In diepte: Zuma vs. Madonsela

Thuli Madonsela op die rooi tapyt voor SONA 2016 Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Thuli Madonsela op die rooi tapyt voor SONA 2016 Foto: Jonisayi Maromo/ANA

Die saak tussen pres. Jacob Zuma en die DA en EFF, wat vandeesweek deur die konstitusionele hof aangehoor is, het opnuut die taak van die Openbare Beskermer (OB) en die omvang van haar magte in die kollig gebring.

Die DA en EFF meen Zuma het die grondwet oortree deur nie Thuli Madonsela se bevindinge in haar Nkandla-verslag te aanvaar en die aanbevole regstellende stappe te volg nie. Madonsela het in haar verslag bevind Zuma en sy familie het onregverdig voordeel getrek uit die opgraderings aan Nkandla.

Zuma het egter geweier om die OB se verslag te aanvaar en het die minister van polisie opdrag gegee om sy eie verslag oor Nkandla saam te stel. Hierdie verslag het bevind dat al die opgraderings veiligheidsverwant was en dat Zuma geen geld hoef terug te betaal nie.

Die mag van die OB

Pierre de Vos, ʼn grondwetkenner, het aan Maroela Media verduidelik die OB is ʼn liggaam wat deur die grondwet geskep is om wanadministrasie en korrupsie in die openbare sektor te ondersoek. “Sy help die regering om die land beter te regeer deur slegte diens en korrupsie uit die weg te ruim. Die veronderstelling is dat die OB mense help wat nie die geld of mag het om die magtige staatsmasjien in ʼn hof aan te vat nie,” het De Vos gesê.

Hy verduidelik dat die OB se bevindinge, soos met ander staatsinstellings soos die Onafhanklike Verkiesingskommissie, bindend is. “ʼn Besluit of bevinding deur die OB kan slegs in ʼn hof beveg word, waar die hof die bevinding ter syde kan stel indien die hof die bevinding as irrasioneel verklaar, of bevind dat die OB haar magte oorskry het.”

Prof. Koos Malan, ʼn grondwetkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het saamgestem dat die OB se bevindinge bindend is, maar het beklemtoon dat die korrekte prosedure tydens die ondersoek gevolg moet word. “Dit is belangrik dat die persoon teen wie die negatiewe bevinding gemaak is, genoeg kans kry om voorleggings te maak en sy of haar standpunt te stel by wyse van kruisverhoor, of deur bloot hul eie weergawe van gebeure te deel. In daardie geval sal die bevindinge bindend wees,” het hy gesê.

Volgens De Vos het die president geen seggenskap oor wie as OB aangestel word nie, aangesien die parlement via ʼn stemproses ʼn persoon nomineer om die pos te beklee en die president dan noodgedwonge dié persoon moet aanstel. “Die parlement kan ook hul diskresie gebruik om die publiek se opinie te vra oor wie as OB aangestel moet word, maar hulle is nie verplig om dit te doen nie. Dit is bloot vir hulle ʼn opsie,” het hy gesê.

Baie oproepe het reeds uit die samelweing gekom om Madonsela vir ʼn tweede termyn as OB aan te stel, maar ingevolge die wet mag ʼn persoon slegs vir een termyn as OB dien voordat ʼn volgende persoon in die pos aangestel moet word.

Het Zuma fouteer?

Pres. Zuma in die Nasionale Vergadering. Foto: GCIS

Pres. Zuma in die Nasionale Vergadering. Foto: GCIS

Het pres. Zuma dus verkeerd opgetree deur nie die regstellende stappe wat Madonsela in haar verslag aanbeveel het, toe te pas nie? “Beide die president en die parlement het onregmatig opgetree deur in plaas van die OB se aanbevole stappe uit te voer, ander prosesse in werking te stel om haar verslag te hersien en uiteindelik ter syde te stel. Hulle was nie gemagtig om dit te doen nie,” het De Vos gesê.

“Behalwe dat die president se optrede in hierdie geval onregmatig was, was dit moontlik ook teenstrydig met die grondwet en dit is waaroor die hofgeding hierdie week in die konstitusionele hof gegaan het.”

Malan het ook gesê Zuma het onregmatig opgetree deur die minister van polisie te vra om sy eie ondersoek na die Nkandla-saga te doen. “Die minister van polisie is deur Zuma aangestel, dus is Zuma sy direkte hoof. Om dus vir hom te sê om self ʼn ondersoek te doen en te bepaal of Zuma, sy baas, verkeerd was of nie, is eintlik belaglik. Dit mag nie gebeur nie.”

Beide kenners het ook uitgewys dat Jeremy Gauntlett, Zuma se regsverteenwoordiger, in die hof toegegee het dat Zuma wetlik fouteer het oor die magte van die OB.

Of Zuma egter op enige manier aan die pen sal ry vir sy onregmatige optrede, is onwaarskynlik, het Malan gesê. Indien die konstitusionele hof wel ʼn uitspraak lewer dat Zuma onregmatig opgetree het, kan dit die weg oopstel vir opposisiepartye om te versoek dat hy in ʼn staat van beskuldiging geplaas word. Dit is egter hoogs onwaarskynlik dat dit sal gebeur, aangesien twee derdes van die parlement ten gunste daarvan moet stem, terwyl die ANC ʼn meerderheid in die parlement het, het Malan gesê.

“ʼn Mosie van wantroue kan ook teen Zuma ingestel word, maar weereens sal ʼn meerderheid in die parlement ten gunste hiervan moet stem, wat weer onwaarskynlik is met die ANC se meerderheid in die parlement.”

Die derde moontlikheid is dat Zuma aangesê sal word om Madonsela se regstellende stappe toe te pas, maar die president sal dan steeds die opsie hê om die bevindinge in ʼn hof te beveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

HEVW ·

Tenspyte van die swart klad op sy naam bly hy steeds so veilig soos n vark in Palestina, sonder gewetenswroeging en nog vrek gelukkig ook daarby. Laggende al die pad.

alida ·

Thuli is ‘n baie stylvolle vrou met integriteit. Sy sal die nar ore aansit.

Johann ·

As jy nie die wet gehoorsaam nie, moet jy die gevolge dra ongeag van die posisie wat jy beklee. Ek sal glad nie omgee om Adv Madonsela as ons volgende No1 te hê nie.

Pieter ·

Wanneer gaan ons weer ‘n waardige en bevoegde heer as president wat bereid is om al die mense in Suid Afrika te verteenwoordig.

Henry ·

Het hierdie land al ooit in sy geskiedenis so ‘n staatshoof gehad?

Eugene Nickols ·

Ja. ‘n Paar. Oom Paul klop aan die deur, asook Mnr. Verwoerd.

Henry ·

Suid Afrika het eers na die ABO se vredesluiting in 1910 as die Unie van Suid Afrika totstand gekom. Nadat die twee voormalige Britse Kolonies – Natal en die Kaap – saam met die twee voormalige Boere Republieke – Transvaal en die Vrystaat – ingelyf is.
Oom Paul was slegs President van die Transvaalse Republiek. Afgesien van al die Uitlanders en anderskleuriges in die Transvaal wat vir seker nie Oom Paul ondersteun het nie, was daar ook die Vrystaatse Republiek. Om nie eers van die twee Britse Kolonies – Natal en die Kaap te praat nie.
Dr Verwoerd se ondersteuning was beperk tot sy ondersteuners in die destydse Nasionale Party. Die ou Verenigde Party, Liberale Party, Progs en die oorgrote meerderheid anderskleuriges het vir seker nie hul ondersteuning aan hom toegesê nie.
Dat elke staatshoof van welke staat ookal, hulself as die ware, bevoegde en waardige verteenwoordigers van die totale bevolking beskou, is ‘n feit soos ‘n koei. Die werklikheid is ongelukkig nooit deel van hierdie aannames nie.
Vir vlietende oomblikke in die geskiedenis het regerings in veral diktatoriale stelsels soos Kommunistiese en Fascistiese state daarop aanspraak gemaak dat hulle die volk se wil verteenwoordig.
Geskiedenis bewys egter die teendeel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.