Noodwerkers van die humanitêre organisasie Gift of the Givers is glo weggejaag by die perseel van TB Joshua se Synagogue Church of All Nations wat Vrydag in Lagos, Nigerië ineengestort het.
“Die werkers het probeer om toegang tot die kerkperseel te bekom, maar is weggejaag,” het Imtiaz Sooliman, die stigter van die organisasie, gesê. “Owerhede het hulle ook verbied om enige inligting te bekom, en gedreig om hulle in hegtenis te neem op aanklag van sabotasie of so iets.”
Die twee verteenwoordigers van die organisasie het aan Sooliman gesê hulle sukkel om inligting te bekom aangesien hulle geen samewerking ontvang nie. “ʼn Suid-Afrikaanse vrou het Gift of the Givers gevra om haar broer te probeer opspoor. Hy was by die kerk toe die gebou ineengestort het,” het Sooliman bygevoeg.
Die twee verteenwoordiges kon daarin slaag om die man in ʼn hospitaal op te spoor. Die man het daarna met sy familie kontak gemaak. “Hulle kon egter nie na nog Suid-Afrikaners soek nie, want hulle is ook uit die hospitaal weggejaag.”
Sooliman het gesê die Nigeriese noodbestuursagentskap het aan die verteenwoordigers gesê dat 131 mense die ineenstorting oorleef het, en dat 63 mense gesterf het. Dit sluit glo die Suid-Afrikaners slagoffers in. Ibrahim Farinloye, die agentskap se woordvoerder, het egter aan verskeie media gesê dat 70 mense dood is. President Jacob Zuma het Dinsdagaand gesê 67 Suid-Afrikaners is dood en talle is beseer.
Die gastehuis by die kerk het buitelanders, wat aanhangers is van die gewilde televangelis TB Joshua, gehuisves. Mense van dwarsoor die wêreld stroom na sy netwerk van kerke en sy televisiestasie in die hoop om ʼn wonderwerk of profesie te ontvang.
Lees ook:
Joost het nie met Nigeriese prediker ontmoet nie
Ineenstorting by TB Joshua-gebou: Dodetal nog onduidelik
67 SA’ners sterf in Nigerië by TB Joshua-gebou
SA’ners dalk geraak deur ineenstortings in Nigerië
Wonder watse “opleiding” het daar dalk plaasgevind dat mense toegang geweier word. Klink verdag.
Is dit nie onsensitief van die SA regering om die Moslemgebaseerde organisasie Gift of the Givers na TB Joshua se sogenaamde Christelike kerk in Lagos, Nigerie toe te stuur nie?
A-ha. Onthou Nigerie is ‘n brandpunt waar hierdie twee gelowe “kontak” maak… Wie’t die vliegtuig gevlieg?