ʼn Inbreker het Dinsdagaand ʼn boodskap vir sy slagoffers op die yskas van ʼn plaasskool in Gauteng gelos.
“Next time kip cash 4 us” [sic] lui die boodskap van ʼn verdagte wat deel was van ʼn onbekende aantal inbrekers wat by Laerskool Kwaggafontein in Krugersdorp ingebreek het.
Konst. Lucky Matome, polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê volgens die alarmstelsel het die inbraak omstreeks 23:30 plaasgevind.
“Die verdagtes het toegang tot die skoolperseel gekry deur die vurkheining te breek. Hulle het toegang tot die skoolhoof se kantoor gekry deur die dak,” het Matome gesê.
Die inbrekers het die kantoor geplunder en onder meer rekenaarware, ʼn plasmatelevisie, mikrogolfoond en gereedskapskas met gereedskap gebuit.
Hulle het die boodskap op die yskas in die hoof se kantoor geskryf voordat hulle gevlug het.
Die Tarlton-polisie ondersoek ʼn saak van inbraak by ʼn onderneming. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie doen ʼn beroep op die publiek om hulle by te staan in die ondersoek. Mense met inligting oor die voorval, word versoek om konst. Portia Mashego by 011 952 0034 of 072 754 2639 te bel.
Die inbraak volg kort nadat daar oor die naweek by ʼn vooraanstaande laerskool in Centurion ingebreek is, waartydens nagenoeg R800 000 se ware gesteel is. Lees meer hier.
- Polisie op die toneel ná die inbraak by Laerskool Kwaggafontein. Foto: Verskaf
- Polisie op die toneel ná die inbraak by Laerskool Kwaggafontein. Foto: Verskaf
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
18 Kommentare
Daar moet nuwe skole gebou word, dis hoekom al die skole nou so geteiken word.
as ek so na die spelling kyk moet hulle eerder in die dag as in die nag by die skole rondhang
Eugene, ek stem saam!
Stel ‘n lokval vir di………
Die enigste “kip” wat ek ken, is “kiep” wat slaap beteken. Eugene, jy is só reg! Net jammer dat die hele skool dan dalk afgebreek gaan word.