Inbrekers slaan toe op speurders se kantoor

(Foto verskaf deur die DA)

Die Demokratiese Alliansie in Noordwes is in kennis gestel van twee agtereenvolgende inbrake by die kantore van die speur-en-misdaadbekampingseenheid in Mahikeng.

Freddy Sonakile, die DA se koukusleier in die provinsiale wetgewer, sê die eerste inbraak het Woensdag plaasgevind en die tweede het Donderdag plaasgevind.

“Tot dusver is niemand nog in hegtenis geneem nie. Sedert ons in kennis gestel is van dié inbrake, het ek ʼn oorsigtelike inspeksie gedoen by die kantoor. Die gehuurde kantore het geen veiligheidskameras nie en die voordeur en kantoordeure is nie beveilig nie. Die binnekant van die kantoor het slegs stapelmure as afskortings.”

Dit is nog nie duidelik wat gesteel is nie. “Tydens my gesprekke wou nie een van die personeellede in hierdie stadium inligting verskaf nie. Dit is egter duidelik dat die inbrekers toegang bekom het tot verskeie kantore.”

Sonakile sê die kantore het saakdossiere vir ernstige misdade wat ondersoek word, soos moord en roof. “Dit is moontlik dat die inbrake met dié ondersoeke verbind kan word. Die gebrek aan sekuriteit is ook ʼn risiko vir die speurders en ander personeellede, omdat verdagtes enige tyd kan instap – sonder dat hulle gemonitor word. Daar was nie eers ʼn ontvangsdame aan diens nie.”

Sonakile het die voorsitter van die portefeuljekomitee oor gemeenskapsveiligheid, Kim Medupe, skriftelik versoek om dringend LUR Sello Lehari, die provinsiale polisiekommissaris lt.genl. Sello Kwena, en die hoof van speurders in Mahikeng, kol. Masenamela, te ontbied om die komitee in te lig oor die inbrake en dringende maatreëls in te stel om die kantore te beveilig.

“Die veiligheid van inwoners hang af van ʼn professionele en ten volle funksionele polisiediens en indien sulke voorvalle met die polisie kan gebeur, beteken dit dat gewone lede van die gemeenskap ook nie veilig is nie. Misdaad is buite beheer.”

Die polisie en die inwoners van Mahikeng verdien beter, voeg Sonakile by. “Die DA sal nie rus tot dié saak die nodige aandag ontvang wat dit verdien nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Waarnemer ·

Dit is maar nft nog n moordenaar of n verkragter of n ivoore saak dossier wt weggeraak het…so whst….net nog n misdadiger wie nie skuldig bevind gaan kan word agv n verlore saak dossier.

JL ·

Wat is ‘n beter alibi as om saakdossiere vir ernstige misdade wat ondersoek word, in swak gesekuurde kantore of geboue te hou. Dit was dan mos “toegesluit”. ????

Swerwer ·

Gebrek aan sekuriteit is ook ʼn risiko vir al die landsburgers nie net vir die speurders en ander personeellede van die SAP nie. Dit is nou bietjie laat om wakker te wil word, die ANC/EFF gee nie ‘n flenter om oor mense lewens nie, hul is absoluut ego gesentreerd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.