In diepte: Herrie oor polisie-gedenkteken by Uniegebou

Afgetrede brig. Hennie Heymans is omgekrap oor die skending van hulle gedenkteken wat gedeeltelik uit die sakke van oud-polisiebeamptes befonds was.

Afgetrede brig. Hennie Heymans is omgekrap oor die skending van hulle gedenkteken wat gedeeltelik uit die sakke van oud-polisiebeamptes befonds was.

Die regering moet ophou om alles wat vir ons heilig en waardevol is sommer net oor te neem, te kaap en ons kultuurerfenis te stroop. Dit is die gevoel van omgekrapte oudpolisiemanne wat nou al etlike jare probeer om ʼn alternatiewe perseel te kry vir ʼn eie SAP-gedenkteken om hulde te bring aan al die polisiemanne van verskillende bevolkingsgroepe wat sedert 1914 tot 1994 in diens van hul land gesterf het. Midde-in die ongelukkigheid is die gedenkteken by die Uniegebou waar daar elke jaar tradisioneel ʼn gedenkparade ter ere van gestorwe polisiebeamptes gehou word.

Die ou garde in die polisie (SAP) is ongelukkig omdat die gedenkteken se ou, amptelike polisiewapen afgehaal en vervang is met dié een van die nuwe Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). De Wet Potgieter het gaan navraag doen hieroor.

“Ons het gedien en ons makkers het gesterf onder die ou SAP-embleem en daardie gedenkteken by die Uniegebou is met ons eie bloedgeld gebou en ingewy, en nie deur die ANC-regering nie,” sê afgetrede brig. Hennie Heymans, redakteur van die SAP se aanlyn koerant, Nongqai. “Ek voel nie meer tuis by die plek nie.”

Volgens hom het alle afgetrede lede van die ou SAP, die SAP se generaalsklub, die brigadiersklub en die bond van oudpolisielede ’n belang by die vestiging van so ʼn nuwe gedenkteken.

Heymans sê hulle stel nie belang in só ʼn plek by die Voortrekkermonument nie, want die polisiemanne wat tot in 1994 die hoogste prys moes betaal, in diens van die land, was van alle bevolkingsgroepe en tale gewees. Dit moet iewers in Pretoria wees, want die ou gedenkteken was van die begin af “gebrandmerk” as die kulturele erfenis van die ou SAP en al sy oudlede het geldelik bygedra tot die vestiging daarvan.

Die ou SAP se embleem het darem nie ook in die slag gebly op die gedenkteken se ererol daar voor die Uniegebou nie.

Die ou SAP se embleem het darem nie ook in die slag gebly op die gedenkteken se ererol daar voor die Uniegebou nie.

Op 20 Mei 1983 is ʼn lank gekoesterde ideaal verwesenlik toe die destydse kommissaris van polisie, genl. Mike Geldenhuys, die hoeksteen van die gedenkteken gelê het. Staatspres. PW Botha het dit op 17 Oktober 1984 amptelik onthul. Op die ererol word daar hulde gebring aan polisiebeamptes wat sedert 1914 die hoogste prys betaal het.

In September vanjaar het die Solidariteit Beweging hom skerp uitgespreek teen die manier waarop die regering die geskiedenis verdraai en rassespanning aanhits. Dit was na aanleiding van die nuwe Erfenispark met standbeelde van historiese “vryheidsvegters” wat in die Fonteinedal onthul is.

Dali Tambo, seun van die historiese ANC-figuur Oliver Tambo, het  tydens die onthulling van die eerste 55 standbeelde in die park aan die media gesê dat daar nie ʼn prys geheg kan word aan die erfenis van ʼn nasie wat 350 jaar lank gely het nie. Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het boonop tydens die geleentheid gesê dat die park standbeelde van individue wat vir “vryheid” gesterf het, bevat. Hy het bygevoeg dat die beeldhouers wat die standbeelde gemaak het, die land se storie herskryf het.

Volgens Juran van den Heever, woordvoerder van Solidariteit,  wek uitsprake soos dié die indruk dat swart mense sedert die aankoms van Jan van Riebeeck in 1652 onder die bewind van wit mense gely het. “Dit is ʼn growwe, eensydige voorstelling van die geskiedenis. Boonop bevat die park ook heelwat standbeelde van individue wat nie tydens opstande teen kolonialisme en apartheid gesterf het nie. Dit sluit onder meer oudpres. Nelson Mandela en anti-apartheidsaktiviste Walter Sisulu en Oliver Tambo in. Hulle het almal aan natuurlike oorsake gesterf en hul standbeelde staan in die park. Die park is dus ʼn onrealistiese romantisering van vegters teen apartheid,” sê Van den Heever.

Die ou SAP-embleem is deur die regering van die polisie-gedenkteken by die Uniegebou verwyder en met dié van die nuwe SAPD vervang.

Die ou SAP-embleem is deur die regering van die polisie-gedenkteken by die Uniegebou verwyder en met dié van die nuwe SAPD vervang.

“Dit is goed dat alle gemeenskappe die geleentheid gegun word om hul ‘storie’ te skryf, maar nie ten koste van ander gemeenskappe en hul ‘stories’ nie. Aan die een kant wil die ANC-jeugliga standbeelde van Afrikanerleiers verwyder omdat dit ʼn eensydige weergawe van die geskiedenis weergee, maar aan die ander kant word miljoene rande se belastinggeld daaraan bestee om standbeelde van historiese ANC-figure, wat teen apartheid geveg het, op te rig.

“Dit is duidelik dat die ANC dubbele standaarde handhaaf en eintlik sy eie weergawe van die geskiedenis as die enigste weergawe vir duisende toeriste van oor die wêreld wil voorhou. Die land se storie kan nie ten koste van wit mense, wie se belastinggeld bygedra het om die standbeelde op te rig, herskryf word nie.”

In sy soeke na ʼn oplossing vir die oudpolisiemanne se behoefte na ʼn eie gedenkteken het Heymans selfs sover gegaan om hulp by oudpres. FW de Klerk te gaan soek.

In ʼn brief aan Dave Stewart van die FW De Klerk Stigting skryf Heymans onder meer die volgende:

“Ek is ’n kalm, maar besorgde, oudlid van die Suid-Afrikaanse Polisiemag met ’n gevestigde belang in die ‘ou’ SA Polisiegedenkteken, Uniegebou, Pretoria.

“Ek is trots op, en passievol oor, die Suid-Afrikaanse Polisiemag. Die Suid-Afrikaanse Polisiemag se roemryke verlede is vergestalt in sy vaandel, SA Polisiegedenkteken, beelde, bekers en dies meer. Belangrik egter, is om te onthou dat die Suid-Afrikaanse Polisie sedert 1913 funksioneer en nie net vanaf 1948 nie! Ons was nie net ’n gedugte mag tydens die NP-bewind nie!

Die statige polisiegedenkteken voor die Uniegebou teen Meintjieskop.

Die statige polisiegedenkteken voor die Uniegebou teen Meintjieskop.

“Alle lede van die Suid-Afrikaanse Polisiemag wat gesterf het, se name is aangebring by die SA Polisiegedenkteken – dit sluit in diegene wat in die twee wêreldoorloë, die 1914-rebellie, die Randse staking van 1922, Cato Manor, Witsieshoek, Rhodesië en SWA gesterf het. Ons was maar almal jeugdiges van 17 en 18 jaar toe ons by die mag aangesluit het. Ons almal was bereid om die offers te betaal wat die land destyds van ons gevra het.”

Hy stel dit in sy brief aan De Klerk dat die polisie se gedenkteken die uitsluitlike eiendom en kultuurgoedere van die oudlede van die voormalige Suid-Afrikaanse Polisiemag (SAP) is. “Die algemene beginsels van die gemenereg, die privaatreg en die Romeins-Hollandse reg geld hier met betrekking tot die onregmatige verryking van die nuwe regering.”

Hy skryf verder dat geen mens nou die monument kan terugeis nie, maar die staat is verryk deur die oudpolisiemanne se ledebydrae en behoort dienooreenkomstig vergoed te word.

“Ons het nuwe morele, geestelike en kulturele leierskap nodig. Ons waardes en norme gaan verlore weens ’n gebrek aan diepgaande kennis. Ons vergeet wat ons werklike  belange is! Onnadenkende kulturele analfabete en diensbare idiote rig onberekenbare skade aan,” waarsku Heymans.

Meer oor die skrywer: De Wet Potgieter

De Wet Potgieter is ʼn ondersoekende navorser en die skrywer van verskeie boeke waarvan een die omstrede Black Widow, White Widow – Is Al Qaeda operating in South Africa? wat verlede jaar uitgegee is. Sy jongste boek, Grusaam, is nou beskikbaar.

Deel van: In diepte, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Martin ·

Hulle gaan dit ook afbreek en De Klerk gaan niks daaraan doen nie.

CF ·

DE Klerk kan niks doen nie,hy het 1994 al sy mense veraai.
En dis lankal te laat,om iets te doen.
Dis so hartseer om die afrikaner volk te sien uitsterf.Danksy baie mense ?

Winston ·

Julle moet onthou dat ons met Afrikanisme te doen het. Die mense voel n veer wat vir jou van belang is. Hulle glo net aan en in hulle self. Dit is n tragedie oor hoe hulle te werk gaan om alles uit te wis wat hulle nie van hou nie. Ons kan smeek en mooi vra maar dit sal altyd op dowe ore val. Onthou hulle glo nie aan en in geskiedenis soos ons nie. Het nie dieselfde respek jeens dit soos ons nie. Ons glo in leef en laat leef. Afrikanisme is baie eenvoudig. Ek wil he en basta. Ek vat en basta. wat joune is, is ook myne. Alles is myne en ek werk nie vir dit nie. Hulle wil alles uitvee en nie oor begin nie. Ons kinders se kleinkinders gaan steeds die blaam dra en verantwoordelik gehou word vir die gemors waar in ons nou leef.

danie ·

Waar word die lede wat na 1994 in diens gesterf het vereer. Net n vraag geen by bedoeling nie

Oud SAP (SONDER DIE S OF D )LID ·

Dink dis tyd dat als wat van 1994 af “opgebou en verander” is ook net storm geloop word en afgebreek word

Bondslid ·

Mens kan maar net met hartseer staan en toekyk hoe ons Polisiemag se trots tot niet gegaan het. Oneerbaarheid is aan die orde van die dag met die uitsondering van n paar individue wat nog probeer en trots is op sy werk. Nou word die wat die hoogste prys betaal het, ten koste van talle Suid Afrikaners, se monumente ook nog verander. Waarom wil ek weet? Ons het daarvoor betaal sonder om dit te eis. Dis deel van die land se geskiedenis en sal nooit uitgewis word nie.

Eddie ·

Ek het gaan kyk na die ererol op die blad maar sien dat dit slegs name bevat vanaf 2001. Waar kan ek die name van ons helde gaan opsoek wat voor 2001 gesterf het. Daar is 4 wat ek van weet maar hulle name kom nie voor op die lys nie

Berhalet Beukes ·

Om alles só te probeer vervang is pateties…. Kan ons regering nie met meer oorspronklike idees vorendag kom nie? Foei tog, ook maar swaar om nie jou eie identiteit te hê nie!

Johnnie ·

Dink julle die ANC sal so iets bewaar, dit moet vernietig word want ons ou lede het dan teen hulle geveg. Hulle sal enige iets doen om wat aan die boervolk te vernietig, dis nie net ons taal nie maar alles.

Delta Mike ·

Brig Heymans, dankie dat jy iets hier oor probeer doen, om seker te maak die nagedagtenis van ons “ou” mede kollegas wat die hoogste prys betaal het verdwyn nie. Ek is self n gewese lid vand die ou Suid Afrikaanse Polisie Mag, toe dit nog n MAG was en nie n anc werkskeppings geleentheid soos nou ni. As jy hulp nodig het van ons “ou manne” skreeu net, al moet ons weer die wapen opneem om ons gedenktekens te beskerm. Ons het elke dag beleef as “ONS VIR JOU SUID AFRIKA” vir Volk en Vaderland. Ek salueer jou Brig.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.