In diepte: Verdagte vas oor polisiemoorde; ‘wanorde van regstelsel oopgevlek’

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Die totaal flagrante wyse waarop die regte van wetsgehoorsame burgers deur die regstelsel in Suid-Afrika geïgnoreer word ten koste van die “regte” van koelbloedige moordenaars is weereens bevestig met die jongste polisie-deurbraak.

Die polisie het Sondag in ’n reuse misdaadintelligensie-gedrewe operasie een van die verdagtes in hegtenis geneem wat na bewering betrokke was by die bloedige skietgeveg ’n week vantevore op die N3-hoofweg naby Edenvale aan die Oos-Rand tussen ’n swaar gewapende bende rampokkers en die polisie.

Twee polisiemanne is in die voorval doodgeskiet en een swaar gewond. Een van die verdagtes word sedertdien onder polisiebewaking in ’n hospitaal behandel vir skietwonde. Ooggetuies, wat die dag op die hoofweg in die skietery vasgevang was, het die toneel as ’n oorlogsone beskryf en die verkeer was vir etlike ure tot stilstand gedwing terwyl die polisie die toneel ondersoek en die lyke en beseerdes verwyder het.

Tydens die Paasnaweek het ’n reuse operasie die totale wanorde wat in die land se regstelsel heers tot op die been oopgevlek. Namate die polisie se spesiale taakspan met hul ondersoek gevorder het en dit duidelik geword het dat die verdagte vir verskeie ander oortredings op borgtog vrygelaat is, is die wanorde in die stelsel weereens bevestig.

’n Gekombineerde spesialisspan het Sondag in die Mambhulugebied van Kranskop in KwaZulu-Natal toegeslaan en een van die hoofverdagtes in die hoofwegslagting vasgetrek.

Met die hulp en leiding van KZN se misdaadintelligensie-agente het die polisie se elite Spesiale Taakmag met die hulp van die lugvleuel en die spesialisopsporingseenheid toegeslaan op die plek waar die verdagte weggekruip het.

Maroela Media verneem baie betroubaar dat die man goeie samewerking aan die span speurders bied wat hom ondervra. Hy het reeds gebieg oor die identiteit van sy mede-bendelede, die motors wat gebruik was en almal se woonadresse.

Tydens die klopjag het die taakmag ’n onwettige 9mm Norinco-pistool met agt patrone in die magasyn in die verdagte se besit gekry. Dieselfde wapen is vroeër gesteel tydens ’n rooftog in Phoenix buite Durban.

In verdere opvolgondersoeke het die speurders ontdek dat die 31-jarige man op ’n hele rits ander geweldsmisdade op borgtog vry was toe hulle die polisiebeamptes naby Edenvale afgemaai het. Maroela Media is in besit van die identiteit van die vermeende polisiemoordenaar.

“Dit is die probleem in ons land,” het ’n goedgeplaaste polisiebron aan Maroela Media gesê. “Dit help nie ons waag daagliks ons lewens om die boewe agter tralies te kry en landdroste en regters deel agterna willens en wetens borgtog aan hierdie skurke uit nie. Iewers moet daar ’n streep getrek word. Hierdie is nie ’n geïsoleerde geval nie en daar is honderde soortgelyke, gewetenlose rowers en moordenaars wat eenvoudig net aangaan met die geweldsmisdade wanneer hulle borg kry,” het die bron gewaarsku.

Volgens Maroela Media se inligting is die verdagte tans vir die volgende voorvalle op borgtog uit:

  • Gewapende roof in April 2009 by Sun City.
  • Gewapende roof in Julie 2009 by ’n sakeonderneming in Klerksdorp.
  • Hy is ook uit op borg op drie verdere aanklagte vir die onwettige besit van vuurwapens waarvoor hy in Desember 2013 in Kranskop voor die hof was. Hy is na bewering in hegtenis geneem vir die onwettige besit van ’n AK-47 aanvalsgeweer, ’n .303-geweer en ’n 9mm pistool.

Dit is nog nie duidelik waarheen die bende Sondag 29 Maart op pad was toe lede van die Sandringhampolisie hulle op die N3 naby Edenvale van die pad af wou trek nie. Die verdagtes het sonder waarskuwing vanuit hulle Mercedes-Benz op die patrollievoertuig losgebrand.

Die Mercedes het verdag voorgekom en die polisie het op die stuk hoofweg tussen die Modderfontein-afrit en Londonweg besluit om ondersoek in te stel.

In die daaropvolgende “klein oorloggie” het die koeëls rondgevlieg en motoriste het stomgeslaan in hul motors sit en kyk hoe een van die polisiemanne voor hulle in die kop geskiet word. Die tweede polisieman is ses keer raakgeskiet: twee keer in die maag, deur albei bene, in sy bekken en deur sy arm.

Hy is met ’n helikopter na die Sunninghill-hospitaal afgevoer, maar is later aan sy wonde dood. Die derde polisiebeampte, wat ook in sy bekken en albei bobene getref was, sterk nog aan in die hospitaal.

Die bende het te midde van die chaos op die hoofweg met die Mercedes en ’n BMW van die toneel weggejaag. Hulle het op Londonweg ’n motoris van die pad gedwing en hom van sy motor beroof. Hierdie motor is weer agter gelaat toe hulle ’n ander voertuig gekaap het om sodoende hul spore dood te vee.

Die polisie se spesiale ondersoekspan was teen druktyd nog besig met opvolgoperasies om die ander verdagtes in hegtenis te neem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Daar is dus regters en landdroste wat nie daar hoort? Regters (en landdroste?) word deur die regering aangestel. Daar moet onthou word dat hierdie uiters ernstige ootredinge is waarvoor hulle GELOS word . Bortog beteken vir hulle niks en misdaad is nou ‘n beroep.
Miskien moet hierdie borgtogverleners saam met die polisie patrolliewerk doen.

scalla ·

Dit kom daarvan as hul in poste aangestel word waarvoor hul nie bevoeg is nis, regstellende gemors

Wilhelm Beineke ·

Dit is immers alom bekend dat ‘n groot deel van ons staastsdiensbestaan uit mense wat ” reached the level of incompetency” ! Wie is te blameer?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.