Indeks wys watter wyn is ‘beleggingsbate’

(Foto: Unsplash)

Dit is algemene kennis dat niks beter verouder as ʼn goeie wyn nie.

Nou het ʼn span van die Universiteit Stellenbosch (US) finansiële kundigheid en wynkunde gekombineer om ’n indeks vir goeie wyn te skep wat die positiewe waarde van die drankie ook as beleggingsbate bewys.

Dr. Mesias Alfeus, ʼn dosent in Finansiële Risikobestuur in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, het saam met Anton Blignaut en Jean-Pierre Viljoen, albei honneursgraadstudente, navorsing gedoen omtrent ʼn beleggingsmodel vir goeie wyn in Suid-Afrika.

“Cheers to Enhanced Portfolio Performance: Wine as a Unique Asset Class” is die eerste navorsing wat handel oor die positiewe invloed van wyn op portefeuljegroei en diversifikasie in die land.

“Die studie draai om die evaluering van die langtermyngroeikoers van ʼn portefeulje wat Suid-Afrikaanse goeie wyne as bates inkorporeer,” sê Alfeus.

(Foto: Unsplash)

“Vyf jaar se data van 30 goeie wyne is in die navorsing gebruik om ʼn indeks van Suid-Afrika se beste tien wyne te skep. Die indeks sal kwartaalliks bygewerk word.”

Alfeus verduidelik dat die keuse van die tien topwyne vir die indeks ʼn “noukeurige proses” is wat noodsaaklike kriteria in ag neem.

“Dit sluit likiditeit – gemeet aan elke wyn se handelsvolume – en die geldwaarde van die wyne in. Die derde maatstaf is die kundigheid van die bekende wynkritikus Tim Atkin.

“Dit verseker dat die gekose wyne nie net ʼn goeie markwaarde het nie, maar ook konsekwente gehalte en aantrekkingskrag toon soos erken deur ʼn betroubare gesaghebbende in die bedryf.

“Die kombinasie van hierdie drie kriteria waarborg dat die beste tien wyne in die indeks ‘finansieel gesond is’ en vir hulle gehalte gerespekteer word, ten einde hulle verteenwoordigend van die wynmark se dinamika te maak.

(Grafika: Janice du Plessis/Maroela Media)

“Deur die skepping van hierdie wynindeks vier ons die ryk erfenis en potensiaal van die Suid-Afrikaanse wynbedryf op ʼn wêreldverhoog,” sê die skrywers van die navorsingsverslag.

“Ons hoop hierdie baanbrekerspoging sal verdere navorsing- en beleggingsgeleenthede inspireer om die erkenning en waardering van Suid-Afrikaanse wyne in die plaaslike én internasionale finansiële markte te verbeter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Martie ·

Ek is allesbehalwe ‘n wynkenner of danige wyndrinker maar soms is die wyne wat so deur kritikusse en wynkenners aanbeveel word nie eers die betrokke plek se eie wyn nie.. Die meeste van die wyne kom van ko-op’ s af wat aangekoop en gebottel word deur die betrokke firma en dan hulle naam daaraan koppel.

Danie ·

Interessant dat die Sadie familie 3 wyne onder die top 10 het.
Op die verkope platform op hul website sê hulle: “If you want to invest, buy bricks instead.”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.