Inbreker gevang nadat hy in venster vassit

polisie-huisroof-crime

(Argieffoto: SA Polisie)

ʼn 39-jarige rower se planne om Saterdag vroegoggend by ʼn huis in Alabama net buitekant Klerksdorp in te breek, is gefnuik toe hy vasgesit het in die venster waardeur hy die huis wou betree. Die huiseienaar het die rower in die venster betrap en dadelik die polisie ontbied.

Lesego Tau het Maandag in die Klerksdorp-landdroshof verskyn op aanklag van huisbraak met die opset om ʼn onbekende misdaad te pleeg.

Kol. Adéle Myburgh, woordvoerder van die polisie, sê die huiseienaar het na bewering Vrydag omstreeks 22:00 gaan slaap. Sy het etlike ure daarna wakker geword nadat sy vreemde geluide in die huis gehoor het. Sy het opgestaan en besluit om ondersoek te gaan instel.

“Die huiseienaar het Tau in die venster aangetref. Hy het glo in die venster vasgesit en om hulp geroep,” vertel Myburgh.

Die huiseienaar het die polisie ontbied en Tau is net daar in hegtenis geneem.

Tau is tans in aanhouding en sal na verwagting 15 Mei weer in die hof verskyn waar hy formeel om borgtog sal aansoek doen.

In ʼn ander voorval het die polisie in Leeudoringstad in Noordwes vier verdagtes in hegtenis geneem vir huisbraak, diefstal en die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen.

Die gesteelde goedere waarop die polisie beslag gelê het (Foto: Verskaf)

Molawa Motsamai (48), Vukani Mbongeni (36), Wiseman Moyo (48) en Solly Lithibe (35) het verlede Vrydag in die Wolmaransstad-landdroshof verskyn waar hulle borgtog geweier is. Hulle bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning eerskomende Vrydag.

Myburgh sê die polisie het inligting ontvang oor ʼn verdagte voertuig wat verlede Woensdag in die Kgakala-gebied digby Leeudoringstad rondgery het. Die polisie het die voertuig gewaar en afgetrek.

Toe die polisie die voertuig begin ondersoek, het hulle op goedere in die voertuig afgekom wat vroeër die dag op ʼn plaas in die omgewing gesteel is.

Die polisie het onder meer beslag gelê op ʼn 9 mm-pistool. Volgens Myburgh is dié pistool vroeër in Piet Retief in Mpumalanga tydens ʼn sakeroof gesteel. Een verdagte is in verband met dié sakeroof in hegtenis geneem, terwyl die ander verdagtes van die toneel gevlug het.

Lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris, het die inhegtenisneming van dié vier verdagtes en beslaglegging van goedere, waaronder die vuurwapen, verwelkom. Hy het ook die lede van die gemeenskap bedank vir die inligting wat hulle verskaf het wat tot dié verdagtes se inhegtenisneming gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Anel ·

En ons word gyselaar gehou in ons huise en die misdadigers gaan aan soos hulle wil. Maar die ou met die hoed se bek is nou baie stil. Sy verweer van drank hou glad nie water nie. As mens kyk na die ongelukke ook. Misdaad word net erger en gaan net erger word, en drank en sigarette is nie eens betrokke nie. So, go figure, so Steve sou sê.

Sarah ·

En al wat ons deesdae in die nuus lees is Covid-die, Corona-daai. So asof almal vergeet het dat misdaad wel bestaan. Nee wat, die land is in sy moses in.

Fedup ·

Where is the mad hatter now? Crime is down he said? Apparently him and his entourage live on another unfortunate planet.

Magda ·

lekker man lekker – en toe vang SLIM sy BAAS – hahahahahah

JohanR ·

Hoop die huis eienaar het hom net daar in die venster lekker dik getik voor die polisie gekom het – karma!

Kerneels ·

Nee, dan is hy vol kneusplekke en maak hy ‘n klag van aanranding teen jou. Ek sou hom eerder genadeloos gekielie het.

Scalla ·

Kerneels ek stem saam met jou, moenie jou vuiste beseer nie, het jy gesien hoe vinnig kom hy self daar uit as jy n bees protter gebruik, hy het self daar ingeklim, so hy sal self uitklim sonder enige aanrandingsmerk, sal net bevrees wees daar gaan een of ander streep nagelaat word wat beslis n klankie gaan afgee.

Jr ·

Tau is tans in aanhouding en sal na verwagting 15 Mei weer in die hof verskyn waar hy formeel om borgtog sal aansoek doen waarna hy deel van die ander 19000 diewe vrywaaring sal kry om plek te maak vir die vyf jarige seuntjie. . Oh boy net in SA.

Scalla ·

Hoe lekker lag ek nou vir die onnosele dief, ek gaan dadelik n ???? daarop drink, hoop sy ore is eers oopgemaak voor hy bevry is, hy moet mos ook lockdown.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.