‘Inbreker’ sterf ná aanranding by tronk

Ao. Lesole Monye wys na die bloedvlekke in die Quantum-bussie by die hek van die Virginia Korrektiewe Sentrum. Foto: SAPD

Ao. Lesole Monye wys na die bloedvlekke in die Quantum-bussie by die hek van die Virginia Korrektiewe Sentrum. Foto: SAPD

ʼn Man, wat op parool was, is dood nadat hy Donderdag in die vroeë oggendure op die perseel van die Virginia Korrektiewe Sentrum in die Vrystaat betrap en erg aangerand is.

Kapt. Malebo Khosana, woordvoerder van die polisie, het gesê die voorval het omstreeks 00:30 plaasgevind. Die polisie is omstreeks 01:30 na die sentrum ontbied. Hulle het tronkbewaarders by die hek van die sentrum sien staan by ʼn Quantum-bussie. ʼn Man, wat vermoedelik aangerand is, het in die bussie gelê.

“ʼn Ambulans is ontbied om die slagoffer hospitaal toe te neem. Hy het gesterf terwyl dokters hom behandel het,” het Khosana gesê.

Volgens Khosana het twee tronkbewaarders glo die gronde van die sentrum gepatrolleer nadat daar vroeër by die woonkwartiere, wat ʼn ent weg van die korrektiewe sentrum geleë is, ingebreek is. “Die bewaarders het gesien hoe ʼn man by een van die huise inbreek. Hy het glo naby een van die vensters gestaan,” het hy gesê.

Khosana het gesê die twee bewaarders het die verdagte probeer vang, maar hy het weggehardloop. Hulle het na bewering waarskuwingskote afgevuur en die man het stilgestaan.

Ao. Hein Kruger en ao. Lesole Monye met die leë patroondoppies wat op die toneel gevind is. Foto: SAPD

Ao. Hein Kruger en ao. Lesole Monye met die leë patroondoppies wat op die toneel gevind is. Foto: SAPD

“Die bewaarders het hom gevang en na een van die nabygeleë sale geneem, waar hy skynbaar aangerand is. Die bussie is gebruik om die verdagte na die hek te neem, waar die ambulans hom gekry het. Die tronkbewaarders wou hom in hegtenis te neem vir poging tot huisbraak,” het Khosana gesê.

Hy het bygevoeg die polisie het vier leë patroondoppies op die toneel gevind naby die saal waar die verdagte aangehou is. “ʼn Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak van die verdagte se dood te bepaal. Die polisie op Virginia ondersoek ʼn saak van moord.”

Volgens Khosana kom die verdagte van Meloding en was hy uit op parool nadat hy skuldig bevind is aan huisbraak in Virginia.

Khosana het gesê dit is nog nie bekend of enige aanklagte teen die twee tronkbewaarders, wat die verdagte aangekeer het, ingedien sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Liewe heksie ·

Oeps hoop nie die bewaarders is wit nie want dan kom daar weer n helse storie

Gerd Lourens ·

Gee hulle medaljes!!!

Het die belastingbetaler baie geld gespaar…

snoefie ·

die plaas oortreder het darem lewendig uit die lus geklim. oostehuizen en Jackson se name was ook van die begin af bekend gemaak met hulle fotos ook.

miv ·

plaas dat die owerhede hom net die skrik op die lyf gemaak het deur die kisepisode saak se kis te leen, dan het die oortreder nog gelewe en het hy ook die geleentheid gehad om in die hof te lieg. Wonder hoeveel mediadekking hierdie storie gaan kry? Gaan seker ook so stil-stil onder die mat gevee word.

Scalla ·

Die bewaarders was verkeerd, die paroolman wou ingebreek het by die tronk sodat hy weer n lekker lewe kan ly daar binne. eish

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.