In diepte: Suid-Afrika onder beleg van internasionale korporatiewe spioene

Argieffoto

Argieffoto

Of dit nou nie genoeg is dat Suid-Afrikaners geteister word deur revolusionêre magte se aanslag op ons monumente, gewelddadige grondbesetttings, plaasmoorde wat eenvoudig net grusamer raak en Eskom se beurtkrag wat die landsekonomie verwoes nie, is daar ook ’n ander probleem wat kop uitsteek. Nou teiken kuberspioene die webwerwe van ons land se korporatiewe markte om die intellektuele eiendom (IE) vir eie gewin te roof.

Reeds twee jaar gelede het top staatsamptenare en deskundiges in die veld van kuberveiligheid gewaarsku dat kubermisdaad nie meer net ’n misdaad is nie, maar nou ontwikkel het in ’n nasionale krisis. Die situasie word beskryf as op dieselfde kritiese vlak as Suid-Afrika se MIV/vigs-pandemie. De Wet Potgieter het gesels met ’n top- forensiese internetspeurder wat, vanweë die sensitiwiteit van sy werk en die dienste wat hy vir staatsinstellings en intelligensieagentskappe bied, verkies om anoniem te bly.

Geen maatskappy word ontsien nie. Van regeringswebwerwe tot die polisie, banke en ander korporatiewe instellings word deur hierdie uiters gesofistikeerde kuberspioene geteiken. Hulle gebruik van die wêreld se beste kuberkrakers om maatskappye en instellings se IE  te steel en dit dan ten duurste aan mededingers te smous. ’n Maatskappy se IE is goed soos kopiereg, patente, handelsmerke en handelsgeheime.

Suid-Afrika se suksesverhaal om een van die leidende handelsreuse in Afrika te  word het ook die donker kant van hierdie prestasies stelselmatig na vore laat kom terwyl korporatiewe boewe hul aandag op die suidpunt van Afrika begin vestig het.

“Dis ongetwyfeld so dat Suid-Afrika tans ’n primêre teiken is in die duister wêreld van internasionale nywerheidspioenasie,” waarsku die forensiese speurder. “Maatskappye se IE word in die stilligheid gesteel en vir die hoogste bod verkwansel. Genoteerde maatskappye, mynhuise en ander groot sakeondernemings verloor biljoene rande per jaar op hierdie manier, maar verkies dat hul verliese nie aan die groot klok gehang word nie.”

Suid-Afrika, ’n Afrikaland met ’n bestendige en goed gevestigde banknywerheid, skep die perfekte geleentheid vir internasionale sindikate om hulle geld, wat op ’n onwettige wyse bekom is, te kom was.

Die kuberdeskundige het aan Maroela Media verduidelik dat internasionale spioenasie-instellings elke moontlike truuk in die boek gebruik om inligting te versamel oor binnehandel by maatskappye. Van die skelm metodes wat hierdie nywerheidspioene gebruik om inligting in die hande te kry is die volgende:

  • Uiters gesofistikeerde meeluisterapparate word gebruik om te luister wat in raadsale besluit word en dit word selfs in korporatiewe bestuurders se voertuie geplant.
  • Verontregte werknemers word by maatskappye geïdentifiseer en stelselmatig en subtiel met omkoopgeld en aanloklike aanbiedings bearbei om inligting te verkry van sulke maatskappye se saketransaksies, finansiële aangeleenthede en uitbreidingsplanne.

Suid-Afrika is voorts’n voorkeurland danksy die sterk effektebeurs en ’n Reserwebank wat goed gedissiplineerd en ingevolge internasionale bankstandaarde bestuur word. Die bestendigheid van die bankstelsel en goeie finansiële infrastruktuur verseker dus ’n veilige hawe om met misdaadgeld in die land te belê en op dié manier “vuil geld” terug te plaas in die internasionale markte.

“Maatskappye durf dit nie waag om enige inligting oor moontlike aanslae op hul sekuriteit bekend te maak nie,” verduidelik die speurder. “Hierdie aangeleenthede word stilweg intern hanteer. Om sulke krake in sekuriteit te openbaar reflekteer net negatief op ’n onderneming aangesien dit dui op ’n swakplek in die maatskappy se sekuriteitstelsel en swakhede in eie geledere. Dit skep ’n ongunstige indruk en maak kliënte onnodig senuweeagtig.”

Korporatiewe spioene fokus veral op die volgende teikens in Suid-Afrika:

  • Vooraf-inligting oor die aankope en samesmelting van maatskappye in die land.
  • Nuwe ekonomiese bemagtigingsmaatskappye waarby astronomiese finansiering betrokke is.
  • opkomende swart beleggingsmaatskappye.
  • Inligting oor binnehandel in die prima maatskappye.

Om die dilemma te verduidelik waarmee Suid-Afrika se korporatiewe mark deesdae te doene het, het die speurder die volgende scenario, gegrond op die waarheid, geskets:

Hy het in een van sy ondersoeke afgekom op ’n sekuriteitsbestuurder wat meeluister-apparate in al sy maatskappydirekteue se kantore in Sandton geplant het. Die maatskappy het die speurder vir hulp genader toe hulle begin agterkom dat sekere uiters vertroulike inligting in die hande  van ’n opposisie-maatskappy se direkteure beland het. Die sekuriteitsbestuurder het inderdaad die inligting ten duurste aan die opposisie verkoop.

“Dit is maar net een van talle voorbeelde van gevalle waar witboordjiemisdade gepleeg word in ’n uiters kompeterende omgewing waar sakemanne moet spook om hul maatskappye aan die gang te hou en winsgewend te laat opereer.”

Hy verduidelik verder dat die IE van ’n onderneming of ’n individu oor die algemeen verwys na die intellektuele skeppings, kunswerke, simbole, name, ontwerpe en talle ander nuutskeppings deur mense wat dan  in vandag se uiters kompeterende wêreld teen uitbuiting beskerm moet word.

Hy beskryf IE as ’n baie onbestendige internasionale kommoditeit wat gedurig gevaar loop om geroof te word deur deskundiges op die gebied van nywerheidspioenasie.

Sedert die val van die Berlynse Skandmuur, wat die einde van die Koue Oorlog ingelui het, is die wêreld totaal omwentel tot ’n globale dorpie waar gesogte handelsware soos IE in die vinnig groeiende korporatiewe mark, wêreldwyd binne die bereik van enigeen is.

Saam met hierdie nuwe globale gemeenskap van openheid en transgrensmigrasie het die skadukant van die internasionale inligtingsdiewe ook deel van die nuwe Wêreldorde geword. Die spioene van die Koue Oorlog het hul skrede na nuwe velde gewend en die gereedskap van hul donker roeping aan korporatiewe boewe beskikbaar gestel om gesteelde korporatiewe data aan die hoogste bod op die sluikmark te verkoop.

Handelsgeheime is nog ’n baie waardevolle kommoditeit wat deur spioene gesteel word. Anders as patentregte wat ingevolge wetgewing beskerm word, is daar geen manier dat ’n maatskappy se handelsgeheime – daardie wenresep wat hulle beter maak as die opposisie – deur wetgewing beskerm word nie. Dit is enige sakeman se kleinood wat hy graag ten alle koste en terwille van oorlewing wil beskerm. Sonder daardie wenresep, wat hom ’n stappie voor sy opposisie plaas, is ’n onderneming verlam en verloor die maatskappy daardie voorsprong op sy mededingers in die handelsmark.

“Dit is dus noodsaaklik dat maatskappye behoorlike voorkomingsmaatreëls tref wat dit vir nywerheidspioene onmoontlik sal maak om onwettige en onregmatige inligting te bekom,” sê die forensiese speurder.

Kantore, raadsale en elke ander plek waar ’n onderneming sake rakende hul besigheid bespreek moet gereeld “gevee” word vir meeluisterapparate. Daarom is ’n behoorlike en omvattende oudit vir maatskappye noodsaaklik om in dié uiters kompeterende mark nie net kop bo water te hou nie, maar om die leiding te neem en voor te bly.

Volgens die speurder is daar net ’n paar goed gevestigde en behoorlik toegeruste sekuriteitsmaatskappye wat die volgende dienste kan bied:

  • Die vee van persele vir moontlike meeluistering.
  • Betroubare wagdienste, veiligheidspersoneel en skoonmaakdienste.
  • ’n Integriteitsbestuurstelsel vir personeel.
  • Die keuring en voer van onderhoude met personeel, kontrakteurs en verskaffers.
  • Die sekuriteit van rekenaarstelsels.
  • Elektroniese veiligheidstelsels, elektriese omheining, alarms en biometriese toegangsbeheerstelsels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paplepel ·

Hoe verseker ‘n maatskappy dat die sekuriteitsmaatskappy nie juis die wolf in skaapsklere is nie? Vra net.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.