In diepte: Die IS-tydbom tik

Argieffoto

Argieffoto

Suid-Afrika is besig om die noodlot uit te tart. Net soos die geval met Eskom, die misdaadspiraal, die waterkrisis, e-tol en ʼn hele rits ander skandale, ignoreer die regering ook die tikkende IS-tydbom in Suid-Afrika. Die grusame werklikheid dat terroriste van die Islamitiese Staat (IS) ʼn soortgelyke slagting, soos die naweek in Parys, hier kan ontketen, is ʼn ontstellende werklikheid, skryf De Wet Potgieter. Dié Islamitiese ekstremiste is ondergronds gevestig en het die vermoë om toe te slaan.

Daar is voorheen al male sonder tal deur sekuriteitskenners, ontleders en buitelandse intelligensiedienste gewaarsku dat aanvalle op eie bodem ʼn wesenlike gevaar is. Die enigste rede hoekom pres. Zuma en sy regering nog dink hulle kan rustig slaap, is die valse sin van veiligheid wat hulle ervaar en dat hulle tot dusver gered is van ʼn bloedbad. Die ekstremistiese ondergrondse netwerke het tot dusver Suid-Afrika – danksy die wetteloosheid in die land – as ʼn veilige hawe tot hul eie voordeel misbruik.

In 2010 was die versekering dat geen aanvalle of bomme tydens die Fifa-Wêreldbeker sou afgaan nie, met miljoene rande agter die skerms en in die geheim by die moedertjie van IS, Al-Kaïda, afgekoop. Toe Britse intelligensieagente hul Suid-Afrikaanse eweknieë, met die aanloop na die 2010-Wêreldbeker, gewaarsku het dat die Britse Al-Kaïda-terroris, die Wit Weduwee (Samantha Lewthwaite), in die land was en op diplomatieke teikens gespioeneer het, het die Suid-Afrikaanse intelligensiedienste eenvoudig op hul hande gesit en kyk hoe sy weer ongehinderd die pad kon vat. Vandag is sy een van die mees gesoekte voorvlugtige terroriste in die wêreld.

Dit is nou al holrug geryde feite, maar die feit bly dat Suid-Afrika inderdaad die veilige hawe van internasionale terroriste en misdaadsindikate geword het. Dit is ook die land wat as deurgangsroete vir terroriste dien waar vervalste Suid-Afrikaanse reisdokumente vir ʼn appel en ʼn ei aangeskaf kan word. Die grense lek soos ʼn sif en enigiemand kan eenvoudig net deur die droë beddings van die Limpoporivier uit Zimbabwe die land instap of onderdeur die geroeste ou grensheining uit Mosambiek die land inkruip.

Sondag het die internasionaal gerekende deskundige op die gebied van terreur, prof. Hussein Solomon van die Universiteit van die Vrystaat (UV), weereens die Suid-Afrikaanse regering gewaarsku dat hul “kop in die sand”-benadering tot dié bedreiging die land nog duur te staan gaan kom. “Dit is net ʼn kwessie van tyd voordat Suid-Afrika ook ʼn slagoffer van dié soort terreur gaan word,” het hy gesê.

Volgens hom neem die land se owerheid nie die terreurgevare ernstig genoeg op nie. Hy wys ook daarop dat die IS Amerikaanse ondernemings in Suid-Afrika kan teiken en noem die onlangse geval waar die Amerikaanse ambassade ʼn waarskuwing uitgereik het dat radikale moontlik Amerikaanse belange in Suid-Afrika kan teiken.

Hoewel Solomon bygevoeg het dat die plaaslike intelligensiedienste die bedreiging van IS-aanvalle onderskat, is daar tog toegewyde lede van die intelligensiedienste wat Al-Kaïda en die IS se ondergrondse bedrywighede monitor. Hulle word egter erg in hul werk gestriem deur “elemente” in hoë posisies wat verkies dat die terreurhok nie geskud word nie anders val daar terroriste uit.

Nog ʼn uiters plofbare toestand wat Solomon in sy kommentaar aanraak en wat in uiters verdagte omstandighede telkens deur die owerheid onder die mat ingevee word, is die Suid-Afrikaners wat hulle by die IS aansluit. Intussen het die Nigeriese Boko Haram en ʼn groepering binne die Somaliese terreurgroep, Al-Shabaab, wat in Afrika werksaam is, ʼn tyd gelede ʼn pakt met die IS gesluit.

Baie vrae word inderdaad in interasionale intelligensiekringe gevra oor juis die wyse waarop die Suid-Afrikaanse regering versuim om op te tree teen sy burgers wat vir die IS in Sirië en Irak gaan veg en dan weer stilletjies huis toe kom as gesoute terreursoldate.

Sulke bedrywighede word eintlik in Suid-Afrika as ʼn misdaad beskou en ʼn spesiale span ondersoekers onder die beheer van die Nasionale Vervolgingsgesag, genaamd CATS (Crimes Against the State, oftewel Misdade teen die Staat), ondersoek enige sulke ondermynende bedrywighede ingevolge die Wet op Buitelandse Militêre Steun (Foreign Assistance Act).

Dié wet is voorheen tot op die letter van die woord uitgevoer toe lede van die ou Suid-Afrikaanse Weermag en oudpolisiemanne hul militêre vernuf in ander lande aangewend het. Hulle is as huursoldate voor die voet voor die hof gesleep en aangekla, maar tot dusver is nog geen terugkerende IS-vegter aangekla nie.

Sowat twee jaar gelede is ʼn ondersoekspan van spesialiste deur CATS saamgestel om die bewerings van Al-Kaïda-bedrywighede in Suid-Afrika te ondersoek. Aan die spits van dié ondersoek was van die speurders wat vroeër jare die Boeremag ondersoek het.

Die ondersoek het skaars begin, toe het die internasionale IS-bedreiging uitgekring en hul ondersoek is toe dienooreenkomstig uitgebrei. Na wat verneem word, is daar op verdoemende bewyse van IS-verbintenisse en die betrokkenheid van Suid-Afrikaners in Sirië en Irak afgekom. Daar is ook gevind dat van die Al-Kaïda-selle eenvoudig net hul radikale sentimente met die IS-doktrine vereenselwig het.

In dié stadium wil ek geen verdere inligting oor die ondersoek onthul nie, maar die afgehandelde dossier is in Mei vanjaar aan die Nasionale Vervolgingsgesag vir verdere optrede oorhandig.

Volgens betroubare bronne het die ondersoekers verwag om voor die einde van Mei te begin toeslaan op verdagtes, maar tot dusver het daar niks gebeur nie en die dossier lê en stof opgaar op een spesifieke lessenaar terwyl daar by die NVG voortgegaan word met derms uitryg in die interne politieke stryd wat heers.

Daar was reeds verskeie baie verdagte omstandighede wat verband kan hou met IS-bedrywighede wat telkens ʼn stil dood gesterf het.

● In November verlede jaar het die Irakse ambassadeur in Suid-Afrika, dr. Hushaim al-Alawi, aan die Sunday Independent gesê dat ʼn geraamde 140 Suid-Afrikaners hulle by die Islamitiese Staat (IS) aangesluit het om in Irak en in Sirië te gaan veg. Hy het tydens die onderhoud ook bevestig dat daar toe reeds minstens drie Suid-Afrikaanse burgers in akie gesneuwel het, maar dat hul dood as “motorongelukke” toegesmeer is.

Hy het die inligting aan die Suid-Afrikaanse regering oorgedra en ʼn woordvoerder van die departement van staatsveiligheid het aan hom gesê hy was nie bewus van enige Suid-Afrikaners wat hulle by die IS aangesluit het nie, maar sal dit verder ondersoek.

Al-Alawi het ook aangedui dat een van die dooies, ʼn 24-jarige man, deur ʼn groep in Gauteng gewerf is wat daarop aanspraak maak dat hulle vlugtelinge en weeskinders ondersteun. Volgens hom was die oorledene saam met ʼn groep uit Azaadville en Lenasia in Gauteng. Die ander twee slagoffers was ʼn 26-jarige man van Vereeniging en ʼn 54-jarige van Kaapstad.

● Einde Augustus vanjaar het doeanebeamptes by die OR Tambo-lughawe toegslaan en vyf mans in hegtenis geneem met buitelandse valuta ter waarde van sowat R78 miljoen in hul besit. Die mans was op die punt om ʼn vlug na Dubai te haal en het nie die geld by doeane verklaar nie.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het in ʼn verklaring oor die voorval gesê dat die mans met behulp van “risiko-ontleding” geëien is en dat dit tot hul inhegtenisneming gelei het. Toe die mans die doeanebeamptes raaksien, het hulle probeer terugdraai in die rigting van die deurgangshekke.

Volgens die SAID-verklaring het die mans agt reistasse en vier rugsakke by hulle gehad. Die deurgangshek na die vliegtuig is toe gesluit en die mans was verplig om vir die beamptes te staan en wag.

● In September vanjaar is 11 mense, onder wie drie kinders, wat vroeër vanjaar na ʼn IS-beheerde gebied in Sirië gereis het, teruggebring na Suid-Afrika. Brian Dube, woordvoerder van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) het aan die Al Jazeera-televisiediens die repatriasie bevestig. “Die SVA is bewus van hierdie mense,” het hy gesê.

ʼn Woordvoerder van die Moslem Regsvereniging, Yousha Tayob, wat die terugkerendes verteenwoordig, het gesê die groep is “bly om by die huis te wees” en dankbaar vir die wyse waarop die Suid-Afrikaanse departement vir internasionale aangeleenthede en samewerking hul terugkeer verseker het. Tayob het egter sy ongelukkigheid uitgespreek dat die SVA hul versoek vir regsverteenwoordiging tydens ondervraging geweier het.

● Verlede maand was daar behoorlik pandemonium in die middestad van Kaapstad toe twee gewapende mans in swart gewade oor Adderleystraat gestorm en al skietende die stasie ingestorm het. Hulle het swart boerkas gedra met latekshandskoene oor swart handskoene.

Die mans se bedrywighede is op kringtelevisie vasgevang en toe hulle deur veligheidspersoneel gekonfronteer is, het hulle die hasepad gekies en begin skiet. Die een het uiteindelik ontsnap en sy makker het homself doodgeskiet. Sedert die aanvanklike berigte oor die voorval het geen haan daarna in die media verder gekraai nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pierre ·

Ek sal veel eerder bekommer oor die misdaad syfers in SA voordat ek hoegenaamd oor ISIS bekommerd sal wees.

ISIS kan ‘n ding of twee kom leer by die ANC oor hoe om ‘n land op te neek. Geen terrorisme benodig nie.

Delta Mike ·

De Wet goeie berig, van ons ou garde SAPS is al lankal bewus van IS se teenwoordigheid in SA. Daar is al n paar IS plase geidentifiseer, gaan nie veel verder uitbrei nie. Op jou artikel oor hoekom die veiligheids magte nou nie juis wil reageer nie, dink jy regtig ons terroriste gaan optree teen hul beskermde buitelanse terroriste organisasies (IS) broeders.
Op n ligter noot, hulle stel nie juis veel belang om n omverwerping hier te loods nie, ons terroris anc het klaar alles vernietig. Meer ernstig, ja IS is besig met iets hier, hulle het baie goed versteekte netwerk onder die publiek se neuse, net jammer die oorgrote meerderheid publiek is heel onbewus van hulle.

David Potgieter ·

Die regering sal niks doen nie want hulle is deel daarvan. Marius Fransman het ‘n paar weke terug hier in die Wes Kaap by ‘n vergadering met verteenwoordigers van Hamas gese hulle nuwe blyplek is die Wes Kaap en almal in hul idiologie is hier welkom.
Die ANC is soos kinders, hulle sal altyd bang wees vir die boelies, en soos De Wet tereg in sy berig se, die ANC wil nie die hok skud nie, netnou moet hulle oorlog verklaar en dan gaan dit geld kos wat hulle nie kan inpalm nie.

Cliff ·

Enige iemand kan die land oorneem sonder dat daar ‘n skoot geskiet word . Hoop net die regering kom dit darem agter nadat dit gebeur het ! !

vermeende ·

Alhoewel die skrywe insiggewend is, is daar niks in wat skokkend is nie.
Die regse gevaar is die gevaar waarvoor hierdie regering vrees.
In die boeremag saak het dit aan die lig gekom dat die hele ding uitlokking van die staat se kant af was, wat ook onwettig is.
Willem Ratte was vir hoe lank aangehou oor 5000 pellet petrone en dit het amper sy lewe gekos. Die oud 32 bevelvoerder het op ‘n hongerstaking gegaan. Is die polisie regtig so sleg ingelig of ken hulle glad nie die verskil tussen ‘n windbuks en ‘n R5 nie. Nee……. hy was geteiken. Die gevreesde bevelvoerder was gebruik om die apartheid spook nog so bietjie lewe in te blaas.
Volgens die ANC is daar net een terroriste groep in die land wat die regering kan onttroon “REGSES” en ek stem met hulle saam.

Lana ·

Natuurlik sal ons regering niks aan die situasie doen nie. Hier kan enige ras uit enige land hier inkom want ons regering het gese maak die grense oop, hierdie is nou ‘n reenboog land en hier is klaar so baie kleure en rasse, dit lyk heeltemal normaal vir ons. Ons sal eers weet as die moeilikheid gebeur het en dan is dit te laat. Ek blameer ons regering heirvoor, hulle klim eenvoudig op hulle R400 miljoen se vliegtuig en vlug of almal gaan kruip in Nkandla se geheime multi miljoen rand se bunker weg.

BUSFARK VAN PLETSEN ·

Hier gaan niks in SA aan nie al wat IS hier sal doen is wegkriup

Genis ·

‘n Baie goeie en baie belangrike artikel. Wel gedaan De Wet Potgieter.

Fourie ·

Sien maroela plaas nie my kommentaar nie – wonder wat ek tog nou weer kon verkeerd gesê het? Is dit omdat ek zuma en anc se name gebruik het?

Eric Louw ·

As De Wet Potgieter iets skryf , kan jy maar aandagtig luister. Dit is die waarheid , die volle waarheid en niks anders as die waarheid nie. Uitstekend De Wet , hou ons op hoogte.

Loïs ·

Hoewel ‘n goed bewoorde artikel wat myns insiens as waarskuwing gerig word, is ek nie heeltemal oortuig van die grondigheid van die spesifieke waarskuwing nie.

So radikaal en waansinnig soos wat die organisasie ISIS blyk te wees, word hulle aanvalle wel gemotiveer deur “n motief (reg of verkeerd). Watter geldige motief sou daar wees om op Suid Afrika toe te slaan.

Met al sy gebereke is die regering se buitelandse beleid eintlik besonders veilig en ons grondwet se bepaling en toepassings wat vryheid van geloof etc onderskryf, maar met meer omsigtigheid toe pas, as bv Frankryk besonders effektief en tot Suid Afrikaners se voordeel en veiligheid.
Ons het ook nie “n kultuur waar daar onmin en of destabilisasie in ander lande gesaai word met die agenda om onsself te verryk tot nadeel of selfs vernietiging van die ander land se ekonomie nie.
Ek sien dus steeds nie waarom Suid Afrika enigsins in ISIS se visier sou val nie en alles anders wat pla, ten spyt, vreeslik verlig om tans hier te wees as elders.

Johannes ·

Alhoewel ek respek het vir De Wet se onderdoekende joernalisme en sy boek “Total Onslaught” uitstekend gevind het, dink ek dat hy hier dalk n paar keer die pot mis sit. Eerstens moet ons nou na Europese “kenners” luister wat nie raad vir hulself het nie? Tweedens Islam in SA het homself bewys as n gematigde en versntwoordelike komponent in ons samelewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.