In diepte: Kopluismiddel hou dalk gifgevaar in

Foto: De Wet Potgieter

Foto: De Wet Potgieter

Niksvermoedende ouers het ʼn middel teen kopluise van ʼn privaatverskaffer in die Pretoriase Moot gekoop sonder om te besef watter skadelike uitwerking dit moontlik kan hê. Die polisie en staatsinspekteurs wag nou op die forensiese uitslae om amptelik vas te stel watter soort insekdoder in daardie bottels, “Treatment for Head Lice”, is. De Wet Potgieter het ondersoek gaan instel.

Die deurbraak het gekom toe wetstoepassers verlede week op ʼn huis in Gezina, Pretoria, toegeslaan het nadat ʼn kleuterskool in die Moot by die polisie gaan kla het oor ʼn middel teen kopluise wat kinders na bewering siek maak.

Inspekteurs van die departement van landbou en medisynebeheer se wetstoepassingseenheid het gedurende die klopjag beslag gelê op die kopluismiddel en dit weggestuur vir forensiese toetse. Daar word nou op die uitslae van die toetse gewag.

ʼn Maroela Media-ondersoek het aan die lig gebring dat die kopluismiddel op ’n onderneming se reklamepamflette bemark word. Daarmee saam bemark die onderneming gifstowwe wat insekte soos kakkerlakke, silwermotte, rotte en voëls uitroei.

Bronne na aan die ondersoekspan het aan Maroela Media gesê hulle vermoed die gifstof Fipronil is in die kopluismiddel van hierdie onderneming teenwoordig. Fipronil is die gifstof wat in handelsprodukte soos Regent gebruik word om kakkerlakke uit te roei, asook in sekere gewilde vlooibeheermiddels soos Frontline en Spot On wat vlooie op honde en katte beheer.

Afgesien van die gevare wat die mengsel vir kinders en selfs volwassenes wat dit gebruik, inhou, is dit ingevolge die Medisynewet en die Wet op Gifstowwe onwettig om enige gifstowwe te herverpak en onder ander handelsmerke te verkoop.

Die aanwysings op die kopluismiddel dui aan dat dit deeglik in die kopvel ingevryf en daar gelaat en eers ná 24 uur  afgespoel moet word. Die behandeling moet ná drie dae herhaal word en wel nog ’n verdere drie keer, sê die aanwysings by die middel. Dit is, volgens die etiket, reukloos, kleurloos en niegiftig vir die mens. Ouers word aangeraai om die middel ook op haarborsels en kopkussings te spuit om die luise dood te maak.

Volgens bronne na aan die ondersoek is die “giftannie” ʼn geregistreerde handelaar van gifstowwe en daarom veronderstel om bewus te wees van die gevare daaraan verbonde om met die oorspronklike produkte te peuter of dit te herverpak. Ouers word daarom aangeraai om eerder hul apteker te nader vir die korrekte medikasie teen kopluise en ook versoek om enige verdagte middels by die polisie in te handig.

Dit is nie bekend hoe wyd die middel versprei is en oor watter tydperk nie.

Fipronil word beskryf as ʼn insekdoder wat vir dieregesondheid en binnenshuise pesbeheer gebruik word. Dit tas die sentrale senuweestelsel aan en veroorsaak ʼn uitgerekte vrektyd wat verseker dat kakkerlakke, vlooie en rotte die gifstof terugneem na hul neste om ook ander te vergiftig.

Hhoewel dit nie dodelik vir die mens is nie, word dit beskryf as ’n “matige akute gifgevaar” indien dit ingeneem word.

Volgens Legal Examiner, ʼn Amerikaanse publikasie waarvoor meer as 500 prokureurs en deskundiges in die veligheidsbedryf gereeld bygewerkte bydraes lewer, kan mense wat Fipronil deur die oë of vel inkry ʼn ligte aanval van velirritasie ondervind.

Indien die gifstof egter per ongeluk ingeneem word, is die uitwerking gevaarliker en die simptome sluit in: koue sweet, kortasemheid, braking, kopseer, maagkrampe, duiseligheid en selfs floutes. Die simptome is egter nie dodelik nie en sal vanself uitwoed. In Amerika word dié middel geklassifiseer as ʼn produk wat kanker kan veroorsaak.

Hoewel die amptelike inligting oor Fipronil as insekdoder nie internasionaal as ʼn probleem beskou word nie, sê die Legal Examiner die geskiedenis hiervan skets ʼn heel ander prentjie. Verskeie lande soos Italië, Frankryk en China het die produk reeds verbied en ander lande soos die Verenigde Koninkryk en Australië oorweeg dit om ook hul voorbeeld te volg.

Hierdie lande se besluit om die gifstof te verbied is nie noodwendig oor vrese vir die uitwerking op hul landsburgers nie, maar eerder oor die moontlike negatiewe uitwerking op die vis- en waterlewe, asook die uitwerking op die voortbestaan van ʼn wye verskeidenheid dierelewe. Fipronil is dodelik vir visse en die vrees bestaan dat dit in die natuur tot groot krisisse kan lei as hierdie gifstof per ongeluk in riviere en damme beland.

kopluisMaroela Media het die eienaar van Pest Control Technologies, Ronelle du Toit, genader oor die klopjag op haar huis in Gezina. Sy het egter geweier om enigiets oor die voorval te sê en haar enigste reaksie was: “Geen kommentaar!”.

Na wat verneem word, wag die ondersoekbeamptes eers vir die uitslag vanaf die forensiese laboratorium voordat daar in oorleg met landbou- en medisynebeheer oor enige strafregtelike stappe besluit gaan word.

Daar is aan Maroela Media gesê dis van kardinale belang om sulke skadelike middels wat gesmous word van die mark te verwyder. Ouers koop sulke middels in goeder trou om hul kinders te help, maar besef nie die gevare wat onbeheerde medikasie en gesondheidsmiddels inhou nie.

Volgens riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO, Engels: WHO) moet mense medikasie en middels wat elders as in apteke, by dokters of in gerespekteerde winkels verkoop word, met omsigtigheid benader. Gaan na die verskaffer se webwerf en maak seker van die geloofwaardigheid en wettigheid van die handelsmerk. Kyk goed na die etiket en besonderhede van die produk se verpakking. Swak verpakking en gebrekkige aanwysings op die etiket moet dadelik rooi ligte laat flikker. Vra altyd die vraag: Hoekom is hierdie produk nie vrylik op die ope mark en in winkels beskikbaar nie?

“Die enigste veilige en doeltreffende manier om kopluise te behandel is produkte wat oor die toonbank gekoop word,” het ʼn mediese dokter van Pretoria gewaarsku. “ʼn Mite wat ouers uit hul kop moet kry, is die oumensstorie waarmee ons grootgeword het dat ’n mens kopluise kry omdat jy nie gereeld bad nie,” het die dokter bygevoeg. “Dit was maar net om ons as kinders bang te maak wanneer ons nie wil bad nie. Enigiemand kan kopluise kry … selfs dokters, maar kinders is egter meer vatbaar omdat hulle mekaar se hoede, serpe, haarborsels en kamme deel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Janine N ·

Genade tog! Het die ma’s nog nooit van tea tree oil gehoor nie?

THEA SWART ·

spoel die haartjies een keer per week met asyn water af en hulle sal nooit luise kry nie dit was ‘n ritueel in ons huis haarwas dag op Saterdae is asyn dag

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.