In diepte: Vrou vertel van dwelmhel; internasionale dwelmsindikate in SA

anonieme-vrou

Vroue is dikwels die sagte teikens van internasionale dwelmsindikate wat in Suid-Afrika handeldryf.Foto: Argief.

Suid-Afrika se wetteloosheid het nou reeds sulke onrusbarende afmetings aangeneem dat internasionale dwelmsindikate die land as hul veilige hawe gebruik om dwelms op groot skaal na ander wêrelddele uit te smokkel.

ʼn Ondersoek wat deur Maroela Media van stapel gestuur is, het bevind dat internasionale dwelmsindikate reeds só goed gevestig is dat hulle soos enige wettige sakeonderneming hul dwelmhandel, geskoei op gestruktureerde maatskappybeginsels, bedryf.

Centurion is een van die hoofkwartiere waarvandaan een van die invloedryke Nigeriese dwelmkartels sy internasionale handel en voorsiening aan die Suid-Afrikaanse sluikhandel bedryf.

Dit is aan Maroela Media onthul in ʼn reeks onderhoude wat gevoer is met ʼn Suid-Afrikaanse vrou wat romanties betrokke was by die sindikaatbaas en nou op ʼn veilige plek skuil.

Miljoene rande se spesiaal-verpakte dwelms word steeds weekliks deur “muile” op internasionale vlugte die land uitgevlieg. Dit gaan voort ten spyte daarvan dat talle jong Suid-Afrikaners oral in die wêreld in tronke krepeer nadat hulle op lughawens met dié sindikate se dwelms betrap is.

Sonette Redelinghuys* (29) was 16 jaar oud toe sy, vars en onskuldig uit die platteland, vir die eerste keer in Pretoria met dwelms deurmekaar geraak het.

Tot ses maande gelede was daar byna nooit ʼn dag wat sy nie “hoog” was nie. Die enigste tye wat sy nie hoog was nie, was toe sy nog as ʼn “dwelmmuil” twee keer per maand vir haar Nigeriese dwelmbase pakkies oorsee moes vat. Dan het hulle haar die dood voor die oë gesweer om “skoon” te bly anders verloor sy kop en verongeluk alles vir hulle.

Die geld was goed en die adrenalien het gepomp elke keer wanneer sy die kans gewaag het om met ʼn reistas, gepak met 3 kg kokaïen, oorsee te vlieg. Later in haar lewe het haar dwelmgewoonte haar meer as R1 000 per dag gekos.

Ondanks haar dwelmmisbruik is die donkerkop Sonette vandag nog baie aantreklik. Haar skoonheid en intelligensie het haar ʼn paar jaar gelede handig te pas gekom om in een van die Nigeriese dwelmkartelle in te beweeg.

Die kartelbaas het op haar verlief geraak en wou nie dat sy meer as ʼn dwelmmuil vir hulle werk nie. In daardie stadium het sy onder meer Istanboel, Thailand en Maleisië toe gevlieg. Sy is toe aangestel om al die reëlings vir die ander muile te tref wanneer hulle moet oorsee vlieg.

Die reëlings was altyd dieselfde en moes met byna militêre presisie uitgevoer word sodat niks verkeerd kon loop nie. Sy was altyd op die laaste nippertjie ontbied en by ʼn hotel in Centurion of Midrand inbespreek.
Kort voor haar vertrek na die lughawe bring een van die kartellede ʼn vooraf-voorbereide reistas daar aan en laat haar die bagasie oorpak. Een kilogram kokaïen is dan reeds onderin die tas verdoesel. Twee goed verpakte houers wat soos sjokoladedose lyk, maar baie swaarder is, word strategies tussen haar klere geplaas.

Volgens Sonette is daar dan nog 1 kg kokaïen in elk van hierdie verpakkings. Die verpakking was blykbaar van so ʼn aard dat die skandeerders by die lughawens niks verdag kon opmerk nie.
Sy kry dan haar vliegkaartjies, 500 Amerikaanse dollar en R300 kontant. Die Suid-Afrikaanse geld is om die tas op die lughawe te laat toedraai in sellofaan.

Kort na haar aankoms in die hotelkamer oorsee ontvang sy haar eerste selfoonoproep uit Suid-Afrika om seker te maak sy is veilig. Iemand kom haal die dwelms by haar in die kamer en sy bly nog so vier, vyf dae in die land om nie agterdog te wek nie, en vlieg dan huis toe. By haar aankoms kry sy R20 000 in kontant vir haar werk.
Volgens Sonette word die dwelmhandel in Suid-Afrika en die uitvoer daarvan deur 20 kartelbase beheer wat hul besigheid baie streng en op ʼn sakegrondslag bedryf.

Ses maande gelede het sy net besef sy kan nie so aangaan met haar lewe nie en eenvoudig net weggestap. Dit was moeilik vir haar om haar dwelmafhanklikheid te oorwin, maar haar behoud was dat sy nooit “mainline” gegaan het nie. “Mainline” is om jouself met heroïen in te spuit.

“Vandag raak ek baie hartseer wanneer ek besef hoeveel van die mense wat ek as muile hanteer het, tans oral in die wêreld in tronke sit,” vertel Sonette. “Ek was gelukkig dat ek nooit vasgetrek is nie. Daar was tye wat dit so amper gebeur het.”

  • Sonette Redelinguys is ʼn skuilnaam om haar ware identiteit te beskerm.

Die dwelmkartel-hiërargie

Ado-en-Michael-Krige

Ado en sy seun Michael Krige. Foto: Verskaf.

Dr. Ado Krige, eienaar van ʼn rehabilitasiesentrum, House Regeneration – naby Roodeplaatdam in Pretoria, waarsku dat jongmense nie besef die dwelms wat hulle op straat koop is lewensgevaarlik nie. “Wat hulle dink hulle koop en wat werklik in daardie pakkies is, is nie dieselfde nie,” sê hy.

“Die dwelmhandelaars is gewetenloos en meng dit met enigiets denkbaar om hulle volumes groter te maak. Van rottegif tot babapoeier word gebruik om die gierige smouse se winsmarges op te jaag.”

Krige se oudste seun, Michael (38) was, net soos sy pa, vir jare self ʼn dwelmsmous gewees wat tronkstraf uitgedien het. Pa en seun het vir jare nie met mekaar gepraat nie totdat Michael hom ook onlangs bekeer en sy kennis van die onderwêreld en die dwelmmark kom deel het in die stryd om jong dwelmslawe te rehabiliteer.

Tot drie jaar gelede het Michael kokaïen en cat vir ʼn korrupte polisiegeneraal in Kenia “gekook”. Dié generaal het al die efedrien, waarop daar by die lughawe in Nairobi beslag gelê was, aan Michael se laboratorium voorsien.
Afgesien van die rehabilitasiewerk by House Regeneration doen Michael gedurig navorsing oor die werking en nuwe tendense wat deur die dwelmkartelle gebruik word om in beheer van die sluikhandel in Suid-Afrika te bly.

Die Nigeriese dwelmkartelle, wat in beheer is van die vervaardiging en verspreiding van die meeste dwelms op straat in Suid-Afrika, opereer op ’n geslote manier binne stamverband en het noue bande met hul wortels in Nigerië.
“Die jong ‘rekrute’ word uit die stamland ingebring Suid-Afrika toe om as voetsoldate vir die kartel op te tree, sogenaamde ‘runners’. Namate hulle gevestig is, word hulle in beheer van ʼn groep “runners” onder hulle geplaas,” het Michael aan Maroela Media verduidelik.

Die verskillende kartelle het elkeen hul eie afgebakende gebied waarin dwelms versprei word en die handel in dwelms word soos ʼn geoliede masjien bedryf. Elke groep “runners” bly saam in ʼn huis en daar is verskeie selfone waarmee daar gedurig bestellings geneem word. In die ander deel van die huis word die dwelms verpak en die geld hanteer soos dit ingebring word.

Die diens is puik en die kliënte geniet uitstekende diens. Bel en bestel en kies dan. Dit kan afgelewer word by die huis of opgelaai word op ʼn bepaalde straathoek.

Die kartelle se grootbase vergader een keer per week om strategieë en die in- en uitvoer van produkte te bespreek. In die meeste gevalle word daar ʼn suite by ʼn gewilde casino se hotel in Gauteng vir dié doel bespreek.

“Die kartelbase gebruik altyd kodename en hul ware identiteit is nie algemeen bekend nie. Sleutelpersone in die polisie en doeane word maandeliks afgekoop in ruil vir die beskerming van die kartelle se sakebedrywighede.
“Wanneer een gevang word en hy word vrygelaat op borg koop hy eenvoudig ʼn nuwe Suid-Afrikaanse identiteit en gebruik ʼn nuwe skuilnaam om onverstoord aan te gaan met sy werk.”

Daar word geraam dat meer as R25 miljoen se dwelms per maand deur die kartelle uit Suid-Afrika na ander lande uitgevoer word.

Die feit dat Suid-Afrika as deurgangsroete vir die internasionale dwelmmark gebruik word veroorsaak dat die land nie baie gewild is onder die Europese en Amerikaanse anti-dwelm-agentskappe nie

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ladybug ·

Dis skokkend! Ek dink nie enigeen besef hoe groot die probleem is nie! En dan werk van die polisielede saam met die gemors!

Here wees ons genadig … ontferm U oor ons!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.