In diepte: Plaasaanvalle – waarheen boer SA?

(Foto: Reint Dykema)

In Suid-Afrika is een ding wat alle mense oor sosio-ekonomiese grense heen gemeen het, die feit dat byna niemand veilig in hul eie huis voel nie. Geweldsmisdaad vier hoogty, maar min misdade het tot dusver so ʼn swak reaksie van die regering ontlok soos plaasaanvalle. Die slagoffers van hierdie aanvalle word dikwels gemartel en die meeste ag hulself gelukkig as hulle die aanval oorleef.

Só sê Dianne Kohler Barnard, DA-LP en voorsitter van die party se werkgroep oor landelike veiligheid. Boere, plaaswerkers, hul families en besoekers van alle rasse word bedreig. Enige plaasbewoner se kans is vandag dubbel so groot om vermoor te word as ʼn polisieman en vier keer groter as die gemiddelde Suid-Afrikaner.

‘Ek is geskiet, maar ek is fine

Bloot omdat iemand nie vermoor word tydens ʼn aanval nie, beteken dit nie dat dit ʼn minder traumatiese insident is nie, sê Kohler Barnard. Mense word verkrag, gebrand, geslaan en gebreek. Die vlakke van marteling neem Middeleeuse proporsies aan, meen sy.

Chris en Leonise Joubert. Foto: Verskaf

Vir Carien Hartman was die nuus verlede week dat haar ouers, Chris en Leonise Joubert, en haar ouma op hul plaas in Limpopo aangeval is, so ʼn groot skok dat haar oom dit drie keer vir haar moes vertel voordat dit ingesink het. Haar ma se woorde, “Ek is geskiet, maar ek is fine. Maar Pappa lyk nie goed nie, hyt baie seer gekry”, het skaars geregistreer. Haar ma is ook verkrag tydens die aanval en het toestemming gegee dat haar naam bekend gemaak mag word.

Hartman het die bure en die res van die familie gebel en dadelik gaan pak om Limpopo toe te ry. Sy was in ’n toestand toe sy nie haar ouers dadelik by die hospitaal kon sien nie weens Covid-19-maatreëls. Tog is sy dankbaar dat dit fisiek elke dag beter met haar ouers gaan. Hulle sterk by die Hartman-gesin aan. Ma Leonise moes weer hospitaal toe gaan vir ’n bloedklont in haar been, maar dit is gelukkig vroeg raakgesien.

“Hoe hulle so positief is, gaan my verstand te bowe, maar ek weet dat die Here hulle nie vir een enkele sekonde los nie. Hulle sterk geloof is iets om te bewonder en die getuienis wat uit hierdie aanval kom, is absoluut ongelooflik,” sê sy.

Die Hartmans boer self op Middelburg in Mpumalanga en is deurentyd bewus daarvan dat hulle ʼn moontlike teiken is. Hulle het ʼn alarmstelsel binne en buite die huis, maar daar was al aanvalle op plase waar die beste veiligheidsmaatreëls getref was, sê sy. “Dis iets wat mens vrees omdat jy dit nie kan voorspel nie. Maar watter tipe leefwyse is dit om die heeltyd in vrees te lewe?”

Hartman voel die regering moet strenger optree teenoor sulke aanvallers. “Daar moet van die skuldiges ʼn voorbeeld van gemaak word en hulle mag nie los kom nie. Dis nie net boere wat so geweldadig aangeval word nie, dis mense van alle rasse in verskillende dele van die land. Die regering behoort ons almal te beskerm.”

Wat is die statistieke?

(Argieffoto)

Hoewel die staat van inperking meegebring het dat daar minder aanvalle en moorde in die eerste paar maande van die jaar was as verlede jaar, was daar weer ʼn skerp toename met die uitfasering daarvan.

Geweldsmisdaad is in die algemeen ʼn groot probleem in Suid-Afrika en dis moeilik om stedelike misdaad met dié van landelike gebiede te vergelyk, maar as ʼn mens in ag neem dat plaasaanvalle in Suid-Afrika 700% hoër as in ander lande is, moet die rooi ligte tog flikker.

Chris van Zyl, adjunkhoofbestuurder van TLU SA, sê dat daar aan die begin van die inperkingstydperk ’n merkbare styging in niegewelddadige misdade in landbougebiede was, wat grootliks toegeskryf kan word aan diefstal van eetbare produkte soos lewende hawe, groente, vrugte en mielies, asook verhandelbare goedere soos gereedskap en selfone.

“Hierdie toedrag van sake het egter geleidelik verander en geweldsmisdade het merkbaar toegeneem, soveel so dat die voor-inperkingsvlakke spoedig weer die norm geword het,” sê hy.

Met enkele uitsonderings het die noordelike provinsies – Noordwes, Limpopo, Mpumalanga en Gauteng – statisties die ergste deurgeloop, maar die voorkoms van geweldsmisdade in gebiede wat gewoonlik op sigwaarde veiliger is, het toegeneem.

Die syfers van plaasaanvalle oor die afgelope 19 jaar is onrusbarend. Volgens die minister van polisie Bheki Cele was daar oor die afgelope twee dekades 12 600 aanvalle en 1 730 moorde op plase. Dit is ʼn gemiddeld van 661 aanvalle en 91 moorde per jaar.

Met die oorskakeling na ʼn demokratiese stelsel in die 1990’s was daar na raming 200 000 kommersiële plase. Dié getal het tot sowat 30 000 gedaal. Die risiko om te boer het met die jare al hoe hoër geraak.

Volgens AfriForum se afdeling vir gemeenskapsveiligheid was daar al 210 plaasaanvalle in 2020, met 29 moorde. Die getalle het skerp gestyg van Mei tot Junie, met 19 aanvalle in Mei en 40 aanvalle in Junie. Julie het 41 aanvalle en nege moorde gesien, en Augustus sover 22 aanvalle.

Waarom die toename in aanvalle?

(Argieffoto: Lorraine Claasen)

Daar is baie teorieë oor waarom aanvalle plaasvind. Sommige kundiges sê dit word deur behoeftigheid gedryf, met die toename in werkloosheid en hongersnood wat deur die nasionale Covid-19-inperking vererger is. Ander meen dat al hoe meer aanvallers niks steel tydens ʼn aanval nie, maar spesifiek gaan om te verkrag en vermoor.

Kohler Barnard blameer die minister van polisie ten volle vir die toename in aanvalle omdat hy die plaaspatrollies gestop het, wetend dat die landelike polisiestasies groot uitdagings in die gesig staar wat kapasiteit en toerusting betref. Sodoende het misdadigers groter bewegingsvryheid gekry.

Boonop word van boere verwag om bedags te werk en snags op eie eiendom ’n veiligheidsteenwoordigheid te handhaaf, sê Van Zyl. “Hierdie toedrag van sake was vererger deur enersyds honger mense op soek na kos, maar ook andersyds deur kriminele entrepreneurs wat op groter skaal die relatief beperkte paraatheid en sigbaarheid van plaaswagte uitgebuit het en plase geteiken het,” meen hy.

Kriminoloog prof. Christiaan Bezuidenhout van die Universiteit van Pretoria doen al jare lank navorsing oor plaasaanvalle. Hy sê dat dit nie altyd rasgedrewe is nie, want swart boere en plaaswerkers word ook aangeval.

“Omdat plase so geïsoleerd is, is dit sagte teikens. Dis gewoonlik ʼn groep misdadigers wat saamwerk, so iemand in die groep kan strategies geplaas word om dop te hou of daar hulp op pad is en sy makkers betyds verwittig om hulle wegkomkans te verbeter. Nog ʼn rede is dat daar dikwels baie is om te buit, soos gewere, motors en kontant wat vir loonarbeiders bedoel is. Weerwraak is nog ʼn rede vir ʼn plaasaanval, maar dis in die minderheid van gevalle.”

Waarom die wreedheid?

(Argieffoto)

Ongelukkig is plaasaanvalle sinoniem met hoë vlakke van geweld en soms selfs duidelike tekens van onmenslike lyding en doelbewuste marteling, sê Van Zyl. Dit kan waarskynlik toegeskryf word aan die relatiewe geografiese isolasie van plaasbewoners in die landbougebiede, asook die tyd-en-afstand-faktor wat doeltreffende reaksie deur die SAPD, sekerheidsmaatskappye en plaaswagte tot ’n mate aan bande lê.

Volgens Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se sentrum van uitnemendheid vir landelike veiligheid, is die brutaliteit van die aanvalle absoluut ongekend. Die organisasie ondersoek die moontlikheid dat die aanvalle georganiseerd van aard is. “My bekommernis is dat daar ʼn vorm van vergelding daaragter sit,” sê hy.

Die geweld waarmee plaasaanvalle gepaard gaan, moet toegeskryf word aan ʼn kombinasie van veranderlikes. Bezuidenhout wys daarop dat ons uit ʼn geskiedenis kom waar geweld gebruik word om probleme op te los – ʼn mens sien dit in huishoudelike geweld, verkragting, dieremishandeling, padwoede. Die ergste van alles is dat geweld dikwels sukses meebring; dit lyk asof jou probleem opgelos is, sê hy.

“Die kern van die probleem is verrotte morele ontwikkeling, ʼn swak morele kompas van kleins af. Baie kinders word in armoede en gebroke huise groot en word nie geleer wat reg en verkeerd is nie.”

Ongelukkig kan hierdie skip nie oornag omgedraai word nie.

Bezuidenhout glo Suid-Afrika se geweldsmisdaad gaan nie bloot ophou as daar ʼn groter polisiekorps is nie; dit sal generasies se harde werk verg van families wat hulle kinders reg leer.

Intussen moet plaasaanvalle op praktiese vlak hanteer word, al is dit net ter wille van die dreigende voedseltekort in ons land, sê Bezuidenhout. “Boere word al hoe minder en moet opgepas word, anders gaan Suid-Afrika nie meer kos hê om te eet nie,” sê hy.

Plaasmoorde is ’n verskynsel wat verskeie faktore insluit en kan waarskynlik nie na een oorsaak herlei word nie, beaam Ernst Roets van AfriForum. “Dit is ongetwyfeld so dat armoede en hongersnood ’n rol speel, maar dit is nie al nie. Politiek en rassisme en die romantisering van geweld teen boere deur politici speel ook ’n rol. Elke voorval moet op sy eie meriete ondersoek word, maar verskeie oorsake kan aan die misdaadverskynsel gekoppel word.”

Wat is die oplossing?

Suid-Afrikaners maak tydens ‘n betoging stem dik oor plaasaanvalle. (Foto: Verskaf)

Die stellings deur politici dat plaasmoorde groter prioriteit moet geniet, is goeie nuus en moet verwelkom word, sê Roets. Tog moet die regering besef dat dit nie bloot ’n krisis in teorie is nie, maar dat dit ’n werklike krisis op grondvlak is. “Net so kan die reaksie op die krisis nie bloot ’n teoretiese reaksie wees nie – soos ’n besluit wat iewers op ’n notule lê. Daar moet daadwerklike optrede in die praktyk wees. Praktiese stappe moet aangekondig word,” sê hy.

Die DA het ʼn 16-punt-plan saamgestel en gedryf, waarna die polisie saamgestem het dat hierdie aanvalle op plase en kleinhoewes haatmisdaad is en as prioriteitsmisdaad gekategoriseer moet word. “Die DA glo dat die SAPD se ondersteuning sal help om die vloedgolf aanvalle op plase en ander landelike misdade te stuit,” sê Barnard.

As plaasaanvalle as haatmisdaad herklassifiseer word, sal daar meer personeel en toerusting aan polisiekantore landswyd toegeken word. Spesialiteitseenhede behoort ook geskep te word.

TLU SA is sedert die negentigerjare ’n uitgesproke voorstander van die plaaswagstelsel, bestaande uit medeboere wat ’n beproefde kommunikasiestelsel benut om op geordende wyse te reageer wanneer nodig. “Die nuutste strategie is einde verlede jaar opgedateer om met die SAPD se landelike veiligheidstrategie te belyn,” verduidelik Van Zyl.

Hierdie strategie word gesteun deur ’n reeks veiligheidsbulletins wat praktiese wenke en riglyne toelig. Daarmee saam is die SAPD versoek om ernstige oorweging te skenk aan ’n “landbouvriendelike SAPD-reservistestelsel”, wat die leemte wat die ontbinding van die destydse kommandostelsel in 2003 gelaat het, kan vul.

“Meer as ooit raak dit nou nodig vir die SAPD om personeel en logistiek gesteun deur misdaadintelligensie beskikbaar te maak om gestalte te gee aan landelike veiligheid se status as ’n nasionale prioriteitsmisdaad,” beklemtoon Van Zyl.

Agri SA en die polisie het intussen ʼn taakspan saamgestel om die landelike veiligheidsplan in werking te stel en te verseker dat die nodige hulpbronne beskikbaar is vir dié plan om te slaag. Dit kom nadat die twee partye aan die einde van Julie vergader het om die uitdagings wat met die inwerkingstelling van die landelike veiligheidsplan gepaardgaan, te bespreek en saam te takel.

Plaasaanvalle en -moorde in die parlement

parlement-wikimedia-commons

Die parlementsgebou in Kaapstad. Foto: Wikimedia.org

Die DA se versoek vir ʼn nasionale debat oor die onlangse plaasaanvalle en -moorde is toegestaan en sal op 1 September plaasvind. Die party is in gesprek met verskeie navorsingsinstansies met die doel om ʼn nasionale studie van hierdie fenomeen van stapel te stuur.

AfriForum het ook ’n formele skrywe aan die parlement gerig om ’n openbare verhoor oor plaasmoorde te hou. In sy versoek vra AfriForum spesifiek dat organisasies wat by die stryd teen plaasmoorde betrokke is die geleentheid gebied word om voorleggings oor potensiële oplossings aan die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie voor te lê.

“Ons pleidooi is vir gelyke behandeling vir boere omdat dit standaardpraktyk is om gefokusde teenstrategieë te ontwikkel in reaksie op unieke misdade wat verreikende gevolge het. Dit gebeur egter nie in die geval van plaasmoorde nie,” het Roets gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Werner ·

Wel terwyl almal so soek na antwoorde en solank Agri SA dink hulle maak vordering in hulle gesprekke met die pilissie is die geweld besig om buite beheer te raak .Dit sal in n oorlog omsit as die aanvalle nie gestop word nie

Ou gees ·

Kan ons nie, as gemeenskap, elkeen bydra vir gewapende reaksie net vir boere nie?
Hoe moet die boer bedags boer en nog snags patrolleer?
As 200 000 gemenskapslede elk R20 per maand skenk, kan die geld baie vêr gaan vir opleiding, hulpbronne en vergoeding.

Of is daar reeds so iets op die been wat ek kan ondersteun?

Andrew ·

Dit is n uitstekende idee, skep n privaat patrollie en speur/anti plaas aanval diens.

Anoniem ·

Ek sal definitief bydra vir so ‘n fonds want ons boere is BAIE BELANGRIK maar word nie beskerm deur die regering nie.

Adeline ·

Wel as vuur met vuur beantwoord word kan ek beslis sê daar gaan aandag aan gegee word met bogenoemde saak. Die kriminele word uit die trok vrygelaat deur die voos vrot korrupte “cANCer” president om “shine” te vang by “Black Matter” want Mal-Emma se leuse was “Kill the boer, Kill the Famer” en dit kan nie weggeredeneer word nie – dit is waar plaas moorde en aanvalle vandaan kom van voor 1993. Eers in Zim en nou hier want die room van misdadigers het oorgestroom RZA toe deur ‘n oop grensdraad wat ook deur die vvk cANCer bewerk is. Baie mense het hard gewerk om die buiteland in kennis te stel (waarvan ek een was – alles oor vertaal en gestuur) waar ons eie mense in die regte poste te slapgat was om iets te doen. Die kriminele is HOOGS kreatief in misdaad en uitwerk daarvan – ons mense maak planne met papier , praat , praat, praat en niks gebeur nie – antwoord vuur met vuur is verseker ‘n groot oplossing. Daar sal minder misdadigers rondloop.

Jakes ·

Daar moet n nasionale veiligheidsplan saamgestel word wat boere verplig om hulself sowel en elke lid van die gesin te dwing om paniekknoppies permanent in hul besit te he. Hekke moet altyd gesluit bly en diefwering moet verpligtend wees. Boere moet geen besoekers toelaat op hu l plaas tensy afsprake vooraf gemaak is nie. Die reels is abnormaal maar noodsaaklik.

Jana ·

Saam met wat jy gesê het Jakes, moet elkeen in die gesin wat oud genoeg is ‘n rewolwer saam met hulle dra sodra hulle hulle tone by die deur uitsit en binne in die huis, en ook in die kar moet ‘n wapen altyd maklik bereikbaar wees. Soos jy sê Jakes, dit is abnormaal maar nodig. Ek glo misdaad en aanvalle sal drasties afneem as aanvallers hulle rieme aanhoudend styfloop teen boere en landsburgers wat hulle self verdedig.

Kokerboom ·

As die sosio-ekonomiese krisis in die land nie aangespreek word is ek bevrees dinge gaan al slegter word. Daar is geen lig op die horizon sonder daadwerklike aksie!!!

Adam Adriaan ·

Daar kan met die ANC gepraat word oor hierdie plaasaanvalle tot die perde horings kry. Dit is ‘n mors van tyd. Dit is deel van hulle beplande strategie, om boere van die plase af te kry. Saam met die pandemie het die strategie ‘n hupstoot gekry. Talle beperkings is op die verskeie landbou sektore geplaas, om dit finansieël te knak. Dink maar aan die drank, tabak en toerisme bedrywe. Dit pas so mooi ‘n hulle kraal. Hierdie gepraat en beloftes van CR en die ministers is maar net ‘n gepaai en bek lek en stert swaai. om die aandag af te lei vanaf die werklikheid.

Vrijburger ·

Jip, ‘n beplande stategie wat jare gelede al begin het met die afskaf van die kommando stelsel.

Hercules ·

die ANC regering noem dit Kouwit-19 en korrupsie, maar dit is niks anders as diefstal, brutale terroristiese moord en onteining van die belastingbetaler se geld nie!!

My siening ·

Ja Faf, AB, Smith wit lewens maak nie saak nie, as julle n gewete het hoop ek dit ry julle elke nag. So ook vir Klosie wat sy rugby te wyte het aan wit mense om op die beste skole te gewees het. Flo louw was in elk geval die beter flank maar was terug gehou.
Ons het baklei eers vir hou politiek uit sport en nou kom spelers soos bo en bring poltiek in sport in. Hoe lekker spog ek nou!!

lollapot ·

AS hulle kan lees, sal dit beslis nie Afrikaanse koerante wees nie. . .

Alet ·

Die logika het nog nie by die regering ingesink dat boere baie belangrik geag word vir hierdie land nie.

Cherokee ·

Ag hou tog op om boere as brood en botter te sien. Wanneer jy na ‘n boer en sy vrou kyk, sien jy nie ‘n sak ertappels en ‘n mieliestronk, maar mense! Mense wat geregtig is op dieselfde beskerming as die boemelaar op die strand wat geen bydrae lewer.

marius ·

Wit boere word spesifiek geteiken sodat die grond beset kan word , hetsy deur dood of moed opgee. Maak geen fout dat wit mense in stede of dorpe ook in die visier is nie . Daar is geen intensie om dit te stop nie . Dis die waarheid

ES ·

Ek kan nie glo dat ons toelaat dat een man, Mnr Cele, die mag het om ons te verhoed om plaaspatrollies op die been te bring nie.

Hy ontneem ons van ons reg op veiligheid en ons reg om liggaamlike beskerming. Hy het nie die mag om ons van ons veiligheid te ontneem nie. Ek dink dis hoogtyd dat hy aangevat word daaroor. Hy is nie “almighty” nie, hy het nie ‘n se oor my lewe of joune of selfs on veiligheid nie.

Pieter ·

Die boere het baie mag hulle moet op hou praat en onderhandel. Wil sien waar gaan our people kos koop by spar of pick pay as die rakke leeg is. SAAI moet op hou om met die terroriste te onderhandel en kry die boere en blankes om standpunt in te neem.

annie ·

Dit is nie noodwendig die een wat meer besit as die een wat hom beroof/moor wat skuldig moet voel oor sy rykdom/vooruitgang agv sy hardwerkendheid nie, maar die aanvaller. Daar word gedurigdeur in SA betoog dat Afrikaners soos Job, dit of dat versuim het of so of so ingedoen het en dus straf verdien. Indien mens jouself en gesin weelde gun moet jy gesinsbeplanning toepas en jou finansies ooreenkomstig. Die bevolkingsbalans is buitensporig skeefgetrek. Kyk na grafieke sedert 1910. Mandela het sy mense aangemoedig om te vermeerder en gratis ‘alles’ beloof. Die ANC probeer hierdie balanseertoertjie maak werk deur die verantwoordelikheid op Afrikanergewete te plaas en die tekorte op wit grafstene te lys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.