Inenting teen bek-en-klouseer wink

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto)

ʼn Grootskaalse inentingsveldtog sal eersdaags onder vee in KwaZulu-Natal van stapel gestuur word om die jongste uitbreking van bek-en-klouseer in die gebied so gou moontlik in die kiem te smoor.

Dít volg nadat daar in Januarie ʼn skielike opvlamming van gevalle onder vee aangemeld is. Die siekte het reeds in Mei verlede jaar in die gebied uitgebreek.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sê die jongste klompie gevalle toon tekens van aktiewe verspreiding en dreig om na die Hluhluwe iMfolozi-wildreservaat naby KwaHlabisa te versprei indien die nodige maatreëls nie getref word nie.

“Hierdie situasie regverdig die gebruik van inentings om die viruslading te verminder en sodoende verdere verspreiding van die siekte te beheer.”

Die departement het reeds verlede jaar sekere gebiede in die provinsie aangewys waar geen vee of wild tot verdere kennisgewing geskuif of vervoer mag word nie.

Geen spleethoewige diere in die distriksmunisipaliteite van King Cetshwayo en Umkhanyakude, asook die plaaslike munisipaliteite van Nongoma, Ulundi en Pongola, mag geskuif of vervoer word nie.

Die departement het bevestig dat hierdie beperkings steeds van krag is en dat boere wat hul vee binne die gebied wil skuif of vervoer ʼn permit by die plaaslike veeartsenydienste moet kry.

“In hierdie stadium sal inentings beperk word tot beeste binne die stilstandgebied om die verspreiding van die siekte te vertraag, asook om die verspreiding buite die gebiede na wildsreservate te voorkom,” sê die departement.

“Die bedoeling is nie om alle diere binne die gebied in te ent nie, maar eerder soos dit nodig is.”

Die departement sê hoewel die nuwe klustergevalle steeds binne die stilstandgebied in die provinsie is, bly dit gemeenskaplike weivelde wat ʼn hoë risiko van infeksie inhou.

ʼn Risiko-gebaseerde benadering sal dus gevolg word om die inentings te fasiliteer. Sowat 40 000 diere sal na raming vandeesmaand tydens die aanvang van die veldtog ingeënt word.

Boere wat vir die afgelope paar maande deur die siekte lamgelê is, sal in die komende weke deur provinsiale veeartsenydienste genader word om die nodig ondersteuning te verskaf.

“Die departement is aktief betrokke by ʼn paneel van implementeringsagente wat oor die kundigheid beskik om boere binne die stilstandgebied te ondersteun.

“Ons doen ʼn hernieude beroep op alle belangegroepe om vir ʼn ruk langer aan die bewegingsbeperkings gehoor te gee sodat die uitbreking in bedwang gebring kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marius ·

Die mense se beeste en bokke loop die hele wêreld vol want al die heinings wat daar was is “herwin”. Dit maak dat die siekte vinniger versprei en ongelukkig die formele boere ook gaan raak.

piet ·

Wat van “natuurlike immuniteit”. Lyk my dit werk nie so lekker nie.

Robert ·

Nou net gelees dat die inenting ook maar wisselvallige resultate lewer…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.