Inentings: SA mis teiken met 9 miljoen

Die regering het die afgelope week ’n reusetekort aan entstowwe ervaar. (Foto ter illustrasie: Joe Raedle /Getty Images/ AFP)

Suid-Afrika het sy mikpunt om teen Julie vanjaar 16 miljoen mense teen Covid-19 in te ent, met 9 miljoen misgeloop. Dit beteken dat slegs 7 miljoen mense tans al minstens een dosis entstof teen die virus ontvang het.

Só het dr. Jabu Mtsweni, hoof van inligting by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), Vrydag tydens ’n mediakonferensie oor die jongste Covid-19-verwikkelinge en die regering se nasionale inentingsprogram gesê.

Redes hiervoor word onder meer toegeskryf aan ’n entstoftekort, afplatting in inenting oor naweke en vakansiedae, beperkings op mense wat ingeënt mag word, en die feit dat Pfizer twee dosisse benodig. Die groot aantal mense wat nie bereid is om die entstof te ontvang nie, is as nóg ʼn rede voorgehou hoekom so min mense tot dusver ingeënt is.

Maroela Media het vroeër berig nóg 13 751 nuwe gevalle van die koronavirus is Donderdag in Suid-Afrika aangemeld, wat die algehele syfer op 2 422 151 te staan bring. Die Wes-Kaap het intussen Gauteng as die provinsie met die meeste nuwe Covid-19-gevalle verbygesteek.

Die totale sterftesyfer staan tans op 71 431.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid, het Vrydag gesê dat die getalle oor die algemeen besig is om te daal, maar dat sterftes sal toeneem solank as wat infeksies toeneem.

Sy het verder gesê dat hoewel die regering nog nie sy teikens rakende inentings bereik het nie, verskerpte pogings eersdaags van stapel gestuur sal word.

Dit is nie die eerste keer wat Kubayi-Ngubane dié belofte maak nie. Sy het aan die begin van die maand reeds belowe dat die inentingskoers, veral oor naweke, met bykomende fondse verhoog sal word.

“Die regering het die afgelope week ’n ernstige tekort aan entstowwe ervaar en talle mense is by inentingsentrums weggewys. Dit was nie ’n goeie week wat inentings betref nie.

“Ons het egter nog entstowwe bekom en sal binnekort genoeg hê om teikens te bereik. Ons sien uit na die komende week en beoog om 400 000 mense per dag in te ent.”

Kubayi-Ngubane sê as alles volgens plan verloop, sal daar eersdaags een miljoen mense oor ’n tydperk van drie dae ingeënt kan word.

Die land neem tans sowat nege dae om een miljoen mense in te ent.

“Die inenting verseker nie dat ’n persoon nie die virus sal opdoen nie, maar beperk ernstige simptome, hospitalisasie en sterftes. Dit bly egter elkeen se keuse of hulle die inenting wil ontvang.”

Mtsweni sê inentingsteikens word ook deur ander faktore beïnvloed, soos die feit dat die inentingprogram nog nie vir almal oopgestel is nie, maar in fases uitgerol word.

Mense tussen die ouderdom van 18 en 34 jaar mag vanaf 1 September ingeënt word.

“Suid-Afrika is egter die voorloper wat die toedien van inentings in Afrika betref. Wanneer die land vergelyk word met lande wat ’n soortgelyke bevolking het, is Suid-Afrika op dieselfde koers as Frankryk wat inentings betref,” sê Mtsweni.

Dr. Nicholas Crisp van die departement van gesondheid het sy kommer uitgespreek dat Suid-Afrika se mees kwesbare mense nie voldoende met inentings bereik word nie, veral dié bo 50.

“Ons ervaar ook dat baie minder mans, ook bo 50, vir inentings aanmeld.”

Entstofsekerheid

Volgens Crisp sal Suid-Afrika met nuwe besendings van die Pfizer- en Johnson & Johnson-entstof genoeg entstof tot die einde van die jaar hê.

“Daar het reeds meer as 1, 4 miljoen dosisse van die J&J-entstof in Suid-Afrika aangekom en nóg 10 miljoen word binne die volgende paar weke verwag, asook 16 miljoen Pfizer-entstofdosisse.

“Meer as 5 miljoen Pfizer-entstofdosisse sal teen Sondag in Suid-Afrika wees.

“Burgers kan gerus voel dat daar nou genoeg entstof beskikbaar is.”

Crisp sê voorts dit sal goed wees as die meeste burgers met ’n enkeldosisentstof, soos Johnson & Johnson, ingeënt kan word.

Dr. Anban Pillay, adjunk-direkteur-generaal van die departement van gesondheid, sê dié entstowwe is albei doeltreffend teen die Delta-variant wat tans dominant in Suid-Afrika is.

Só lyk dit in die provinsies

Volgens die nasionale gesondheidsdepartement is 29% van nuwe gevalle nou in die Wes-Kaap aangemeld, gevolg deur Gauteng (27%), KwaZulu-Natal (14%), die Oos-Kaap en Mpumalanga (7% elk), Limpopo en Noordwes (5% elk), die Vrystaat (4%) en die Noord-Kaap (3%).

Gauteng is die voorloper wat inentings betref. Hoewel daar al meer as 4,2 miljoen mense in dié provinsie ingeënt moes wees, is ongeveer 1,8 miljoen nou teen Covid-19 ingeënt.

Die Wes-Kaap het Gauteng verbygesteek met die aantal nuwe positiewe gevalle en dit word voorspel dat infeksies binne die volgende weke nog sal styg. Pillay sê egter dat die Wes-Kaap nie ’n tekort aan hospitaalbeddens behoort te hê nie.

Dit word ook voorspel dat infeksies in die Noord-Kaap sal styg.

Volgens Pillay word ’n fyn oog op dié provinsies sowel as KwaZulu-Natal gehou, waar infeksiegetalle ook na verwagting sal styg.

Dr. Sandile Tshabalala, hoof van die departement van gesondheid in KwaZulu-Natal, sê hulle het aanvanklik verwag dat infeksiegetalle skerper sou styg na die onlangse onluste in dié provinsie, maar sê dat die “prentjie nog relatief dieselfde lyk”.

Hy is egter bekommerd oor die sterftesyfer wat aan die toeneem is.

“Baie mense kies om by die huis te isoleer en word nooit in die hospitaal opgeneem nie.”

Hy sê die provinsie is voorbereid en het genoeg hospitaalbeddens beskikbaar.

“Ons het meer as 4 900 hospitaalbeddens beskikbaar asook 824 beddens in veldhospitale.”

Intussen blyk dit dat infeksies in Gauteng, Mpumalanga, Noordwes en Limpopo afneem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Anoniem ·

Hoeveel maande nadat inentings in SA begin het en nog net 5% oftewel 3 miljoen van die bevolking is ingeent volgens ‘n ander dagblad. Ons hoor elke week oor hoeveel miljoene dosisse entstof bekom is, maar die program verloop teen slakkepas terwyl duisende mense weekliks sterf. Ramaphosa reken daar is geen tekort aan entstof nie, maar hordes mense is die afgelope paar weke weggewys weens entstof tekorte by die klinieke.

Snowball ·

Sukkel om te tel. Sukkel om te beplan. Sukkel om iets deur te voer. Sukkel on planne en dade te koördineer. So sukkel ons voort in Suid Afrika.

Vrijburger ·

Nee. Net 7 uit 16 miljoen het al 1 een inenting gekry, dit is 43%. So as jy in agneem dat 2 inentigs benodig word, het die ’30persenters’ nog slegter as hul standaard 30% gedoen. :-)

Anel ·

En verder lag die 2 vervaardigers al die pad bank toe. Hulle maak miljarde dollars wins en die mense is te blind om te sien waaroor dit regtig gaan. Volgende jaar hierdie tyd moet die lot wat eerste gespuit is weer gespuit word.Die een spuit kan mos nie lewenslank imuniteit gee nie! Dit is nog nie eens ‘n jaar getoets nie! So wat nou? Hulle is dan so agter. Net soos met alles in die land wat op mense afgedwing word. Bestuurslusensies elke 4 jaar, vuurwapenlisensies elke 5 tot 10 jaar en dan kan dit nie volgehou word nie. Verbied dit eerder. En nou wil hulle hê ons moet ons lewens aan hulle toevertrou?

Samuel ·

Blameer apartheid.

Hulle bly beloftes maak. Dit is al waarmee hulle goed is.

Toetsie ·

Nie almal is so naïef om hul met die “entstof” te laat vang nie…

Johan ·

Wanneer gaan spuit jy nou Koos? Gaan jy dan oor jou vrees om te sterf wees? Laat weet bietjie.

Alleen Wolf ·

Hoekom is ek nie verbaas nie, anc regering het nog nooit in die geskiedenis enige doelwitte bereik nie behalwe om van alles waarby hulle betrokke is ‘n gemors te maak.

Boon ·

Dis onaanvaarbaar dat mense weier om ingespuit te word. Hulle stel andsr mense lewens in gevaar. Daar moet negatiewe gevolge wees vir nie-vaksers, soos dat hulle nie in openbare geriewe toegelaat word nie. of ekstra moet betaal .

Dirk Mostert ·

As jy geent is jy mos veilig. Jy wil nou almal dwing om saam met jou proefkonyne te wees.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.