“In ons harte leef hy voort”

Sarel Loots. Foto: Facebook

Sarel Loots. Foto: Facebook

“Hy is nie meer met ons nie, maar in ons harte leef hy voort,” het Marius Loots oor die skielike dood van sy broer Sarel Loots, beter bekend as Sarel van Sabie van MasterChef SA-faam, gesê.

“Sarel het geleef met passie. Passie vir God, sy familie, sy kerk, avontuur en kos. Passie en toewyding in alles waarin hy belanggestel het. Op 45, laat hy ‘n sigbare spasie, ‘n leegte in sy omgang en interaksies met vriende en familie,” het Marius in ‘n verklaring gesê.

Sarel is vroeg Maandagoggend in die ouderdom van 45 oorlede. Hetta Saunderson, sy bestuurder, het aan Maroela Media gesê hy was die naweek in Pretoria vir die SARCDA-handelskou wat by die Gallagher-konferensiesentrum in Midrand gehou is. Hy het by vriende in Pretoria gebly en is omstreeks 3:00 Maandagoggend aan vermoedelik ‘n hartaanval dood.

Marius sê sy broer se afsterwe kom as ‘n skok vir familie en ondersteuners. “Hy het baie harte gewen, en sy geselsies en resepte sal erg gemis word.”

Hy sê Sarel het ‘n blywende impak gemaak op sy gemeenskap. “Hy was bekend as Sarel van Sabie en sy liefde vir kos en passie vir mense het hom bemind gemaak deur sy hele gemeenskap en Suid-Afrika. Hy was ‘n ongelooflike mens wat bygedra het tot die lewe van ander. Hy het soveel gegee as wat hy kon en min verwag in ruil.”

Sarel word oorleef deur sy vrou, Lieze, en kinders, Charne, Phillip, Jean-Mari, Dorris en Doctor. “Die familie bedank almal vir hulle liefde en ondersteuning op hierdie moeilike pad.”

Marius sê Sarel se begrafnisreëlings sal na afloop van die nadoodse ondersoek bekend gemaak word.

Lees ook:
Sarel van Sabie oorlede

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.