Drie inbrekers, almal in hul twintigs, is swaar gestraf nadat hulle skuldig bevind is aan twee aanklagte van huisbraak in Phoenix, noord van Durban.
Kol. Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder van KwaZulu-Natal, het Dinsdag gesê Zanomuzi Sizathu (25), Lusindo Nyembeze (25), en Xolele Nobhununu (22) is elk deur die Verulam-landdroshof tot 30 jaar tronkstraf gevonnis op elke aanklag van huisbraak. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word.
“In 2012 het die verdagtes inwoners van Sablepalm in Palmview van ʼn televisiestel, skootrekenaars, selfone en kontant beroof,” het Naicker gesê. Dieselfde inbrekers het ʼn familie in Hillpark Close in Shastripark met messe aangehou en van klere, kontant en juwele beroof. Die Phoenix-polisie het die mans in Amaoti in hegtenis geneem en beslag gelê op die gesteelde goedere. ʼn Uitkenningsparade is gehou en die slagoffers het die skuldiges suksesvol uitgewys.