In gesprek met Herman Mashaba: ‘Ek sal president wees as dit moet’

Herman Mashaba (Foto: Liza Joubert/Maroela Media)

Herman Mashaba, voormalige Johannesburgse burgemeester en president van ActionSA, is bereid om president van die land te wees, sou die Veelpartyhandves die ANC oor twee maande onttroon en Suid-Afrikaners hom vra om die land te lei.

“Ek dink nie ek sal die werk geniet nie, maar ek sal dit tot die beste van my vermoë doen om te verseker dat my kleinkinders en jou kleinkinders in ʼn beter land kan lewe as die een waarin ek gebore is.” Dit was Mashaba se antwoord toe Maroela Media hom hierdie week gepols het oor of hy bereid sal wees om ná 29 Mei as presidentskandidaat te staan.

Mashaba se party, ActionSA, is een van 11 opposisiepartye wat hom by die Veelpartyhandves geskaar het in die hoop om ʼn nuwe koalisieregering ná die verkiesing tot stand te bring..

Mashaba stel dit egter duidelik dat hy slegs president sal wees as Suid-Afrikaners dit so sou aandui.

“Dit is nie my grondwetlike reg om president te wees nie. Maar indien die mense van Suid-Afrika besluit ek moet hierdie land lei, het ek myself daartoe verbind om daardie rol te vervul.”

Mashaba het vandeesweek in gesprek met Maroela Media gesê Afrikaanssprekende kiesers gaan baie belangrik wees vir sy party in die komende verkiesing, aangesien dié groep ʼn “baie belangrike belanghebbende” in die toekoms van Suid-Afrika is. Dat hy ’n Godvresende man is, is duidelik uit sy antwoorde oor Suid-Afrikaners se voortbestaan.

“Ons teikenmark is alle vredeliewende Suid-Afrikaanse burgers wat saam wil voortbestaan. God verwag van ons om saam in hierdie land te bestaan ​​en indien ons weier, ​​is ek bevrees God gaan ons straf.”

Mashaba sê dan dit is “onaanvaarbaar” dat die huidige regering Suid-Afrikaners die afgelope 30 jaar verdeel het. “Ek is nie bereid om agteroor te sit en dit weer te sien gebeur nie.”

Mashaba versoek dus alle kiesers op soek na ʼn sogenaamde rasseparty, om elders as ActionSA te soek. “Moenie my tyd mors nie, want ek wil nie jou tyd mors nie… Ons is ʼn party van God wat wil sien hoe mense saam bestaan.”

Herman Mashaba (Foto: Liza Joubert/Maroela Media)

ActionSA is in 2020 gestig en het aanvanklik verskeie uitdagings gehad om te oorkom – van die Covid-19-pandemie wat hom verhoed het om stemme in aanloop tot die 2021 munisipale verkiesing te werf én ʼn logo wat noodgedwonge moes verander.

Nietemin het meer as 550 000 kiesers in ses munisipaliteite hul kruisies agter ActionSA getrek en vandag is Mashaba se party die sesde grootste in Suid-Afrika, met verteenwoordiging in al nege provinsies.

Mashaba verwag boonop dat ActionSA veel beter in die 2024 nasionale verkiesing gaan vaar.

“Ons het genoeg tyd gehad om die nodige strukture gereed te kry en ʼn goeie leierskap tot stand te bring.”

Die leierskap bestaan nie uit individue met politieke bande nie, sê Mashaba, maar eerder individue uit die private sektor met die nodige ervaring om onder meer beurtkrag te pak.

ActionSA se topprioriteite sluit immers in om ʼn einde aan beurtkrag te maak, ná net twee jaar as regerende party; die skep van meer as 4,8 miljoen nuwe, werklike werkgeleenthede oor die volgende vyf jaar; ekonomiese geregtigheid deur sogenaamde inklusiewe ekonomiese bemagtiging en ʼn universele basiese inkomste-stimulus en inkontraktering.

“Dit is baie moontlik,” is Mashaba se antwoord op die vraag of dié doelwitte realisties uitvoerbaar is.

“Ek daag Suid-Afrikaners uit. Stem ons uit indien ons dit nie kan doen nie.”

Herman Mashaba, leier van ActionSA. (Foto: X)

Maar is ActionSA ʼn betroubare koalisievennoot sou die party deel word van ʼn nuwe koalisieregering? Die party en die DA kap immers gereeld na mekaar.

Mashaba sê sy party is verbind tot die Veelpartyhandves, want die kans is skraal dat die party op sy eie ʼn volstrekte meerderheid sal behaal. ActionSA werk egter hard daaraan om die grootste lid in die groepering te wees.

“Indien ons die grootste lid van die groepering is, sal ons elke lid van die koalisie met die grootste respek behandel, om te verseker dat ons ons mense dien en ons verskille eenkant laat.”

Mashaba glo egter dit is ʼn uitgemaakte saak dat die ANC sy 50 plus een meerderheid in Mei gaan kwyt wees. “Dit is nie eers ʼn debat wat die moeite werd is om te hê nie. Die debat is egter hoe ver hulle [onder 50%] gaan daal.

Hy sê die ontstaan ​​van die MK Party is ook ʼn “baie positiewe stap” wat hy “met ope arms aanvaar”.

Mashaba was dus oorstelp, erken hy, toe die kieshof vandeesweek in ʼn sitting van die hooggeregshof in Johannesburg eenparig die ANC se aansoek om die MK-party se deelname aan die komende verkiesing te stuit, van die hand gewys het.

“Die MK-party kan net stemme van die ANC neem, nie van enigiemand anders nie,” sê hy.

Kyk die video om te sien wat Mashaba te sê het oor swart ekonomiese bemagtiging en hoe ActionSA die land wil regruk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.