In gesprek met John Steenhuisen: Die kans is nóú

John Steenhuisen, federale leier van die DA. (Foto: Mariska Nanni/Maroela Media)

John Steenhuisen, federale leier van die DA, het vandeesweek openlik (én in Afrikaans) met Maroela Media gesels oor die opposisie se planne vir vanjaar se nasionale verkiesing.

Steenhuisen het tydens dié gesprek erken daar is géén waarborg dat die ANC op 29 Mei vanjaar uit die kussings gelig gaan word nie.

“Daar bestaan nie iets soos ’n waarborg in die politiek nie,” praat Steenhuisen reguit.

Hy is wel oortuig daarvan dat die nasionale en provinsiale verkiesing in 2024 opposisiepartye se beste (en dalk laaste) kans in 30 jaar is om ’n meerderheid te behaal, die regerende party te ontsetel en verandering ten goede teweeg te bring.

“Daar ís ’n pad na oorwinning vir die opposisie, maar net indien hulle saamwerk.”

Altesaam 11 partye – die DA, IVP, VF Plus, ACDP, ActionSA, Isanco, UIM, SNP, UCDP en Ekhethu People’s Party – het hulle by die Veelpartyhandves geskaar, in die hoop om ’n nuwe koalisieregering ná die verkiesing tot stand te bring.

Dié partye sal egter steeds as outonome, individuele partye aan die 2024-verkiesing deelneem.

Op Maroela Media se vraag oor waarom Afrikaanssprekendes spesifiek ’n kruisie agter die DA se naam op die stembrief moet trek, antwoord Steenhuisen dat enige sterk koalisieregering ’n anker benodig om stabiliteit tot die koalisie te bring.

Steenhuisen glo dat die DA juis daardie anker vir die Veelpartyhandves kan wees.

Die DA gaan immers verantwoordelik wees vir sowat 50% van die stemme wat die groepering benodig om ’n meerderheid te behaal.

“Ons het die beleid, die ervaring in regering én die planne om Suid-Afrika te red,” sê Steenhuisen met verwysing na die DA se geskiedenis van goeie dienslewering in spesifiek die Wes-Kaap.

“Ons het die moed om dinge reg te ruk en dít maak die verskil.”

John Steenhuisen, federale leier van die DA. (Foto: Mariska Nanni/Maroela Media)

Steenhuisen glo ook die diversiteit van die DA se lede én kiesers maak van hom die beter kandidaat in die komende verkiesing.

“Ons het die kans om stemme van verskillende rassegroepe te werf. Dít maak die DA sterk. Daardie diversiteit is baie belangrik. Gaan kyk jy na die parlement – regs en links van die DA – is almal van dieselfde velkleur en kultuur.

“Ons is hoofsaaklik eenderde wit, eenderde swart en eenderde bruin.

“Ons kan slegs ons waardes, beginsels, taal en kultuur beskerm as deel van ’n groter volksparty.”

Steenhuisen blyk egter nie te bekommerd te wees dat verskeie swart senior leiers die afgelope twee jaar uit die DA bedank het nie. Die bedankings sluit in die veteraanpolitikus Patricia Kopa, voormalige beleidshoof Gwen Ngwenya en die uitgesproke LP Ghaleb Cachalia.

“Dit gebeur in die politiek oor die wêreld heen,” is Steenhuisen se antwoord op die bedankings.

“Mense kom en gaan in die politiek … sommige bereik nie hul drome binne ’n sekere party nie en gaan soek daardie drome by ’n ander party. Dit gebeur.”

Steenhuisen sê dit is egter belangrik dat ’n politieke party sy waardes en beginsels hou. “Die DA se waardes en beginsels is dieselfde as wat dit 5, 10 of selfs 25 jaar gelede was.”

John Steenhuisen, federale leier van die DA. (Foto: Verskaf)

‘Politieke volwassenheid’

Maar beskik Suid-Afrikaanse politici oor die politieke volwassenheid wat nodig is vir ’n suksesvolle koalisieregering?

Steenhuisen dink tog so.

“Ek dink ons het die kleinlike politiek verlaat en werk saam as verenigde opposisie om ons land te red en ’n nuwe toekoms vir ons mense te bou.”

Steenhuisen sê opposisiepartye het waardevolle lesse geleer uit die koalisies wat ná die 2021- munisipale verkiesing tot stand gekom het.

“Ons het daardie verkiesing ingegaan sonder ’n plan. Almal het net ingegaan en stemme gesoek,” erken hy openlik.

Die verskil is egter nou dat die Veelpartyhandves al vir byna ’n jaar aan die planne maak is.

“Dit gaan dit makliker maak om ’n beter en meer stabiele koalisie op die been te bring op 30 Mei.”

Die DA-leier wys ook daarop dat nie alle koalisies op munisipale vlak so jammerlik misluk het soos in die geval van die Johannesburgse metro nie.

Die DA is tans betrokke by 25 koalisies oor die hele land, “wat goeie, skoon regerings oplewer wat dienste lewer”.

Steenhuisen verwys spesifiek na Saldanhabaai in die Wes-Kaap en Richardsbaai in KwaZulu-Natal. “Jy lees nie veel van hierdie koalisies nie, want hulle gaan aan met die werk. Hulle wérk.”

John Steenhuisen, federale leier van die DA. (Foto: Mariska Nanni/Maroela Media)

Die kans is nóú

Steenhuisen sê hy word dikwels kwaad vir diegene wat meen daar moet eerder tot die nasionale en provinsiale verkiesing in 2029 gewag word om die regerende party te ontsetel.

“Ons kan nie nog vyf jaar van werkloosheid, armoede, wanbestuur en korrupie [bekostig] nie, want daar gaan ná vyf jaar niks oor wees nie.”

Steenhuisen meen boonop die geweld van Julie 2021 kan hom moontlik (net op ’n groter skaal) herhaal, indien politieke partye nie nou die kans aangryp om die land te red nie.

“Ek dink nie ons gaan oor vyf jaar weer ’n kans kry nie.”

Steenhuisen gaan dan sover om te sê dat sou die ANC, EFF en nuwe MK-party ’n koalisie vorm, daar moontlik vorentoe nie weer ’n demokratiese verkiesing in Suid-Afrika sal wees nie. “Ons sien wat gebeur in lande waar radikale sosialiste aan bewind kom.”

Steenhuisen glo die DA is ná jare van die amptelike opposisie wees, slaggereed om te regeer.

“Ons het die mense. Ons het die beleid. Ons het die moed om dinge reg te ruk en ek dink dit maak die groot verskil.”

Steenhuisen glo ook indien die DA in samewerking met sy koalisievennote doen wat hy reeds in die Wes-Kaap gedoen het, kan hy as nuwe regering verandering teweeg bring.

“Gaan ’n nuwe regering alles regkry? Nee. Geen regering in die wêreld kry alles reg nie. Maar ek dink ons sal op ons ergste dag beter wees as die ANC op sy beste dag,” sê Steenhuisen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Republikein in die Wes Kaap ·

SA se toekoms word deur swart politici dikteer. Steenhuisen is net ‘n rand figuur. Die feit dat die DA sukses in die Wes-Kaap behaal is ‘n bewys dat ons uniek is. Ons mense se ingesteldheid is bloot anders as in die res van die land. Die DA teer ook op daai ingesteldheid in hul eie belang. Maar dit grief dat heersers in ander dele van die land ons wil aftrek tot hul vlak.

Marisa W ·

Ek wil graag weet wat is die DA se plan B – wat gebeur as die verkiesing weer aan die ANC direk of in ‘n koalisie met wie ook al gaan? Moet ons as DA en DA koalisie kiesers dan maar net verder krepeer tot 2029 – die land kan dit nie oorleef nie?

Republikein in die Wes Kaap ·

Marisa, politici het nooit ‘n Plan B nie. Hulle gaan sit in die parlement vir nog vyf jaar. Gewone LP ontvang ‘n R2 miljoen salarispakket per jaar. Die res van ons krepeer en word in skuld gedompel.

skurweberg ·

As ons glo dat dit die mens is wat die standaard stel, vir ons doen en late, mis ons doel waarom die mens op aarde is. Alles wat ons besit en het, is aan ons geleen deur die Eienaar om daarmee te woeker, te werk en op te pas. Die woord wat dit beskryf is “Rentmeesterskap” en indien ons ingebreke bly om dit wat ons ontvang het op te pas volgens die standaarde van die Eienaar, sal dit van ons af weggeneem word.
Om werklik te verstaan wat die inhoud, omvang, en verantwoortwoordelikheid is wat die woord “Rentmeesterskap” op ons plaas, is deeglike navorsing, opvoeding en die moeilikste, opregte bekering nodig.
If we believe that it is man who sets the standard, what we do om this planet we miss the purpose of why man is on earth. Everything we own and have has been lent to us by the Owner to grow, work and look after. The word that describes it is “Stewardship” and if we fail to take care of what we have received according to the standards of the Owner, it will be taken from us.
To truly understand the content, scope, and responsibility that the word “Stewardship” places upon us, thorough research, education, and most difficult sincere, conversion are necessary.

Marthinus W ·

Op n buitelandse nuusdiens is die naweek gerapporteer dat John Steenhuisen n brief aan Antony Blinken, Amerikaanse minister van buitelandse sake, gestuur het, waarin hy Amerika se hulp vra met ons verkiesing; met “election education”. Dit klink asof hy wil he Amerika moet kom inmeng. Is dit waar, mnr Steenhuisen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.