Implats: ‘Hysbak val toe outomatiese stelsel ingee’

Skag 11 by Impala Platinum se myn by Rustenburg. (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

“Ons weet wat gebeur het. Ons weet net nie hóé dit gebeur het nie,” sê Impala Platinum (Implats) nadat ʼn hysbak Maandag met tientalle mynwerkers by sy myn naby Rustenburg sowat 200 meter ver getuimel het.

Altesaam 12 mynwerkers is in die ongeluk dood en 74 beseer.

“Die kabel het nié gebreek nie,” het Johan Theron, woordvoerder van Implats, Donderdag aan Maroela Media bevestig. “Die outomatiese beheerstelsel van die hysbak het om ʼn onverklaarbare rede wanfunksioneer en die hysbak in die verkeerde rigting teen ʼn hoë spoed gestuur.”

ʼn Ondersoek is sedertdien van stapel gestuur om vas te stel hoe dit gebeur het.

Theron sê dat die operateurs aan diens dadelik beheer oor die outomatiese beheerstelsel geneem en die noodremme aangeslaan het toe die operateurs besef het daar is moeilikheid. Dit was egter te laat en die hysbak het teen ʼn staalkonstruksie onder in die skag gebots.

Sterftes is op al drie vlakke van die hysbak aangeteken. Die hysbak het drie vlakke, elkeen met die kapasiteit om 35 mynwerkers te vervoer.

Die meeste sterftes en ernstigste beserings is egter op die onderste vlak aangemeld.

“Hoe laer jy was, hoe groter was die impak,” sê Theron.

Skag 11 by Impala Platinum se myn by Rustenburg. (Foto: PHILL MAGAKOE / AFP)

Só verloop gebeure

Theron verduidelik dat mynwerkers in ʼn groot vierkantige toegeboude struktuur van staal met ʼn platform na bo of onder in die skag geneem word. “Dit is soos ʼn hysbak. Net baie sterker en meer industrieel.”

Die meeste myne maak gebruik van dié hysbakstelsel.

“Dié platform is vas aan ʼn kabel,” verduidelik Theron. “Die kabel gaan dan op in die skag waar dit oor ʼn wiel aan die bokant van die skag en ʼn groot elektriese, hidrouliese drom en dan nog ʼn wiel gaan voordat dit na onder in die skag gaan.”

Die kabel is onder in die skag aan ʼn teengewig vas wat byna net soveel weeg soos die hysbak van staal wanneer dit volgelaai is.

Theron sê die hysbak is sowat 20 jaar gelede deur ʼn hysbakmasjiendrywer aan diens beheer. Die stelsel is egter later geoutomatiseer.

“Dit word dus nou basies deur ʼn rekenaarsisteem beheer wat onder meer moet bepaal of die kabel in die regte rigting en teen die regte spoed draai. Daar is egter steeds ʼn persoon aan diens wat in ʼn noodsituasie beheer oor die kontrole kan neem.

“Dis amper soos ‘auto pilot’,” verduidelik Theron. Die vlieënier kan altyd beheer neem oor die vliegtuig.”

Die beheerstelsel het egter ingeboude veiligheidsmaatreëls wat die persoon aan diens in kennis stel indien daar ʼn probleem opduik. “Vir die mees kritieke instrumente is daar ook rugsteun.”

Tog het die beheerstelsel geen waarskuwings gegee nie.

mynboubedryf-mynbouhandves-steenkool

Argieffoto (Foto: Hangela/Pixabay)

Theron sê die eerste groep mynwerkers het die betrokke middag op vlak 20 in die hysbak geklim voordat die hysbak na vlak 19 beweeg het. Hier het nog ʼn groep mynwerkers ingeklim en die hysbak het na vlak 18 beweeg. Nog ʼn groep mynwerkers het ingeklim en die hysbak het na vlak 17 beweeg.

“Dit het dus op drie plekke mynwerkers sonder voorval opgelaai,” verduidelik Theron.

“Toe merk die operateurs op die oppervlakte op dat die hysbak teen ʼn hoër spoed beweeg as wat dit moet, en besig is om te versnel. Dit is egter onmoontlik om teen daardie spoed op te gaan want die motor in die stelsel is gekalibreer om teen ʼn sekere standaard spoed op te gaan,” verduidelik Theron.

“En toe hulle mooi kyk toe sien hulle maar die drom [wat op die oppervlak sigbaar is] draai in die verkeerde rigting. Hulle besef toe hierdie ding gaan nie op nie maar eerder af en is besig om spoed op te tel.”

In hierdie stadium het operateurs die noodremme aangeslaan.

“Omdat die kabel ʼn kilometer lank is, rek hy soos ʼn jojo wanneer jy die brieke aanslaan. En in die proses van die rem en die kabel wat rek, het die onderkant van die hysbak onder teen ʼn staalkonstruksie gebots.”

Theron sê indien diegene op die oppervlak nie gesien het dat daar moeilikheid in die skag is nie, sou die hysbak dwarsdeur die staalkonstruksie gebars het en almal in die hysbak sou waarskynlik gesterf het.

“Die remme wat ingeskop het, het basies lewens gered.”

Daar sou waarskynlik minder sterftes gewees het as die remme sekondes vroeër aangeslaan was, aangesien die hysbak moontlik dan nie teen die staalkonstruksie sou gebots het nie.

Vrae oor beheerstelsel

Implats ondersoek intussen wat moontlik verkeerd kon gegaan het met die outomatiese beheerstelsel.

Theron sê dit is onwaarskynlik dat daar fout is met die stelsel se ontwerp aangesien baie myne hierdie stelsel gebruik om mynwerkers in skagte op en af te hys.

“Daar is ʼn kans dat van die instrumente wat krtitiek is vir die beheer van die stelsel vir een of ander rede onklaar geraak het, óf dat daar ʼn menslike fout ingeglip het.

“Dis waarop die ondersoek gefokus sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann ·

Ergste is dat daai arme mense moes besef het iets is besig om te gebeur met ‘n magteloosheid om iets aan dit te kan doen. Só hartseer.

Doompie Daan ·

Dankie vir die verduideliking, mnr Theron. Dit bly egter ‘n hengse groot tragedie waarvan die waarskynlike oorsaak eers na deeglike ondersoek vasgestel sal kan word. Intussen word die naasbestaandes troos en aanvaarding toegewens.

Willem ·

Ongelukke soos die kan nie gebeur as menslike foute en energie nie betrokke is nie . Enige ongeluk se agens / oorsprong is n menslike fout.

Oosieoos ·

Onbevoegdheid, besparing en onderhoud nou a alledaagse verskyning en kan maar ondersoek word maar dis mos die nuwe normaal

Papsak ·

Baie jammer sterkte aan families en kinders wat vaders daar verloor het so kort voor kersfees is hartseer niemand verdien so dood nie sterkte vir die myn ook !!!!!!

Marietjie ·

Wonder wat het in die source code aangegaan, dit was n programmerings probleem.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.