Inentings: ‘Onnies moet as prioriteitsgroep geag word’

(Argieffoto: ANA)

Dit is in belang van die land se langtermynoorlewing op vele terreine dat onderwyspersoneel as prioriteitsgroep geag moet word en dat hulle saam met gesondheidswerkers van die heel eerste beroepsgroepe moet wees wat deur die owerhede ingeënt word.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU), sê Suid-Afrika en die onderwysstelsel kan nie weer onderwerp word aan dieselfde onderbrekings as gedurende 2020 nie.

“Die kurrikulum van sekere grade is reeds met ongeveer 50% ingekort en die volgende twee jaar is opsy gesit om agterstande in te haal. Skole was tot einde Mei gesluit en kon sedertdien nog nie weer meer as 50% van leerders per dag by skole akkommodeer nie. Sommige grade is eers met ingang van September by skole toegelaat en moes daarna die 50%-benuttingsmodel volg. As dieselfde situasie hom in 2021 herhaal, kan permanente skade aan ʼn beduidende persentasie leerders se skoolloopbane berokken word. Dit moet sover redelik haalbaar voorkom word.”

Die departement van onderwys het reeds ʼn week gelede gesê dat meer as 1 600 opvoeders aan Covid-19 dood is en volgens Klopper word sedertdien daagliks verneem van verdere sterftes. “Dit impliseer dat daar nog etlike duisende onderwyspersoneel is wat geïnfekteer en ernstig siek is. Onderwyspersoneel is daagliks blootgestel aan meer as 12 miljoen leerders uit verskillende huishoudings en gemeenskappe wat potensiële infeksies na die skole bring. Volgens die gesondheidsowerhede verhoog die infeksiekoers daagliks.”

(Argieffoto: Unsplash)

Volgens Klopper is die aflope ruk groot gewag gemaak deur die minister van gesondheid oor sogenaamde superverspreidingsgeleenthede waartydens jong mense bymekaar kom. “Dit weerlê al die teorieë dat asimptomatiese jong mense nie verspreiders van die virus is nie. Dieselfde jong mense woon ook skole by. Die risiko van infeksies vir onderwyspersoneel is dus baie hoog.”

In die lig van die feit dat ʼn beduidende persentasie opvoeders gebuk gaan onder komorbiditeite asook dat die gemiddelde ouderdom van opvoeders bykans 50 jaar is, moet grootskaalse afwesighede ten alle koste verhoed word, meen Kloppers. “Indien grootskaalse afwesighede plaasvind, sal die land, skoolgemeenskappe en leerders ernstige skade berokken word.

ʼn Ooglopende opsie om kudde-immuniteit onder opvoeders te vestig, is om so spoedig doenlik massa-inenting onder opvoeders te doen.”

Die SAOU is eweneens werklik bekommerd dat die minister van gesondheid weinig vordering toon om ʼn geskikte entstof vir die land aan te skaf. “Dit is onnodig om die wiel te herontdek en daagliks aan te voer dat etlike entstowwe oorweeg word. As Suid-Afrika, soos ander lande, reeds oor ’n entstof beskik het, kon daar oor die volgende drie weke voor die skole op 27 Januarie heropen reeds groot vordering gewees het. Die tyd van minder praat en meer doen het aangebreek.”

Die SAOU sê hy is bewus van die omvang van so ʼn inentingsprojek om die bykans 400 000 opvoeders by meer as 25 000 skole in te ent, maar die prys om dit nie te doen nie, kan veel duurder wees. “Daarom moet dit as ’n absolute prioriteit-saak beskou word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.