In diepte: Die onderwêreld se eie spoor van geregtigheid

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes/SAPA

Radovan Krejcir. Foto: Werner Beukes/SAPA

Vier jaar gelede, op Paasmaandag, is die omstrede rampokkerleier Cyril Beeka deur sluipmoordenaars op ’n motorfiets in Kaapstad doodgeskiet. Sy moordenaars is vandag nog op vrye voet en sedert sy dood het heelwat nuwe inligting oor die internasionale misdaadnetwerke se tentakels in die Suid-Afrikaanse onderwêreld bekend geraak.

Beeka se goeie vriend en sakevennoot, die Tsjeggiese voortvlugtige Radovan Krejcir, is intussen deur die Valke in hegtenis geneem en die sinistere identiteit van Beeka se motorbestuurder tydens die sluipmoordaanval is ook ontmasker. De Wet Potgieter, wat die bloedige spoor van die onderwêreld begin volg het toe die Teazers-baas, Lolly Jackson, vermoor is, doen verslag.

Beeka en sy motorbestuurder, Sasa Kovacevic, was daardie middag in sy voertuig in Modderdamweg in Bellville op pad toe twee mans op ’n motorfiets naby die ingang van die Universiteit van Wes-Kaap langs hulle gery en verskeie skote op hulle geskiet het. Beeka is doodgeskiet en Kovacevic, wat gewond is, het beheer oor die voertuig verloor en van die pad af gery.

Hulle was op pad terug van ʼn vergadering wat gehou is by die huis van Jerome “Donkie” Booysen, een van die drie broers wat vroeër jare in beheer van die gevreesde Sexy Boys-bende in Belhar was.

Dit was die werk van ʼn professionele sluipmoordenaar. Die moordenaar het op die bewegende motorfiets gesit toe hy die eerste skoot in Beeka se oog gepomp het. Die daaropvolgende vyf skote was netjies en met militêre presisie in ’n ry in sy kop geskiet.

Beeka sou vandag nog gelewe het indien ’n top-staatsadvokaat en lede van die polisie se misdaadintelligensie-afdeling geluister het na betroubare inligting uit die onderwêreld oor die beplande sluipmoord.

Die Saterdagoggend net ná Goeie Vrydag was daar ’n dringende vergadering by die restaurant, Barn 52, in die Southdowns-winkelsentrum in Centurion belê waar ’n senior staatsadvokaat, ’n vrouekaptein van misdaadintelligensie en verskeie van haar kollegas deur Maroela Media se bron ingelig is dat Beeka doodgemaak gaan word. Die inligting het gekom van ’n prominente sakevennoot van sowel Beeka as Krejcir. Geen haan het daarna gekraai nie.

Die polisie wat agterna Beeka se gewonde bestuurder in die hospitaal gaan ondervra het, het geen benul gehad dat hulle met ’n internasionaal gesoekte Serwiese voortvlugtige te doen gehad het nie. Hulle sou nooit sy ware identiteit uitgevind het nie, maar die klein pakkie kokaïen wat in sy sak gekry is toe hy bebloed uit Beeka se Jeep gehaal is, was uiteindelik sy doodsteek.

Speurders het sy vingerafdrukke vir Interpol gegee en daar is toe eers ontdek dat Sasa Kovacevic eintlik Dobrosav Gavric is wat beter bekend staan as die “Arkan-slagter” in Serwië. Hy het uit sy geboorteland gevlug nadat hy in 2001 vir 20 jaar tronk toe gestuur is vir die sluipmoord op “Arkan” (Zeljko Raznatovic), die gevreesde leier van die voormalige Serwiese president Miloslav Milosevic se moordbendes. Milosevic is in Maart 2006 in aanhouding in Den Haag dood terwyl hy voor die Wêreldtribunaal tereg gestaan het op aanklagte van grudade teen die mensdom.

Kort ná Beeka se dood het Krejcir vir dié verslaggewer gesê dat hy Gavric twee jaar vantevore verskeie kere raakgeloop het by Teazers wanneer hy saam met Lolly Jackson en “die ander manne” gaan poker speel het.

“Ek het gehoor Sasa was nie sy regte naam nie,” het Krejcir vertel. “Hy was baie naby aan Lolly gewees en het saam met Beeka ’n sportkroeg in Kaapstad bedryf.” Gavric word steeds in die Goodwood-gevangenis in Kaapstad aangehou en wag om uitgelewer te word aan die Serwiese owerheid.

Met Beeka se sluipmoord was die polisie vas oortuig dat hy deur dieselfde sluipmoordenaars doodgemaak is as in ’n soortgelyke voorval etlike maande vantevore in Oktober 2010 toe die dwelmbaas, Chris Couremetis, by ’n luukse restaurant in die Wieg van die Mensdom naby Krugersdorp deur twee mans op ’n motorfiets vermoor is. Albei die mans was prominente figure in dieselfde rampokkerkringe.

Talle vrae is steeds onbeantwoord oor Couremetis se dood. Hy het in daardie stadium in die buiteland weggekruip uit vrees vir sy lewe nadat ’n multi-miljoen rand dwelmtransaksie oopgevlek is, maar het onder groot geheimhouding Suid-Afrika toe gekom vir die huwelik van ’n baie goeie vriend. Niemand het geweet hy was op pad van Spanje af nie en hy het eers by sy aankoms op die lughawe ’n vriend gebel en gesê hy is in die land.

Dit het ook later eers uitgekom dat Couremetis die aand van sy dood van die geselligheid op pad was na die voormalige Kubaanse intelligensie-offisier, Nelson Pablo Yester-Garrido, se huis in Morningside in Johannesburg. Dit was vir die ooievaarstee van Yester-Garrido en sy Italiaanse vriendin se eersgeborene. Die laaste teks op Couremetis se selfoon was aan Yester-Garrido dat hy op pad is.

Ses maande ná Couremetis se dood is Yester-Garrido in ’n transnasionale anti-dwelmoperasie van die Valke en die Brasiliaanse federale polisie in Sao Paolo in hegtenis geneem. Dit het gevolg op die beslaglegging van 160 kg suiwer kokaïen wat die Valke in ’n skeepshouer in die hawe van Nqura buite Port Elizabeth gekry het, versteek tussen kookolie. Die straatwaarde is geraam op meer as R140 miljoen. Die houer was in transito van Ascunsion in Paraguay op pad na Bulawayo in Zimbabwe.

Kenners het die internasionale klopjagte op die dwelmkartel as ’n reuse-deurbraak bestempel en gesê dit is duidelik dat Suid-Afrika gebruik word as transnasionale punt in die internasionale dwelmhandel. Van daardie dwelms was geoormerk vir die Britse sluikmark.

In Februarie 2013 kondig die nasionale vervolgingsgesag (NVG) aan dat alle aanklagte teen Yester-Garrido van die rol geskrap word omdat die owerheid geen vertaler het om die Brasiliaanse dokumente in Engels te vertaal nie. “Ons is nie in ’n posisie om te kan sê wanneer die klagtes heringestel sal word nie,” het die NVG-woordvoerder Tshepo Ndwalaza toe gesê. “Ons hoop om hom weer aan te kla nadat die nodige voorbereiding gedoen is.”

Intussen het die lys name van prominente internasionale rampokkers en “gerespekteerde sakemanne” wat die afgelope paar jare in Suid-Afrika afgemaai is, bly groei. Niemand is vir die dade aangekla nie. ’n Mens kry die indruk dat daar met gevoude hande teruggesit word sodat die rampokkers onbevange hul eie spoor van “geregtigheid” kan toepas.

Die een ligpunt is darem die tekens van positiewe vordering in die hofsaak van Radovan Krejcir.

Wie het die Duitse sakeman Uwe Gemballa destyds met sy aankoms in Suid-Afrika ontvoer, hom aangehou en uiteindelik laat dood maak? Wie het die opdrag gegee en hoekom het hy ’n bedreiging vir die onderwêreld geword? Wie het werklik vir Lolly Jackson doodgeskiet? Hierdie is die tergende vrae waarop daar tans nog geen antwoorde is nie.

Dan is daar ook nog ʼn lang lys van ander rampokkermoorde waar die moordenaars nog op vrye voet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Akram ·

Ek persoonlik dink dit is n goeie stukkie berrigewing die. dankie.

Ampie ·

‘n Goeie artikel. Krejcir het natuurlik baie geraamtes in die kas en die intriges van die SA rampokkers se wereld laat my dink aan die Engelse spreekwoord “dog eats dog”. Dat Krejcir ‘n besondere vermoe het om van sy mededingers ontslae te raak, is gewis. De Wet Potgieter, ek dink jy kan ‘n boek hieroor oorweeg, asook hoekom die SA regering nie in staat is om die 10-20 of so hoof misdaad “sindikate” se leiers vas te trek nie. Dit is al sedert die dae van Victor Palazzolo en ook Glen Agliotti. Politici is natuurlik hul beskermhere. Hierdie tipe “leiers” is seker alleen verantwoordelik dat die grootste misdade in SA voortsleur, van motor kapings- en diefstal, dwelmverwante misdade en natuurlik ook renosterhoring smokkelary. Intussen kom skuim soos Krejcir, Louca en Gavric met eentonige reelmaat die land binne.

De Wet Potgieter ·

Ampie, dankie vir jou positiewe kommentaar. Jy sal dit interessant vind dat ek reeds meer as vyf jaar gelede ‘n manuskrip oor Vito Palazzolo voltooi het, maar geen uitgewer in Suid-Afrika is waagmoedig genoeg om te publiseer nie. Die stof is reeds versamel vir boek oor die ander klomp rampokkerleiers se bedrywighede en ek sal dit seker met verdrag van tyd aanmekaar timmer. Wag net om te kyk hoe dinge hiervandaan gaan verloop met die internasionale boewe.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.