Inbrekers plunder kinderhuis

Môrester Kinderhuis (Foto: Verskaf)

“Watter soort persoon steel van ’n kinderhuis?”

Só vra Helen Lotz, die direkteur van Môrester Kinderhuis in Rustenburg, nadat die kinderhuis Sondag vroegoggend deur ’n onbekende aantal inbrekers byna rot en kaal besteel is.

Volgens Lotz het die inbraak die oggend tussen 02:00 en 03:00 plaasgevind.

“Die inbrekers het toegang tot die kinderhuis verkry deur die heining plat te trap. Die heining is al horingoud. Hulle het ook die diefwering van die vensters afgesny en só in die huis ingekom,” vertel Lotz.

Die inbrekers het die kombuis geplunder en onder meer die wasmasjien, mikrogolfoond en omtrent al die kombuistoerusting gebuit. Hulle is ook met die televisiestel in die sitkamer vort.

Volgens Lotz het hulle selfs die gloeilampe gevat.

Die heining is deur die inbrekers platgetrap (Foto: Verskaf)

“Hulle het die kombuiskaste leeggemaak. Al die kombuistoerusting is gevat – tot die laaste teelepel. My hart is so seer oor die wasmasjien, want dit was splinternuut. Ek het hom nie eers gekoppel nie. Die mikrogolfoond was ’n geskenk,” vertel Lotz.

Marlinet Bekker, die maatskaplike werker wat op die perseel bly, sê sy het omstreeks 3:30 ’n oproep van ’n personeellid in die huis ontvang. Die personeellid het glo wakker geword toe sy die inbrekers in die sitkamer gehoor het. Sy het haarself in haar kamer toegesluit en daarna vir Bekker gebel.

Bekker het toe die bestuurder van die kinderhuis, Eddie Christian, gebel.

“Genadiglik het die kinders nie wakker geword nie. Niemand is darem beseer nie,” vertel Lotz.

Die diefwering is afgesny (Foto: Verskaf)

Lotz sê omdat die kinderhuis ’n niewinsgewende organisasie is, kan hulle nie ’n sekuriteitswag by die hek bekostig nie. Die plaaslike buurtwag patrolleer ook nie meer so gereeld die strate tydens die landwye afsondering nie.

Lotz gaan Dinsdag ’n klag by die polisiestasie in Rustenburg lê.

Lotz sê die inwoners van Rustenburg het ná afloop van die voorval hulle “toegegooi met welwillendheid”. “Ons het reeds so baie skenkings ontvang. Ons harte loop oor van dankbaarheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Rina ·

Dit is hartseer dat daar by kinderhuise en skole geplunder word.

Jaco ·

Jip, en hierdie lockdown gaan ly tot totale CHAOS, mense in die informele sektor raak hongerder by die dag, hulle gaan nou tot ekstreme tegnieke gaan om hul mage vol te hou. Inbrake by drankwinkels gaan oorspoel na koswinkels, n vriend van my se pa wat trokke ry wat kos vervoer, sê al hul vrees vir hul lewens op die paaie weens die honger massas. Die anargie wat gaan uitbreek gaan covid-19 soos n sondagskool piekniek laat lyk. Ek sien massa ellende.

Ronel ·

Hoe gebeur inbrake wanneer almal veronderstel is om tuis te bly. Misdaad in Suid-Afrika is groot probleem en niks word daaraan gedoen. Gelukkig geen lewens verlies.

Anel ·

Die misdadigers gaan nou lekker aan want die polisie hou padblokkades en kyk dat gewone mense nie op straat is. Pleks doen hulle die werk waarvoor hulle aangestel is, beskerm en dien. En hulle weet wasr die weerloses is. En dit moet iemand wees wat die kinderhuis ken, wat weet dat daar ‘n nuwe wasmasjien was. En hoe dra mens net eenvoudig so ‘n klomp goed wag sonder dat iemand iets sien, EN DIT VAN KINDERS!

My Mening ·

Daar is ongelukkig baie hartelose/gewetenlose mense daarbuite wat nie ‘n duit omgee wie hulle benadeel in die proses om hulself te verryk nie.

Jacobus ·

Tussen al die spannig dit ook nog. Tussen loadshedding en lockdown is SA nou ‘n kriminele oop speelveld.

Cherokee ·

Pleks dat die polisie geskakel word wanneer inbrekers gehoor word, bel personeellede mekaar.

Anel ·

Want die polisie antwoord nie hulle fone nie of hulle sê hulle het nie vervoer nie. Kennisse antwoord baie gou daardie tyd van die nag en ‘n netwerk is baie vinniger geaktifeer. Polisie altyd laaste op die toneel. Want onthou, hierdie was ook nie our people se kinders nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.