In ʼn oogwink dodelik siek: ‘Die onsekerheid oor môre verteer jou’

Sumari van Aswegen in die hospitaal (Foto: Facebook)

Sumari van Aswegen in die hospitaal (Foto: Facebook)

Onsekerheid is ʼn swaar las om te dra – veral as dié onsekerheid betrekking het op jou gesondheid en jou toekoms dus soos onweerswolke in die lug hang net voor die storm uitbreek.

Hoe word ʼn mens soggens wakker en dwing jouself tot positiewe denke en hoop dat die volgende dag oukei sal wees?

“Jy doen maar net,” vertel Lourika van Aswegen. “Jy wonder nie oor dinge nie, jy kry net bonatuurlike krag van êrens af. Jy word sterker as die mens wat jy gister was.”

Lourika het Dinsdag na Maroela Media uitgereik nadat haar 22-jarige suster, Sumari, minder as ʼn maand gelede met die seldsame hemangioperisitoom-breingewas gediagnoseer is.

Dié toestand word gekenmerk deur ʼn tipe sagteweefsel van die sogenaamde meningeale gewas met dikwels aggressiewe gedrag.

Omdat die gewas so aggressief groei plaas dit drukking op haar brein sy was daarom naar, het kopseer gehad en haar spraak was belemmer.

Sy vertel Sumari het begin Februarie verskriklik van hoofpyn en naarheid gekla en is kort daarna na ongevalle geneem. Weens komplikasies en tydsbeperking is sy daarna na Groenkloof in Gauteng oorgeplaas, waar ʼn MRI-skandering bevestig het sy het ʼn gewas.

Dokters was egter nog onseker of die gewas kwaadaardig is, en die gesin het 17 dae gewag vir die bevestiging dat die wel die hemangioperisitoom-breingewas is, maar nie ʼn kankergewas nie.

Sy was dieselfde week ses en ʼn half uur in die teater, maar die operasie was nie ʼn sukses nie.

Sumari na die eerste operasie (Foto: Verskaf)

Sumari na die eerste operasie (Foto: Verskaf)

“Dokters het gehoop dat hulle die gewas kan verwyder, maar daar was talle komplikasies,” verduidelik sy. “Die personeel het deur haar nek gewerk omdat hulle dit wou vermy om haar skedel oop te maak om die gewas uit te haal. Die bloeding was net bloot te erg en kon nie stopgesit word nie, en die gewas kon uiteindelik nie verwyder word nie. Sy het twee en ʼn half liter bloed in die proses verloor.”

Volgens dokters was dit die geval omdat die gewas bloedvatryk is. Sumari was daarna vir ʼn paar dae in die intensiewesorgeenheid, daarna in die hoësorgeenheid en uiteindelik na ʼn gewone saal geskuif.

Sy sal nou binne drie maande, of selfs ʼn korter tydperk, weer geopereer moet word om te verseker dat die gewas so vinnig moontlik verwyder kan word. “In dié stadium leef ons in onsekerheid. Dokters kan steeds nie vir ons sê hóé kwaadaardig die gewas is indien dit wel die geval is nie. Ons is onseker oor die toekoms en bekommerd oor die volgende operasie.”

“Dan sit ʼn mens net met jou gedagtes. Soms gaan lees ons op die internet, en ons weet ons moet daarvan wegbly, maar die dinge wat ʼn mens lees, is regtig verdoemend. Dit kruip in jou gedagtes in en dit maak jou bekommerd. Die onsekerheid oor môre vreet jou op,” vertel sy.

Sumari van Aswegen (Foto: Verskaf)

Sumari van Aswegen (Foto: Verskaf)

Sumari se mediese fonds dek ook nie al die onkoste van die tweede operasie nie. Die familie het nou ʼn trustfonds gestig waarby weldoeners betrokke kan raak om haar te probeer ondersteun.

Die familie kon al bykans R26 000 van die beoogde R500 000 insamel deur verskeie funksies te hou.

Hulle beoog ook om geld aan ʼn liefdadigheidsorganisasie van Sumari se keuse te skenk.

“My ma is ʼn weduwee, so daar is nie ʼn ander inkomste nie. Dit plaas geweldig druk op die familie. Ons is besorg oor ons sussie, maar terselfdertyd is ons bekommerd of ons enigsins die onkoste daarvan sal kan dra. Ons hoop en bid dat iemand betrokke kan raak om te help.’’

Vir meer inligting oor die gesin, gaan kyk gerus op Help for Sumari se Facebook-blad.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Johann ·

Laat my twee keer dink oor wat ek soms summier aanvaar as n gegewe, en wat dankbaarheid werklik beteken?

AL ·

Ek stem! Ons word soms sodiep teleurgestel in die lewe, maar as ons ons probleme vergelyk met ander s’n, verkies ons dan eerder om ons eie kruis te dra.

Alet ·

Hoekom betaal die fonds nie???? Wasrvoor het mens mediese fonds?

Ouma ·

Vra ek ook! Ons behoort aan die 2de hoogste plan by Discovery, maar moet ook maar gedurig inbetaal. En ons betaal reeds ‘n paaiment wat ons nie kan bekostig nie. Ai, mens kan nie wen nie.

Potlood ·

Want die dokters en suppliers vra net wat hulle wil omdat hulle fooie nie ordentlik deur die wetgewing beperk word nie… Deesdae kan jy vir een prosedure (een kode) ‘n dokter kry wat R4000 vra en dan ‘n ander af in die straat wat R20000 vra.

Die staat wil he die privaat sektor moet vou sodat national health die enigste opsie is. En die gurigheid in die privaat sektor omhels dit. (Dis al wat ek kan dink)

Dit is net een van die redes omdat fondse SO DUUR is en steeds nie ALLES kan betaal nie.

wilma ·

Baie baie sterkte aan die familie! Ons bede is dat die Here spoedige beterskap sal brink, en die nodige fondse bereik sal word.

Lee ·

Baie sterkte aan Sumari. Kan julle nie Jacaranda se “Good Morning Angels” kontak nie.

Johann ·

Wat van die fondse wat reeds ingesamel is onder die faandel van hierdie media platvorm? Ek dink bv. aan die bydraes en bedoeling van die geld wat vir die Brink gesin ingesamel is?

Janie Monsieur ·

Dagsê Johann,
Ernst Vorster van Helpende Hand antwoord so:

Beste Johann
Dankie vir jou voorstel. Mense wat bydraes gemaak het vir die Brink-gesin as deel van die fondsinsameling om hul uitgawes te help dek, het dit spesifiek bygedra om dié gesin by te staan. Dit sou dus moeilik wees om dit te regverdig om fondse wat vir een doel bedoel is deur goedgunstige ondersteuners, aan te wend vir ʼn ander doel sonder om ondersteuners te ken daarin, wat logistiek ʼn onmoontlike taak is. Die fondse wat tot dusver met die fondsinsameling ingesamel is, is ook nog nie voldoende om die uitgawes ter sprake te dek nie, en daar is dus nie ʼn surplus wat vir ʼn ander projek aangewend kan word nie.
Groetnis
Ernst Vorster (Helpende Hand)

SARIE VAN HEERDEN ·

Ek vra dieselfde vrae as Alet en Ouma spesifiek oor Discovery waaraan ek ook behoort en ons almal weet dis van die duurste mediese fondse. Hoekom betaal Discovery nie. Dis mos nie aldag dat hierdie situasie hom voordoen nie en sekerlik kan Discovery ons inlig hieroor.

George ·

Kan nie verstaan hoekom Sumari so baie bloed verloor nie hospitale het mos dialise masjiene as dit GOD se wil is Sal Sy gesond word.

Hanlie ·

Baie sterkte Sumari. Hou net vas aan God se groot genade. Ek weet onsekerheid maak ‘n mens dood. Hierdie swaarkry tyd in ‘n mens se lewe is partykeer juis die tyd waardeur jy moet gaan om na die tyd te besef hoeveel God jou geseën het. Hy gebruik dit om jou naby aan Hom te trek en dat jy oorborrel van Sy goedheid sodat die wêreld dit kan sien. Baie sterkte aan jou.

Dodds Pringle ·

Ek hoop hierdie artikel van 2015 in PressReader kan van waarde wees (sien hieronder). Sien spesifiek wat Prof Darlene Lubbe van Groote Schuur vermag het. Ons bid dat sy ook vir Sumari kan help.
Vra ook vir Discovery of Sumari se siekte nie onder PMB (Prescribed Minimum Benefit) val nie. Indien wel dan moet Discovery vir haar operasie en versorging betaal. Ons gebede is met Sumari.
Artikel: –
http://www.pressreader.com/south-africa/volksblad/ Artikel “As die onmoontlike moontlik word” Was in Volksblad van 24 Maart 2015 en Elsabe Brit – Joernalis het artikel geskryf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.