In diepte: IS werf ook jihadi’s in SA

Argieffoto

Argieffoto

Pres. Jacob Zuma se politieke spioenmeester, die minister van staatsveiligheid, David Mahlobo, en sy amptelike woordvoerders kan dit ontken tot hulle blou in die gesigte word, maar volgens alle aanduidings is daar simpatie vir die Islamitiese Staat (IS) in Suid-Afrika en word daar inderdaad werwing gedoen vir IS-jihadi’s om in Irak en Sirië vir die Kalifaat te gaan veg.

Hoewel niemand dit tot dusver nog amptelik bevestig het nie, is daar reeds Suid-Afrikaanse IS-vegters in die stryd dood en in die stilligheid tot martelaars verklaar. De Wet Potgieter, skrywer van die boek Black Widow, White Widow – Is Al-Qaeda operating in SA?, doen verslag.

Die uitlek van uiters sensitiewe dokumente van die Staatsveiligheidsagentskap (SSA) deur die televisiekanaal Al Jazeera die afgelope twee weke het ʼn behoorlike geskarrel onder Suid-Afrikaanse spioene ontketen. Die sogenaamde spioenkabels het ook ʼn heel nuwe perspektief gebied op die hardnekkige inligting vanuit intelligensiebronne dat Moslem-ekstremiste op eie bodem met hul eie bose planne in die globale terreuroorlog teen die Christendom bedrywig is.

Tot dusver was Suid-Afrika, afgesien van die vlaag van terreuraanvalle in die Wes-Kaap wat met die Planet Hollywood-bomaanval in 1996 begin het, ander grusame terreuraanvalle gespaar. Daardie valse sin van rustigheid wat deur die ANC-regering voorgehou word, is egter om twee redes geskep:

  • Suid-Afrika was nog altyd as ʼn “veilige hawe” vir ekstremistiese Moslemgroepe soos Al Kaïda en Al Shabaab beskou. Toe die Amerikaanse Spesiale Magte vir Osama bin Laden in Pakistan doodgeskiet het, is daar onder die dokumente in sy wegkruipplek ook geskrifte gekry waarin hy Suid-Afrika as ʼn handige land vir sy terroriste uitgesonder het.

In die gelekte spioenkabels sê die SSA inderdaad dat daar geen kommer vir ʼn bedreiging in die land is nie aangesien die bedrywighede van Al Kaïda “slegs beperk is tot ʼn handjievol wat Suid-Afrika as deurgangsroete gebruik”.

Dit is waar, maar dit gaan verder. Suid-Afrika word, volgens buitelandse sowel as ons eie intelligensiebronne, as ’n afspringplek beskou van waar internasionale terreurdade van stapel gestuur word. Hierdie besonderhede word baie duidelik en breedvoerig in die boek verduidelik. So ook die onrusbarende feit dat Suid-Afrikaanse reisdokumente gesog is onder terroriste om die wêreld heen mee rond te reis op pad na teikens toe.

Suid-Afrika se grense lek soos siwwe en onwettige immigrante van oor die hele wêreld stap letterlik ongehinderd oor die grense uit Zimbabwe en Mosambiek. Met genoeg geld in die sak is dit ʼn oop kanaal om by internasionale lughawens soos O.R. Tambo eenvoudig die land ook in te stap.

Foto: De Wet Potgieter

Foto: De Wet Potgieter

In 2010, met die aanloop na die Wêreldbekersokker-kragmeting in Suid-Afrika het die Valke in Brits, net noord van Pretoria, toegeslaan op ʼn huis wat deur ʼn groep Pakistani’s bedryf is en waar vals paspoorte vervaardig is. Die plek is in die media beskryf as ʼn “minidepartement van binnelandse sake”. Daar is beslag gelê op honderde vervalste Suid-Afrikaanse paspoorte, ʼn amptelike stempel vasgegom op ʼn Coke-doppie en pakke blanko aansoekvorms vir tydelike verblyfpermitte.

Dié groep onwettige immigrante is in die Soshanguve-landdroshof aangekla en net daarna in bedenklike omstandighede op borgtog vrygelaat. Wat dit verdag maak, is dat die mense op borg vrygelaat word terwyl hulle inderdaad onwettige immigrante in die land is. Dieselfde groep bedryf tans ʼn soortgelyke “paspoortfabriek” in Noordwes op die pad na Sun City.

Foto: De Wet Potgieter

Foto: De Wet Potgieter

Die feit dat dié sindikaat Suid-Afrikaanse reisdokumente aan internasionale terroriste voorsien het, was goed gedokumenteer toe ʼn groep Al Kaïda-terroriste in Brittanje aangekla is oor hul planne om bomme aan boord van internasionale vlugte te plant. Agente van MI5 (die Britte se weergawe van die Amerikaanse Homeland Security) het destyds baie nou saamgewerk met plaaslike intelligensie-agente in die sogenaamde Operation Overt.

Dit is weens daardie terreurplanne dat geen vloeistowwe sedertdien meer in die kajuite van vliegtuie toegelaat word nie. Dié Britse Al Kaïda-sel het ʼn groter tragedie beplan as die aanvalle op die Twin Towers in Amerika van 9/11 en wou “vloeibare bomme” in botteltjies koeldrank aan boord van die vliegtuie gesmokkel het. Die aanvalle is betyds gestuit en die terroriste tronk toe gestuur.

  • Die tweede rede vir die valse sin van veiligheid is omdat Suid-Afrikaanse burgers nie ingelig word wat werklik agter die skerms in hul eie land aan die broei is nie. Dit het ook nou baie duideliker geword uit die spioenkabels hoe die SSA met die hulp van buitelandse agentskappe soos die Amerikaanse CIA, Russiese agentskap Mossad en Britse MI6 beplande selfmoordbomaanvalle vanaf 2007 tot 2010 in Suid-Afrika afgeweer het.

Die Joodse sentrum as teiken in Kaapstad was een van minstens vyf sulke selfmoordaanvalle wat deur die sogenaamde Wit Weduwee, Samantha Lewthwaite, beplan is. Lewthwaite, die Britse voortvlugtige en een van die mees gesoekte internasionale terroriste, is destyds deur Britse agente gemonitor terwyl sy op die Britse ambassade in Pretoria gespioeneer het. Die inligting is aan die Suid-Afrikaanse owerheid deurgegee as ʼn werklike bedreiging, maar die Wit Weduwee het deur hul vingers geglip.

Lewthwaite se derde man, ʼn Somaliese Al Shabaab-krygsheer, doen glo sake met lede van ʼn Al Kaïda-sel wat vanuit Fordsburg in Johannesburg opereer. Die farmaseutiese maatskappy wat hulle bedryf, is in Brixton.

In 2009 is alle Amerikaanse ambassadegeboue vir ʼn paar dae in ʼn staat van verskansing geplaas uit vrees vir aanvalle deur Al Shabaab. Dit het gebeur nadat agente sekere selfoongesprekke tussen Al Shabaab-operateurs in Somalië en Somaliese uitgewekenes in Suid-Afrika onderskep het. In daardie stadium was die voorbereiding van die 2010-Wêreldbekersokker al goed op dreef en dit is as ʼn wesenlike bedreiging vir internasionale besoekers by die sokkerstadions beskou.

Een van die gelekte SSA-spioenkabels gaan oor ʼn versoek van ʼn Britse MI6-agent vir meer inligting oor die eienaarskap van verskeie Suid-Afrikaanse selfone wat oproepe gemaak het na ʼn selfoon in Somalië. Die persoon wat in Somalië gebel is se naam word genoem, maar dit is deur Al Jazeera uitgehaal. Hy is, volgens die kabels, ʼn lid van Al Kaïda en betrokke by aktiviste wat in beheer was van infiltrering van Al Kaïda-terroriste na Mogadisjoe in 2007 en 2008.

Hoewel dit nog nie amptelik bevestig kon word nie, is daar reeds verskeie kere in die media beweer dat die Suid-Afrikaanse regering miljoene rande aan Al Shabaab betaal het om enige terreuraanvalle tydens die Wêreldbeker te verhoed.

Tydens navorsing wat vir die boek Black Widow, White Widow – Is Al-Qaeda operating in SA? gedoen is, het verskeie intelligensiebronne bevestig dat daar inderdaad ʼn “werklike” gevaar van terreuraanvalle was en dat daar “op hoë vlak ingegryp is” om die gevare af te weer.

ʼn Hoogs geheime ondersoek word reeds ʼn geruime tyd deur die Valke gedoen na die bedrywighede van aktiewe Al Kaïda-selle in die land asook die bedrywighede van Islamitiese ekstremiste wat bande het met die Islamitiese Staat.

Die Suid-Afrikaanse regering se Eenheid vir Misdade teen die Staat – beter bekend as CATS (Crime Against the State) – is verantwoordelik daarvoor dat die Wet op Buitelandse Militêre Hulp afgedwing word. Dié eenheid tree op teen Suid-Afrikaners wat as huursoldate elders in die wêreld gaan werk en moet dus ook enige Suid-Afrikaners ondersoek wat vir IS in Irak en Sirië gaan veg. CATS se spesiale ondersoekspan het ook destyds die Boeremag-saak gedryf.

Op voetsoolvlak word alle intelligensie oor moontlike bedreigings teen die land deur agente ingesamel en die ondersoek deur CATS het reeds ʼn gevorderde stadium bereik. Die vraag is net of die regering die politieke wil gaan hê om op te tree teen die samesweerders.

Dit is in intelligensiekringe bekend dat lede van die Al Kaïda-sel in Fordsburg wêreldwyd rondvlieg met vervalste Suid-Afrikaanse paspoorte. Een van hulle is een van die Suid-Afrikaners wat op die Amerikaanse sogenaamde “watch list” van internasionale terroriste is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Piet Pompies ·

Feit by monde van SAP onluste eenheid vanuit die Vaal Driehoek in 1994.
Die SA Geheime diens maak melding dat Moslems in die Kaap en Gauteng gewerf word internasionale terrorisme. Nou, meer as 20 jaar later word dit ontken, groot grap….

Drieks ·

Ek het in 2009/10 gesien hoe Pakistane die land inkom en by ‘n sekere complex laag lé bedags vir 3 weke tot 3 maande en dan eers bedags begin rond beweeg. Langs hul het ‘n polisie man gebly, en ek het hom gesé hierdie mense is met iets besig, maar niks het gebeur nie. Ek glo hul kom hierheen vir ‘n rede.

HEVW ·

Die vraag aan die einde: Gaan die regering die politieke wil he om op te tree………………………? Ek glo nie, of liewer ek is seker hulle sal met skyn voorgee dat daar opgetree word. Hulle het in elkgeval nie die vermoee daartoe nie. Hou die regering se hardnekkige ontkenning van die erns van plaasaanvalle en moord nie verband hiermee nie. Natuurlik nie georganiseerd en aktief betrokke nie, maar die uitskakeling van boere en grond kan sekere organisasies uit uitstekend te pas kom.

Francois ·

Die land is in sy kwet in..of ons dit nou wil aanvaat or nie, dis feite!

ladybug ·

Die ergste is dat die media al hierdie inligting kon uitsnuffel, maar die polisie kan of wil nie en tree ook nie op om hierdie gemors uit te wis nie!

Die hemel weet wat van ons gaan word, ons kan maar net aan God vashou en aanhou bid!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.