Inentings van onderwysers vorder goed

Angie Motshekga het Woensdag bevestig die departement het altesaam 789 554 bykomende registrasies op die elektroniese entstofdatastelsel (EVDS) gedoen. (Foto: Verskaf)

Meer as 400 000 onderwysers en onderwyspersoneel is teen Woensdag met die Johnson & Johnson (J&J)-entstof teen Covid-19 ingeënt. Meer entstofdosisse is ook toegeken sodat nog 800 000 inentings in dié sektor gedoen kan word.

Die departement van basiese onderwys se massa-inentingsprogram het op 23 Junie begin. Die departement het aanvanklik gemik om 582 000 mense oor die afgelope twee weke te bereik. Dit sluit in alle onderwysers sowel as steunpersoneel in die openbare sektor, onder wie onderwysers wat beheerliggaamposte beklee en personeel van onderwysvakbonde.

Die departement het ʼn aanvanklike besending van 300 000 dosisse van die J&J-entstof ontvang, maar weens die groot vraag word meer entstof nou benodig.

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het Woensdag bevestig die departement het altesaam 789 554 bykomende registrasies op die elektroniese entstofdatastelsel (EVDS) gedoen.

Volgens Motshekga het die onderwysdepartement die departement van gesondheid gevra om die onderwyssektor se inentingsprogram te verleng om sodoende die bykomende inentings af te handel.

Hoewel groot entoesiasme in die onderwyssektor oor die inentingsprogram heers, is daar byna 10 000 onderwysers in Gauteng wat nie die entstof wil ontvang nie.

Maroela Media het vroeër berig die Gautengse onderwysdepartement het Vrydag gesê altesaam 9 113 onderwysers en onderwyspersoneel – sommige met onderliggende siektetoestande – in dié provinsie weier om teen Covid-19 ingeënt te word.

“Die departement respekteer die reg van ʼn individu om te besluit om nie ingeënt te word nie, maar ons wil egter steeds ʼn beroep op al ons personeel doen om die entstof te kry,” het Motshekga vandag gesê.

“As skole weer heropen, sal ons van al ons onderwysers verwag – ook diegene met onderliggende siektetoestande – om terug te keer werk toe.”

Die vyf onderwysvakbonde van die Raad op Arbeidsverhoudinge in die Onderwys (ELRC) het ook bevestig dat die inentingsprogram vandeesweek in alle provinsies voortgaan, al is skole gesluit.

Duisende polisielede ingeënt

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het Woensdag gesê dat 2 055 polisielede en steunpersoneel reeds ingeënt is. Altesaam 1 285 polisielede is by die Orlando-stadion in Soweto ingeënt en 770 by die polisiekollege in Pretoria.

Die polisie se inentingsprogram het Maandag afgeskop en daar word beoog om altesaam 180 000 beamptes in te ent.

Volgens kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, gaan die polisie voort met die monitering van voorbereidings vir die landwye uitrol van die inentingsprogram vir polisielede by 108 geregistreerde persele.

Die program begin Donderdag in agt provinsies, met Gauteng wat Vrydag aan die beurt kom.

Tot op hede het altesaam 32 565 polisielede positief vir Covid-19 getoets. Altesaam 30 955 lede het van die virus herstel en 673 lede het weens die virus gesterf.

Luidens die jongste Covid-19-statistieke het minstens 2 090 909 mense in Suid-Afrika nou reeds die virus opgedoen nadat nog 15 501 mense positief getoets het.

Daar is tans 183 243 aktiewe gevalle van Covid-19 in Suid-Afrika, waarvan meeste nuwe gevalle steeds in Gauteng aangeteken is. Tot dusver het 1 845 038 mense van die virus herstel terwyl 62 628 mense dood is.

Altesaam 3 631 102 mense in Suid-Afrika is tot dusver teen Covid-19 ingeënt.

Suid-Afrika is tans op vlak 4 met verskerpte afsonderingsmaatreëls in ’n poging om die derde vlaag Covid-19-infeksies te stuit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter ·

Almal wil nie meer in “lockdown” leef nie. Niemand wil meer maskers dra nie. Steeds is daar mense onnosel genoeg om nie die entstof te wil kry nie. Ongeag of jy nou vir of teen die entstof is, gaan die land in lockdown bly tot daar nie kudde immuuniteit is nie. So as jy nie die entstof wil ontvang nie, dan moet jy ook nie kla dat ons langer aangaan soos wat ons aangaan nie.

Agge nee ·

As julle nie die Beheerliggaam onderwysers, admin & steunpersoneel weggestuur het sodat julle kon sit en bolle rol by die inentings-stasie dan was ons lankal klaar. Die van ons wat nie direk vir die staat werk nie, wag nou nog om inge-ent te word. Dan spog die Limpopo dat hulle so goed gedoen het. Skande, as jy my vra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.