‘In die Here se skaduwee’ met wonderwerk-peuter

Riaan van Straten en klein Carli. Foto: Facebook

Riaan van Straten en klein Carli. Foto: Facebook

ʼn Noord-Kaapse egpaar se vasbeslotenheid om hul babadogtertjie se geveg om oorlewing as ʼn geleentheid te sien om hul geloof in die Here te versterk het tot gevolg dat talle ander ouers in dieselfde posisie nou noodsaaklike emosionele en finansiële ondersteuning ontvang.

Klein Carli van Straten is op 22 November 2014 met vier verskillende hartdefekte gebore en dokters het gesê sy sal net ʼn paar uur lewe. Vandag lewe die klein “woelwater” steeds voluit en hou sy haar ouers soos enige ander peuter lekker besig.

“Die enigste verskil tussen ʼn nagmerrie en ʼn avontuur is jou ingesteldheid,” sê Carli se pa, Riaan (32). “Ek is dankbaar vir ons situasie omdat dit juis in omstandighede soos hierdie is wat jou geloof getoets word. Ons is soos ʼn klein kindjie wat in die donker agter sy pa aanloop wat die flits vashou. Ons weet nie wat vir ons voorlê nie, maar ons vertrou blindelings op die Here.”

Carli van Straten. Foto: Facebook

Carli van Straten. Foto: Facebook

Riaan, hoof van sport by ʼn skool in Kuruman, vertel dat Carli hul tweede kind is. Hul eersteling, Benjamin, word in Januarie vyf jaar oud. Riaan en sy vrou, Joanie (32), het reeds op 26 weke van die swangerskap uitgevind dat Carli hartdefekte het. Dokters het hulle aangeraai om eerder die swangerskap te beëindig aangesien hulle nie gedink het Carli kan langer as ʼn paar uur lewe nie. ʼn Aborsie was egter nie vir die Van Stratens ʼn opsie nie.

“Ons het so gebid en die Here gevra om ons te seën met ʼn dogtertjie, toe gee Hy vir ons een. Hoe kon ons nou net omdraai en sê nee dankie Here, ons soek nie hierdie een nie? Ons het besluit dat ons saam hierdeur gaan veg en nie sal tou opgooi tot die dag wat Carli nie meer hier is nie. En sedertdien het die Here al soveel wonderwerke vir ons verrig,” sê Riaan.

Carli is op 34 weke gebore met vier verskillende hartdefekte wat onder meer ʼn gat in haar hart en ʼn erge vernouing van een van die hoofslagare insluit. Sy het in die eerste jaar van haar lewe drie verskillende hartoperasies ondergaan en moes ook al op verskillende geleenthede hospitaal toe gehaas word nadat sy ophou asemhaal het.

Riaan vertel dat die gesin al talle terugslae sedert Carli se geboorte moes hanteer, waarvan die mees onlangse een vanoggend gebeur het. Toe Riaan by die gesin se huis uitstap, het hy ontdek dat drie van sy bakkie se wiele gesteel is. “Dit is eintlik ʼn absolute nagmerrie, want ons moet volgende week Dinsdag weer met Carli Kaap toe ry vir ʼn doktersafspraak. Hierdie bakkie is een van die besittings wat ons absoluut die heel nodigste het en ek het nie geld om die wiele te vervang nie. Maar ons het rustigheid hieroor. Daardie bakkie gaan seker nou ʼn monument onder die boom word, maar ek weet die Here sal voorsien en ook hier vir ons ʼn uitkoms bied.”

Joanie van Straten by Carli in die hospitaal in 2015. Foto: Facebook

Joanie van Straten by Carli in die hospitaal in 2015. Foto: Facebook

Volgens Riaan het Carli se siekte ʼn erge finansiële impak op die gesin gehad, veral nadat Joanie haar werk moes bedank om voltyds na Carli om te sien. Carli kan op doktersadvies nie in ʼn kleuterskool wees nie aangesien die blootstelling aan kieme te groot sal wees. Daarby dek die egpaar se mediese fonds slegs 75% van die hospitaalonkostes en moes hulle oor die afgelope twee jaar derduisende rande aan operasies, doktersbesoeke en toetse betaal.

“Ons het die iHeartCarli-blad op Facebook gestig om ʼn maklike plek te kry waar ons al ons vriende wat altyd oor Carli navraag gedoen het op hoogte kan hou van haar vordering. Die blad het vinnig soveel belangstelling gelok dat mense aangebied het om ons finansieel by te staan. Toe ons weer sien het geld van regoor die wêreld ingestroom en ons het onmiddellik geweet dat ons ander gesinne hierdeur moet help,” het Riaan gesê.

Die Van Stratens se bakkie nadat die wiele afgesteel is. Foto: Facebook

Die Van Stratens se bakkie nadat die wiele gesteel is. Foto: Facebook

Hy sê dat hulle nou deur die fonds ander gesinne van kinders met hartdefekte finansieel bystaan, al is dit om soms net te help om kruideniersware vir die maand aan te koop. Riaan en Joanie bied ook emosionele bystand aan ander ouers en help deur Carli se verhaal om ander ouers sielkundig voor te berei op die pad wat voorlê.

“Ons praat met hulle en bid vir hulle en help net deur hulle die proses te verduidelik en wat hulle kan verwag. Ons stuur ook vir hulle foto’s van Carli waar sy nog klein was met al hierdie pype in haar in die hospitaal, sodat ouers kan weet wat om te verwag wanneer hulle kinders geopereer word,” verduidelik Riaan.

“Ons doen alles in ons vermoë om geld vir hierdie fonds in te samel, van danse en manne-aande hou tot plakkers verkoop. Ek weet ons sal nooit almal kan help nie, maar elkeen van ons kan iemand help. Hierdie gaan nie net oor Carli nie, dit gaan oor die Here wat deur Carli werk om ander te bereik wat hulp nodig het.”

Carli van Straten. Foto: Facebook

Carli van Straten. Foto: Facebook

Riaan sê dat dit in dié stadium goed gaan met Carli, hoewel die impak van die hartdefekte sigbaar is. “Sy is so twee maande agter met haar ontwikkeling, maar sy kan al ʼn paar woorde praat en sy is vol lewe. Ons kan egter sien dat sy lomper en moeër is as gewoonlik en ons weet dit is maar haar hartjie wat dit veroorsaak,” sê hy.

“Die dokters het vir ons gesê haar lewensverwagting is in die stadium so agt of nege jaar, maar ons sal maar self kyk wat die toekoms inhou. Carli is klaar ʼn wonderwerk en die Here sê vir ons daar is hoop. Ek en Joanie het nog altyd na aan die Here geleef, maar sedert Carli se geboorte loop ons in die Here se skaduwee. Hy is elke dag langs my as ek by die deur uitstap werk toe en Joanie ervaar dit ook. Carli was net ʼn ongelooflike seëning. Sy het ons lewens gered.”

Besoek die iHeartCarli-blad op Facebook vir meer besonderhede oor die fonds en Carli se verhaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Donovan ·

Man dit is lekker om te weet ons se Vader laat ons NOOIT in die steek nie… Ou riaan jy maak my hard warm om te sien dat daar nog Pa’s is wat glo in wonderwerke in Jesus…

Minette ·

Dis die mooiste gesiggie, so jammer dat julle die moeilike pad moet stap. Hoop iemand kan julle help. Baie sterkte en liefde.

J.H. Mulder ·

Hy wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Allerhoogste. Psalm 91

Esti Pieterse ·

Wat ‘n inspirerende berig.
My baba seuntjie (4maande) is met n defek in sy slukpyp gebore (aka TOF). Hy het reeds 2 groot operasies ondergaan en het ook al 3 keer by die huis opgehou asemhaal. Dus ken ons die hospitaal-dril met al die pype en masjiene.

Ons het ook in hierdie tyd 100% ons krag gevind in Jesus. Hy bly getrou!

Riaan, jou berig bevestig net weereens dat wonderwerke steeds gebeur! Prys die Here.

Baie sterkte vir julle pragtige dogtertjie! Haar verhaal gaan nog baie harte aangryp!

Seeklong ·

Wow, dit is wonderlik, een van die min goeie artikels wat ons te lees kry. Dit wys weereens dat ons God wonders doen en moet nooit die krag van gebed onderskat nie. Amen.

bux Koegelenberg ·

Riaan. kontak my om vir jou vier bande en vellings te stuur. Ek hoop dit sal pas want dit kom van ‘n Mazda BT 50 af. Jy kan dit kry as jy dit wil he. Sal plan maak om dit by jou uit te kry.

LS ·

Prys die Here, want is is GOED en GROOT en ALMAGTIG !!!
Sterkte aan julle, maar met God aan julle kant is enige iets moontlik.

Willemien du Plessis ·

Dis wonderlik om te lees wat die Here vir julle gedoen het. Ons dien voorwaar ‘n groot en genadige God! Baie sterkte met julle pad vorentoe. Julle dogtertjie is pragtig!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.