Die renosterslagting is reeds verby die krisisstadium en het nou die punt van maak of breek bereik. Van hierdie diere het die verskriklikste dood denkbaar gesterf aan die hand van gewetenlose wildstropers.
Die amptelike syfer vir verlede jaar was 1215. Dit beteken dat een renoster elke agt ure van die dag iewers in Suid-Afrika gestroop is. Teen die einde van April vanjaar was daar reeds ʼn verdere 393 tot dusver vanjaar afgemaai. In 2011 is 448 doodgeskiet, 2012 668. In 2013 het dit gestyg na 1004 en die jaar daarna ook tot 1004.
As mens terugkyk in die geskiedenis, is dit duidelik dat die ANC-regering hom nie gesteur het aan die waarskuwings van ʼn dreigende krisis wat aan die broei was nie. Die regering was inderdaad aandadig aan die renosterslagting met sy stiksienigheid oor die waarskuwings en het met onbesonne besluite die klimaat help skep waarin die stroperbendes vandag gedy, skryf De Wet Potgieter.
ʼn Studie wat reeds in 1997 deur die Instituut vir Sekuriteitsstudies (ISS) gedoen is, het onthul dat die onwettige handel in bedreigde spesies, veral renosterhoring, internasionaal gereken word as die derde grootste smokkelbedryf met ʼn geraamde jaarlikse omset van meer as R10-miljard. Net die internasionale dwelms- en wapensmokkelary is groter. Die ISS het toe al, drie jaar nadat die ANC aan bewind gekom het, gewaarsku dat die relatiewe kalmte in die sluikhandel van renosterhoring ʼn vals voorstelling was van wat werklik aan die kom was.
Die renosterstropery was met die aanbreek van die nuwe millenium nog relatief onder beheer, maar ná 2006 was dit of alle hel losgebars het. Die skokkende syfers het begin toeneem en teen 2008 was dit al duidelik dat Suid-Afrika se renosters onder beleg was. Die situasie was weer terug na die toestande aan die einde van die tagtigerjare toe die aanslag op olifante en renosters ook totaal buite beheer geraak het.
Dit was onder daardie omstandighede wat die vorige regering genoop het om ʼn spesialiseenheid, die Eenheid vir Bedreigde Spesies (EBS), te stig. Dit het bestaan uit ʼn uitgesoekte groepie topspeurders wat onder die bevel van Kol. Pieter Lategan baie vinnig daarin kon slaag om die misdaadsindikate te infiltreer en die smokkel van renosterhoring en ivoor tot die miminum af te dwing.Lategan en sy manne het die misdaadbase met hul renosteroorlog die stryd aangesê en wêreldwyd erkenning gekry oor die metodiese wyse waarop die eenheid te werk gegaan het om te verseker dat suider-Afrika se renosterkuddes vir 15 jaar veilig was. Die EBS het oorgrens opgetree en hoewel dit nog in die dae van apartheid was, het buurstate hulle toegelaat om oorgrens op te tree.
Dit is eintlik hartseer om terug te kyk na al die suksesse wat die EBS gehad het en hoe stropers deesdae onbevange renosters afmaai om die gierige sindikaatbase ryk te maak in ʼn mark ver weg van Afrika af. En dit alles om mense se absurde bygelowe met gemaalde renosterhoring te bevredig.
Dit was juis in daardie stormagtige jare van politieke malheid wat die EBS die byna onbegonne taak aangepak het in die stryd teen die stropery… en dit gewen het.
Soos met so baie ander goed beheerde stelsels wat die ANC-regering in 1994 in die land geërf het, het die nuwe leiers ook hier met ʼn tipiese valse sin van sekuriteit en euforie blykbaar geglo dat die “vrede en stabiliteit” wat daar heers met die veiligheid van die bedreigde spesies vir altyd sal aanhou.
Omgewingskwessies en die beskerming van ons bedreigde skatte was nou nie juis ʼn prioriteit op hul lys nie. Transformasie, regstellende aksie en om dorp- en straatname te verander was baie belangriker kwessies wat aangespreek moes word.
En toe die goed georganiseerde stroperbendes links en regs begin om diere in die wildreservate dood te skiet en die internasionale druk van natuurorganisasies al hoe erger geraak het, toe weet die regering nie wat om te doen nie.Danksy die stiksienigheid van die destydse kommissaris van polisie, Jackie Selebi, om al sy spesialiseenhede te ontbind, was sy polisiediens in effek totaal ontman. Nugter weet hoe die man gedink het, maar die skade wat hy aangevang het, is tot vandag toe nog sigbaar en aanvoelbaar vir elke burger van die land.
Dit het die polisie se vermoëns op elke vlak van effektiewe misdaabekamping totaal verwoes. Van die beskerming van die bedreigde spesies tot kinderbeskerming, geweldsmisdaad en skarebeheer. Kyk maar net wat het met die Marikana-slagting gebeur, ʼn sprekende voorbeeld van totale onbevoegdheid om te regeer.
Die internasionale druk was groot en die swak publisiteit in die media het die wetstoepassers soos afkop hoenders laat rondskarrel. Te midde van dié paniek het die afskaffing van die spesialiseenhede vir die goed georganiseerde stroperbendes ʼn gaping gebied terwyl die owerheid, gekastreer deur ʼn korrupte stelsel, magteloos moes toekyk.
“Ek het in 1998 uit die polisie bedank toe ek besef dat al ons goeie werk deur die kortsigtige en moedswillige houding van die regering vernietig word,” het Kol. Lategan verduidelik.
“Hulle wou nie luister na ons waarskuwings dat hierdie ‘omgewings-utopia’ wat hulle geërf het, nie vir altyd so sal aangaan sonder die deskundige hulp van die EBS nie.”
Selebi het sy spesialis-speurders oornag gedegenereer na administratiewe beamptes in polisiekantore. “Hy en sy ANC-base het inderwaarheid die chaos van wetteloosheid geskep waarmee ons vandag in die land moet oorleef,” het Lategan sy frustrasies uitgedruk.
Hy en sy spesiale span speurders het vroeër jare met fyn, strategiese beplanning die smokkelnetwerke met diep-dekkingsagente geïnflitreer. “Ons het uiteindelik daarin geslaag om renosterhorings te koop en te verkoop. Agente het hulself as smokkelaars voorgedoen en beheer van die internasionale smokkelmarkte geneem,” het Lategan verduidelik.
Die beleid was om dit spotgoedkoop by die stropers te koop en teen astronomiese pryse aan die koper te verkwansel. Dit het gesorg dat dit nie meer vir die stropers lonend was om die diere te gaan doodskiet nie. “Ja, vir jare het ons die sluikhandel beheer en die skelms het nie ʼn benul gehad dat hulle eintlik met die polisie sake doen nie.”
Volgens Lategan was sy eenheid in daardie jare internasionaal baie hoog geag in die natuurbewaringswêreld. Hy het later lede van die polisie se Spesiale Taakmag deel van die EBS gemaak om die speurders agter die skerms te beskerm tydens operasies. Die EBS het op twee vakke gewerk met speurders wat misdaadtonele moes ondersoek en die diepdekkingspanne.
“Ons het die misdade geskep, die situasies onder beheer gehou en die markte beheer. Toe Selebi ons toegemaak het, was daar oornag ʼn leemte met ons, die ‘goeie ouens’, wat nie meer deel van die misdaadsindikate was nie. Dit het eers ʼn rukkie gevat, maar toe die misdadigers besef daar is ʼn leemte het die internasionale sindikate na hartelus te kere begin gaan.
Volgens Lategan was dit vir hom ʼn verskriklike hartseerdag toe hy besef hy en sy manne is nou in ʼn doodloopstraat. Hy het geweet hulle was uitgelewer aan ʼn lot amateurs wat nog nie uitgevind het daar is ʼn verskil tussen die “struggle” en ʼn land regeer nie.
“Daardie finale opdrag om ons te ontbind het nie net vir Suid-Afrika nadelig getref nie. Ons het oor landsgrense gewerk en die nagevolge hiervan kan vandag nog oral in suider-Afrika gesien word waar die renosters op strepe afgemaai word,” was Lategan se laaste woorde. “Nou het hulle ook alweer begin om die olifante te teiken.”
Die ANC is soos n klomp termiete , hulle verwoes alles.
ek stem saam met Gerhard Bezuidenhout – 100%
Touche Gerhard
Die lot verwoes alles en maak seker die geld beland in hul sakke. Hulle is in beheer van die stropings om hul vraatsug te bevredig. Dit is nie genoeg om net die luukste kraal in die wereld te bou nie, hulle moet alles in die land eers beroof en vernietig voor hulle tevrede sal wees want om iets te bou of te bewaar bestaan nie in hul verwysingsraamwerk nie.
Hoe reageer mens sinvol hierop?
Nee, jy kan nie.
“ek weet nie hoe die man gedink het nie”…….Ja, daar le die probleem van Afrika
Daar sal drasties ingegryp moet word. Sentraliseer die renosters op verskeie kleiner plekke waar daar beheer moontlik is, soos deur natuurdeskundiges voorgestel. Renostereienaars kan dan n fonds stig om bewaring moontlik te maak en vrywillig hul renosters of gedeelte daarvan te vestig. Dit kan dan dien as kleiner renosterparke wat vir toeriste beskikbaar is en sodoende inkomste genereer. Aandeelhouers kan verwerf word. Voortdurende toeriste – teenwoordigheid met oornagfasiliteite sal terselfdertyd dien as beskerming. n Ander drastiese uitweg is, as dit dan moet, voordat dit te laat is kan daar eerder n wet bekragtig word dat alle renosterhorings binne n bepaalde tyd verwyder word. Dit sal stropery onmiddelik vir n bepaalde tyd staak. Dit sal dan ook bevestig of renostereienaars werklik erns met die bewaring daarvan het.
Sinvolle reaksie? Ek dink nie daar is nie. Hoe lank gaan die sekere handjievol nog uithou teen n oormag van ” maak soos ons wil” want alles is nog apartheid se skuld. Ek was self een van hulle wat oor landsgrense ondersoeke gedoen het om wilde diere te beskerm en weet hoe hulle voel. Nou is dit weerskante toe baklei. Tussen die regering en die geld bemagtigde stroper. Sterkte vir een en elke man wat nog sy kop uitsteek en optree teen wat verkeerd is.
Wonder al lankal nie meer waarom die wêreld lyk soos hy lyk nie. Hierdie einste onbevoegde Jackie Selebi met sy stiksienige, kortsigtige, gebrekkige oordeelsvermoë is deur Interpol aangestel as hulle Grootbaas. Onthou nog my ongeloof by die lees daarvan, want sy verwoestingswerk was toe reeds in volle swang in die ‘nuwe’ SA.
Reuse bedrae word deur die sg. ryk lande na die talle red-die-renoster-organisasies gegooi sonder enige daadwerklike optrede. Hoe lyk dit bv. met strafmaatreëls deur die VN teen die Oosterse markte (vir renosterhoring)? Hulle is egter te ruggraat- en tandeloos daarvoor.
Hierdie insiggewende artikel maak dit baie duidelik dat die saak reeds min of meer verlore is. Engelse vertalings hiervan moet die wêreld ingestuur word sodat almal ten minste korrek ingelig is oor die redes vir hierdie tragedie wat besig is om af te speel.
Die Ooste, veral China, is mos ons maatjies, so ?
Met ondervinding in Suider-Afrika en verder sedert 1981 het ek al vele gesprekke op die grond gevoer. Om rentmeesterskap te neem van die land, plante en diere (of medemense) is ongelukkig nie deel van die denke nie. Olifante, renosters, leeus, gorillas, okapi … Meeste dele van die 1 734 km van die Kongrorivier tussen Kisangani en Kinshasa het geen meer seekoeie of krokodille soos wat nog op ou handgetekende Belgiese kaarte aangeteken was.