‘Inbrekers’ vas ná hoëspoedjaagtog in Kaapstad

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

Argieffoto (Foto: SAPD, Facebook)

Drie verdagtes is in aanhouding ná ʼn inbraak by ʼn sakeonderneming Woensdag in die vroeë oggendure wat tot ʼn hoëspoedjaagtog deur die strate van Kaapstad gelei het.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie het gereageer nadat ʼn inbraak by ʼn onderneming in Queens Park-weg in Woodstock aangemeld is. “Toe die polisie by die toneel opdaag, het hulle ʼn verdagte voertuig sien wegjaag en dit agternagesit,” het Van Wyk gesê.

“Die jaagtog het tot ʼn einde gekom toe die verdagtes se voertuig teen ʼn brug in Goodwood gebots het. Twee verdagtes is deur paramedici op die toneel behandel voordat die polisie hulle in hegtenis geneem het. Die derde verdagte is in ʼn stabiele toestand onder polisiebewaking na ʼn hospitaal geneem.”

Van Wyk het gesê die voorlopige ondersoek dui daarop dat die verdagtes toegang tot die sakeonderneming gekry het deur die voordeur met ʼn breekyster oop te breek. Vermeende gesteelde goedere, waaronder ʼn kleinkasgeldboks, is in hulle besit gevind.

Die verdagtes sal na verwagting Vrydag in die Goodwood-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.