‘In haar kop is sy nog onder daardie bakkie’

Charlene Drotsky in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

Charlene Drotsky (34) kon Maandag vir die eerste keer met moeite regop in haar hospitaalbed sit. Dít meer as ’n maand nadat die bestuurder van ’n bakkie oënskynlik willens en wetens bo-oor haar gery en haar ’n ent verder onder sy bakkie gesleep het.

Dinsdag was egter weer ’n slegte dag vir Drotsky.

“Charlene se kop is nog nie reg om op te staan nie,” vertel haar verloofde, Corné Viljoen. “In haar kop lê sy nog onder daardie bakkie. Sy vertel dat sy sommige dae nog die bakkie bo-op haar voel en die buitebande ruik.”

Drotsky, ’n ma van Klerksdorp, het by Viljoen, haar lewensmaat van die afgelope 20 jaar, in Malmesbury in die Wes-Kaap gekuier toe sy in die vroeë oggendure van 2 April deur ’n man omgery is wat haar ná ’n kuier saam met vriendinne by die huis gaan aflaai het.

Die man is daardie oggend met sy motor bo-oor Drotsky se middellyf voordat hy op die vlug geslaan en haar vir dood agtergelaat het. “Hy het haar maag pap gery,” vertel Viljoen nou.

Drotsky moes sedert die voorval nege operasies ondergaan en ’n lang herstelpad lê ongetwyfeld nou voor.

Viljoen onthou hy het die oggend van die voorval in die huis gesit en wag vir Drotsky om huis toe te kom. Hy het die hoofligte van ’n voertuig deur die venster opgemerk en na buite gegaan. ’n Silwerkleurige Nissan Navara het voor die huis tot stilstand gekom en Viljoen het na die bestuurder se kant gestap om te sien wie sy verloofde kom aflaai het.

Drotsky was nog besig om uit die bakkie te klim toe die bestuurder van die bakkie onverwags agteruitry en Drotsky se linkerbeen onder die voorwiel van die voertuig beland het.

“Die man was beslis onder die invloed,” sê Viljoen.

Drotsky het van pyn geskree, maar in plaas daarvan om stil te hou, het die bestuurder probeer wegkom en Drotsky met die voorwiel tot in die teerpad gesleep voordat hy die bakkie in eerste rat gesit en weer bo-oor haar is in sy poging om weg te kom.

Corné Viljoen en Charlene Drotsky. (Foto: Verskaf)

Viljoen het tydens die voorval vergeefs die bakkie se deur oopgeruk en probeer om die sleutel uit te trek en die bakkie tot stilstand te dwing.

Drotsky is daardie oggend met onder meer ’n gebreekte pelvis, beserings aan haar maag en bene en bloeding op die longe in die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad opgeneem. Dít is hier waar sy al die afgelope maand plat in ’n hospitaalbed lê en nege operasies moes ondergaan.

Nié Drotsky of Viljoen ken die bestuurder wat daardie oggend bo-oor Drotsky is nie.

“Charlene kan die naam Theunis onthou maar is nie doodseker daarvan nie. Dit was ’n ouerige man. Hy het grys hare gehad,” vertel Viljoen aan Maroela Media.

“Ek is nie eens meer kwaad nie. Ek wil net hê hy moet gevang word. Dit is sy skuld waarom sy lê waar sy lê.”

Viljoen het ná die voorval reeds ’n saak van roekelose en nalatige bestuur en strafbare manslag by die polisie aanhangig gemaak. Intussen moes hy noodgedwonge sy werk bedank om by sy verloofde se hospitaalbed te waak terwyl familie na die paartjie se twee seuns in Klerksdorp omsien.

“Dit is net ons twee hier,” vertel Viljoen.

“Dit is baie moeilik om Charlene so te sien. Dit is in die 20 jaar wat ons saam is die eerste keer dat sy in die hospitaal is. Ek het haar nog nooit eers dokter toe gevat vir ’n verkoue nie en nou lê sy al vir meer as ’n maand.”

Drotsky, wat nie ’n mediese fonds het nie, se familie doen nou alles in hul vermoë om geld in te samel sodat sy in ’n private hospitaal in Klerksdorp opgeneem kan word en nader aan haar kinders behandel kan word.

Klik hier vir meer inligting oor Drotsky se toestand en die geldinsameling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Di ·

So jammer dat dit met jou gebeur het. Mens kan ongelukkig in vandag se tyd nie sommer saam met enige iemand in ‘n motor klim wat jy nie goed ken nie, is baie gevaarlik. Hoop dat sy spoedig sal herstel en die skuldige vasgetrek sal word.

Marie ·

Bitter jammer vir wat met haar gebeur het, maar bring nie nou sy tweede weergawe van wat gebeur het by mekaar nie.

“Viljoen het sy verloofde hoor skree, haar te hulp gesnel en die nooddiens ontbied. Die bestuurder van die bakkie was egter nêrens te vind nie.” Uit vorige berig.

“Viljoen het na die bestuurder se kant gestap om te sien wie sy verloofde kom aflaai het. Drotsky was nog besig om uit die bakkie te klim toe die bestuurder van die bakkie onverwags agteruitry en Drotsky se linkerbeen onder die voorwiel van die voertuig beland het.” – die berig.

Dink die ou wou net daar wegkom en het toe ongelukkig veroorsaak wat gebeur het.

Angel ·

Ek dink ook so , dalk het hy gedink hy is in die moeilikheid by Viljoen omdat hy sy verloofde kom aflaai het , ek is seker hy het al die berig gelees vi die skade wat hy aangedoen het hy kan ten miste net se hy is jammer en dat n ongeluk was.

dalk sal da versagting wees.

Snuffelgids ·

Natuurlik is daar Meer in hierdie storie…sy wil nou heeltemal “slagoffer ” speel. Sterkte met die herstel pad

Pablo ·

Geen wet en orde nie en geen beskawings beginsels nie. n Lewe is niks werd in die land. Geen toekoms.

MJ ·

Hoe ry ‘n vrou in vandag se lewe in SA, saam met ‘n man wie se naam sy nie eers ken nie..???

Karinda ·

Sjoe jammer om te hoor – maar in hierdie dae wat werk so skaars is, hoe bedank jy om by iemand wat reeds goed versorg word in die hospitaal om te sien. Hoop hy kry gou weer werk na alles uitgesorteer is. Ek dink sy gaan alle finansiele ondersteuning wat sy kan kry nodig hê.

Elmarie ·

Ek stem saam. Sy is in die hospitaal met verpleeg personneel wag omsien na haar. Hoekom is dit nodig om jou werk te los?

Maritza ·

Ek bedoel dit nou nie sleg nie maar hoe ry jy saam iemand wat jy nie ken nie? Hy kon veel erger aan haar gedoen het

Irene ·

Dis altyd sleg as so iets met enige iemand gebeur……sterkte hoop sy herstel ten volle, maar ek stem saam, hoe ry jy saam met iemand wat jy eintlik glad nie ken nie en as hulle al 20jr saam is beteken dit sy was 14 en hy, hoe oud was hy dan. Sy kuier by haar lewensmaat en gaan met vriendin ne uit……in elk geval sterkte met die herstelpad.

Swerwer ·

Sterkte, net dankbaar jy het dit gemaak. Moet nooit in ‘n voertuig klim by ‘n onbekende persoon/betuurder nie. Die vriendinne sal mos kan sê wie hy is en iemand sal die nommerplaat van die voertuig tog ken. Oud of jonk, onder die invloed van drank of nie………..daar mag nie genade vir daardie persoon wees nie.

Casper ·

Wie is dood wat ‘n klag van strafbare manslag reg
verdig.Twintig jaar saam.Is hulle getroud want dit maak dit erg as jy elke aand alleen bed toe moet gaan

Casper ·

Hoekom bring ‘n vreemde man haar huistoe en hoekom vlug hy toe Viljoen na sy kant van die bakkie stap..Sy kuier by vriendinne tot die vroeë oggendure en dan vat ‘n vreemde man haar huistoe.Hoekom bel sy nie Viljoen om haar te gaan haal nie.Hier is iets nie pluis nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.