgekeer. Hy het ook gesê hy weet nie van enige ander myne wat soortgelyke probleme ondervind het nie en dat die mynboubedryf reeds geruime tyd werk aan die proses dat myne sommige werkers ná die Paasnaweek kan begin terugroep.

Die minister van samewerkende regering, Nkosazana Dlamini-Zuma, het gistermiddag verskeie veranderings aan bestaande regulasies te midde van die verlengde algehele landwye afsondering gemaak. Dit sluit in dat myne voortaan toegelaat sal word om 50% van hul bedrywighede te hervat sodat hulle ná die afsondering weer ten volle operasioneel kan wees.

Dlamini-Zuma het gesê streng maatreëls moet egter geld. Mynwerkers wat nou terugkeer werk toe sal vir Covid-19 nagegaan moet word. Kwarantynfasiliteite moet beskikbaar wees, sou mynwerkers dit benodig en mynmaatskappye moet ook in hierdie tyd vervoer vir hul werkers reël.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Rodger17 ·

Maak myne toe dan word die people nie tenagekom nie!Hoop dit is no work no pay by myne.Laat werkers maar by huis sit en krepeer en vir cyril geld vra hyt baie

Scalla ·

Die vasstel van die borgbedrag spreek boekdele, wetgewing en reels word nie deur al die rolspelers eenders geintrepeteer nie.

Die Wolf ·

Wat is nuut. Dit is hoekom na ons verwys word as die piesang republiek.

Anel ·

Om enige misdaad nou te pleeg lyk dit my is wettig. Solank jy nie die afsonderingsregulasie verontagsaam nie.
Mense kry dan vir moord R 500.00 borg of minder! Ek dink mnr Munroe moet hulle roer met siviele eis. Ons is besig om in ‘n polisiestaat te verander. Geen demokrasie meer hier nie.

Tino ·

Dis darem ‘n hekse jag, daar gaan geskiet word erens, marikana se opvolg is aan die broei

johan ·

Die agbare minister kuier by haar vriende vir ete. 2 maande geskors waarvan 1 maand sonder betaling.
Saak afgehandel. Nou gebeur dit met myn bestuurder. hoe werk dit.

Eerlik ·

Diskrimminasie op die hoogste vlak!!! Sekere “celeb narre” kry R 1500 borgtog oor n afsonderings uitlating oor die lug van n radio stasie maar Mnr Blank moet R 60 000 opdok.

PieterP ·

Gister is daar berig dat 2 mense borg van R1000 elk toegestaan is vir moord. Die wit man se borg is R60 000! Hoe de… Ongeluk kry die regstelsel dit reg???

Ansie ·

Borgtog van R60 000, maar die verkragter van ‘n jong meisie kry borgtog van R2 000 in ‘n tyd waar die regering en regstelsel groot gewag maak van misdaad teen vroue en kinders (bloot lippetaal?). Wat ‘n totale gekkespul!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.