Inbrekers steel bejaardes se Kersvreugde

Kersfees-liggies

Foto: Monicore/Pixabay.com

Vrywilligers van ʼn dienssentrum vir bejaardes in die Strand spook hard om seker te maak geen lede ly Kersfees honger nie nadat al die voorraad gesteel is wat hulle vir Kerspakkies bymekaargemaak het.

Francis Eksteen, ʼn helper by Strandcare sedert dié dienssentrum in 1994 gestig is, sê hulle samel jaarliks kos in wat hulle middel Desember aan hul sowat 50 lede uitdeel, maar twee weke gelede het booswigte by die VG gemeente Die Strand se pakkamer ingebreek.

“Ek kan nie verstaan hoe dit kon gebeur het nie,” het sy Woensdag aan Maroela Media gesê. Hulle het amper alles gevat, van die Weet-Bix wat sy onlangs gekoop het, tot al die bokse langlewemelk, visolie, blikkies ingemaakte vrugte wat hulle geskenk gekry het en die kos wat hulle in die vrieskaste hou om die behoeftige bejaardes elke Dinsdag en Donderdag van ʼn gekookte ete te voorsien.

Sy vertel hulle gee elke lid jaarliks middel Desember ʼn kospakkie met die oog op die Kerstyd, want hulle kry reeds op 1 Desember hul laaste pensioen van die jaar, en daarmee help baie hul kinders sodat daar min oorbly vir ʼn bietjie Kersvreugde. Al die items vir dié pakkies is gesteel.

Die kospakkies moet die bejaardes deurhelp tot die sentrum weer in Januarie oopmaak, verduidelik Eksteen, wat hulle ook afrig met sangstukke vir begrafnisse en ander geleenthede in die gemeenskap. “Ek doen dit uit die liefde wat die Here my vir die bejaardes gegee het,” sê sy.

Al vorder Strandcare se hernieude insameling teen ʼn slakkepas, sê Eksteen: “Die Here was so goed dat ons al R920 ingekry het, waarmee ek dadelik Weet-Bix gaan koop het. Soos geld inkom, gaan ek reguit winkel toe. Ons hou natuurlik ook die winskopies van die week dop.”

Sy kon ook ʼn paar blikkies boeliebief koop, maar wat dit moeilik maak, is dat hulle 50 eenderse pakkies bymekaar moet kry sodat elke bejaarde presies dieselfde Kerspakkie kry. Dit doen hulle deur skenkings aan te vul met hul eie aankope tot hulle 50 van elke produk het.

“Ek gaan vanoggend na die skole om te vra vir enige skenking,” sê Eksteen. “Selfs R2 help.”

Strandcare hou nou die items wat hulle inkry in vrywilligers se huise omdat dit nie meer veilig voel om dit by die kerk te berg nie.

Hulle sien steeds daarna uit om al die bejaardes op 13 Desember bymekaar te bring en dan die pakkies, met dít daarin wat hulle kan insamel, aan hulle uit te deel.

Enigiemand wat wil help, kan Eksteen by 079 938 7534 of 021 854 6459 of Strandcare se tesourier, Angus Hartley, by 082 960 8281 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Santi123 ·

Hi Maroela Media , kan jul nie dalk ook hul bank besonderhede op die berig sit nie ? glo daar sal mense wees wat geld wil skenk en glo ook nie hul wil oorgooi word met boodskappe wat vra vir bankbesonderhede nie.

Help waar ek kan ·

Maroela, plaas asb ‘n bank rek nommer sodat ons kan help.

Johan ·

Plaas asb hul bank besonderhede onderaan die berig of op jul Twitter page.

Tilo ·

Hoeveel hulp het jy? Hoeveel mense weet waar die voorraad gehou word…?

Help waar ek kan ·

Ons sal graag vir die oumensies ‘n mooi Kersfees gee. Plaas asb ‘n bankrekening in die kommentare. Maroela, doen julle dit asb. Dan kan niemand ‘n skelm streek trek trek nie.

Hanna Hoekom ·

Begin sommer jul skoonmakers en alle ander volksvreemdes ondervra! En dit nou so net voor Kersfees Sies, wat n walglike daad!

Anoniem ·

Hoe weet die “inbrekers” waar die pakkamer is waar die voorraad van die ouetehuis gehou word.? Dit klink vir my al asof dit iemand van binne is wat hierde “inbraak” georganiseer het.

Huh! ·

Wat gaan aan Maroela? Verskeie kommentare was al hier geplaas maar julle haal dit af. Wil julle nie hê daar moet hulp verleen word nie?
PLAAS ASB ‘N BANK REKENING NOMMER SODAT ONS KAN HELP.

Tania Heyns ·

Dagsê lesers

Dankie vir julle kommentaar. Die dienssentrum het spesifiek versoek dat ons nie hul bankbesonderhede publiseer nie. Kontak hulle gerus op die telefoonnommers soos verskaf in die artikel indien jy die sentrum graag wil ondersteun.

Groetnis
Tania nms Maroela Media

Realis ·

Om watter rede op aarde sou hulle nie hulp wil hê nie? Die instansie word mos nie deur die staat geborg nie? Ek ruik ‘n rot. Vir watter rede plaas ons die berig en dan wanneer hulp instroom wys ons dit weg? Vir watter rede moet die oumensies nog meer sukkel? Maroela, help asb. sodat ons kan verstaan. Ek hou nie van die reuk van rotte nie.

Alida ·

Daar behoort elke dag vir die bejaardes lekker en genoeg kos te wees. Mens eet nie net Kersfees nie. Sit ietsie anders wat lekker is by die kersmaal en sorg 365 dae lank vir hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.